Showing posts with label Kersfees. Show all posts
Showing posts with label Kersfees. Show all posts

Sunday, 6 September 2026

Santa Shoeboks


Ons het weer 50 name vir die Santa Shoeboksprojek gekry.
KOM KRY VROEGTYDIG VIR JOU ‘N NAAM
& MAAK ‘N KINDJIE SE HARTJIE HIERDIE KERSFEES BLY.
OUDERDOMME: TUSSEN 06 MAANDE EN 12 JAAR.
AFSNYDATUM: 30 OKTOBER 2026

Sunday, 23 August 2026

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Ons het weer 50 name vir die Santa Shoeboksprojek gekry. 
KOM KRY VROEGTYDIG VIR JOU ‘N NAAM 
& MAAK ‘N KINDJIE SE HARTJIE HIERDIE KERSFEES BLY.
OUDERDOMME: TUSSEN 06 MAANDE EN 12 JAAR. 
AFSNYDATUM: 30 OKTOBER 2026

Sunday, 31 May 2026

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Ons het weer 50 name vir die Santa Shoeboksprojek gekry. 
KOM KRY VROEGTYDIG VIR JOU ‘N NAAM 
& MAAK ‘N KINDJIE SE HARTJIE HIERDIE KERSFEES BLY.
OUDERDOMME: TUSSEN 06 MAANDE EN 12 JAAR. 
AFSNYDATUM: 30 OKTOBER 2026

Friday, 26 December 2025

‘n Mooi Kersfeesverhaal

Verlede jaar, besluit Gert en Lien dat aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Gert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

'n Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

"Nou waar was julle toe?" wou ek nuuskierig weet.

"Noord-Kaap" sê Gert.

"Ek het nie geweet julle het familie daar nie?" vis ek verder uit.

"Nie gehad nie, maar nou het ons."

"Nou maar hoe werk dit?" hou ek vol.

"Jy't ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het," sê Gert.

"Maar jy weet mos. Ek dood oor 'n storie."

"Nou maar fyn. Sit terug en luister."

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van 'n storie.

"Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie 'n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

"'Nou maar dan moet jy woestyn toe,' sê sy toe half oprukkerig. 'Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees', en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.'

"Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

"'Ek weet' kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

"'Nou waar sal ons dan heengaan?' wou sy weet.

"Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

"Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis 'n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

"Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op 'n grondpad. Die grondpad word toe wel later 'n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe 'n koedoe of twee, drie en selfs 'n troppie gemsbokke. Deur plase en seker 'n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

"Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na 'n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar 'n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

"'Dis lekker hier', sê sy toe. 'Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.' Sy giggel avontuurlik.

"Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. 'Kyk hoe mooi is die sonsondergang' sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons 'n vreemde geluid hoor. So 'n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar 'n donkiekarretjie om die draai.

"'Ek sê vir die vrou ek moet loop kyk. Ek dink ek hoor iets,' sê die oompie op die bankie toe die karretjie langs ons tot stilstand kom.

"Ek draai om en kyk na die oompie. Rateltaai en voos gebrand deur die son sit hy daar.

"'Kom, meneer-hulle kan nie hier in die vlak slaap nie. Die vrou het al klaar julle kamer reggemaak.' Dis duidelik dat die oom nie nee vir 'n antwoord gaan vat nie.

"'Sal Oom omgee as ek saam met Oom ry? Ek het nog nooit op 'n donkiekarretjie gery nie,' vra Lien toe opgewonde.

"'Alte seker Mevrou. Wag ek help vir Mevrou,' sê die oom en help vir Lien tot op die bankie. Stadig kruie ons daar met die slingerpaadjie aan tot by die huisie. Lien waai vir my van die bankie af. Sy is so opgewonde soos 'n skoolkind.

"Die huisie is skoon en netjies op 'n eenvoudige manier. Die tante kom op die stoep uit toe ons stilhou.

"'Maar welkom hier by ons, Hennerik vat die meneer-hulle se goed en sit dit in die spaarkamer kom nader die ketel kook al,' sê die tante alles in een asem.

"Toe ons in die kombuis instap, ruik ek die geurig gekookte kos, en die brandende paraffienlamp op die wit geskropte tafel.

"'Kom ek wys vir Mevrou waar die badkamer is Mevrou wil seker eers bietjie hande en gesig was voor ek koffie skink.' Weer alles in een asem.

"Ek help die oompie om ons bagasie kamer toe te dra. 'Maar hoe is dit dat die tante die kamer so vinnig reggemaak het,' wil ek by die oompie weet.

'Nee, Meneer sien, die vrou maak elke jaar so 'n week voor Kersfees al die kamer reg. Maar ek sal later vir Meneer die storie vertel. Kom was eers hande en dan gaan drink ons koffie.'

"Later, toe ons aan tafel sit, merk ek dat die tante nie net vir twee gekook het nie. Dit lyk asof sy ons verwag het. 'Hoe is dit dan dat dit vir my lyk asof tante ons hier verwag het', vra ek nuuskierig.

"'Maar natuurlik het ek mense verwag die Liewe Heer stuur elke jaar vir ons mense vir Kersfees Hy het nog nie een jaar oorgeslaan vandat die kinders hier weg is stad toe nie ek het Hom so gevra en Hy het so gedoen.' Punte en kommas bestaan nie vir die tante nie. "'Hoe dan so, tante?' wil ek weet.

"'Nee meneer sien ons is eintlik afstammelinge van die Griekwas wat vroeër jare hier deurgetrek het en onse kinders het nooit die liefde vir die wêreld gehad soos ons dit het nie en jare terug het hulle besluit hulle is moeg vir die wêreld met sy hitte en droogtes en goed en op 'n dag het hulle net besluit om weg te trek en tot nou toe het ons nog nie weer 'n woord van hulle gehoor nie dis vanjaar al vyftien jaar dat hulle weg is.

'"Die tante skep asem. Die oom vat oor. 'Net voor die eerste Kersfees nadat die kinders hier weg is, sê ek vir die vrou, ek sê Ma, ek kan nie hierdie jaar Kersfees hou nie. Die kinders is weg en dis net ons twee en my hart is seer en sal net seerder word hier oor die Groot Dae. Wat gaan ons maak?'

"'Sy sê toe, Hennerik, moet nou nie daaroor wakker lê nie ek het reeds vir onse Hemelse Vader gevra om vir ons mense te stuur vir Kersfees more gaan ek die spaarkamer begin regmaak en jy moet kom hjelp.'

"'Dit was 'n week voor Kersfees. Die volgende dag het die stof gestaan soos die vrou alles begin regmaak het, en ek het angstig gehoop dat die Vader vir haar gehoor het en dat sy nie teleurgestel sal wees nie.'

"Die tante val in. 'Daardie eerste jaar het die mense gekom ook op Oukersdag net soos meneer-hulle ook geverdwaal ek het kant en klaar gekook gehad toe hulle hier aanland daar was 'n kleintjie ook by ek was so bly Hennerik het gesê die Here het ons nie alleen gelos nie.'

"Die eenvoud, geloof, vertroue en die opregtheid van die mense het my aangegryp," vertel Gert.

"Nadat ons geëet het, het die oompie die dankgebed gedoen en toe strammerig opgestaan. 'Sit julle net so. Ek gaan net die Bybel haal.'

"Toe die oom terug kom, gee hy vir my die Bybel aan.

"'Sal Meneer asseblief vir ons lees. Nie ek of die vrou het enige gelerendheid nie en al wanneer ons die Bybel uithaal is wanneer hier mense kom wat dan vir ons lees. Verder sê ek maar die stukkiekies op wat so met die jare saam in my kop vasgesteek het, of wat ek nog in die Sondagskool uit my kop moes geleer het. My pa-hulle het ons nie skool toe kon stuur nie, maar ons moes elke Sondag kerk toe gaan en daarna was dit Sondagskool.'

"Ek maak die Bybel oop. 'Wat moet ek vir oom-hulle lees?'

"'Lees vir ons asseblief die geboorteverhaal. Soos wat dit in Lukas staan.'

"'Ja, asseblief,' kom dit van die tante, 'dis baie mooier daar as in die ander boeke van die Bybel.'

"Terwyl ek rondblaai, kry ek die reuk van mottegif. Hier en daar is 'n foto'tjie tussen die blaaie gebêre. 
Ek begin lees.

"Die kombuis het amper 'n heilige plek geword. 'n Katedraal. Ek lees van Maria en die Kind. Van die stal en die krip. Van die herders en die wyse manne. Die stil toe ek die Boek toemaak.

"Die oom sit met sy hande in eerbied gevou. Deur die kombuisvenster het die volmaan groot en wit oor die kameeldorings gelê. Saggies begin die tante Stille Nag te sing. Haar oumensstem is krakerig, maar vir ons het dit die klank van 'n nagtegaal gehad. Dis asof van iewers af die engele saamgesing het. Die oom het met sy dreunstem ingeval en Lien kort na hom.

Ek het probeer, maar die knop in my keel was te groot. Ek kon net fluister. Ek het daar lief geword vir hierdie twee eenvoudige, maar opregte mense.

"'Ek wens daar was iets wat ons vir die twee oues kon doen,' sê ek later vir Lien toe ons in die bed lê.

"'Hulle het alles wat hulle nodig het,' sê Lien. 'Wêreldsgoed beteken vir hulle niks nie. As ons iets wil doen, moet ons bid en vra dat die Here hulle kinders sal laat terugkom.'
"Daar langs die bed het ons toe gekniel en vir die Here gevra om tog ook aan die oumense se hartseer te dink en hulle kinders te laat terugkom. Met 'n tevrede gemoed het ons die kers doodgeblaas en aan die slaap geraak.

"Die oumense was baie bly toe ons vra of ons 'n paar dae langer kan bly. Ons kon eenvoudig nie genoeg van hulle gasvryheid kry nie. Ons het saam met hulle lang ente met die donkiekarretjie in die veld gery, en dit was veral vir Lien baie lekker. Dit het my laat besef hoe leeg ons lewens regtig geword het. As ons kuiermense kry, dan vat ons hulle na een of ander Mall of 'n ding toe, maar hier is 'n rit op 'n donkiekar in die veld 'n sielelafenis.

"Oujaarsdag middag, toe ons terugkom van die veld af, sien ons die vreemde kar onder die kameeldoring staan.

"'Haai kyk pa ons het nog mense gekry is dit nou nie vir jou wonderlik nie?'

"Dis toe die figuur om die hoek van die huis kom dat die oom die teuels styf pluk. Die donkies het nog nie eers behoorlik stilgestaan nie, of die oom spring af en storm vooruit.

"'Hennerik! Hennerikkie my seun!' Die oom huil.

"'Pa!' roep die man van die hoek af. 'Pa!' Toe is hulle in mekaar se arms. Die pa en sy seun.

"Die tante kom ook by. 'Hennerik . . . Hennerikkiekie, is dit regtig jy, my kjind?' Die tante se vreugde ken geen perke nie. Hulle omhels mekaar.

"'Wag Ma, Pa, hier is nog mense.' Toe sien ons die ander mense wat om die hoek kom.

"'Freek!' roep die oom. 'Freek, ag my seun. Ek is so bly. Die Here is vir ons goed. En die ander? Wie is hulle?'

"'Pa, Ma, ontmoet ons vrouens en julle kleinkinders.'

"Toe het daar voor ons oë 'n ding gebeur wat in my geheue ingegraveer is en wat ek sal onthou tot die dag van my dood," sê Gert.

"Die oom sak daar op die warm kalaharisand op sy knieë neer en bid 'n dank- en lofgebed waarvan ek die gelyke nog nie gehoor het nie. Soos 'n Abraham van ouds. Op sy knieë met sy hande na bo uitgestrek.

"Ek en Lien het na mekaar gekyk. Trane het in Lien se oë geblink. Ons het op heilige grond gestaan. Ons gebed is verhoor. Die Here het vir ons gegee presiés wat ons van Hom gevra het."

(Bron: Internet - skrywer onbekend)

Thursday, 25 December 2025

Kerswense vir 2025

Mag jy altyd in die wonder van Kersfees glo ...

Mag jou mooi hart in hierdie Feestyd iemand anders se hart aanraak en ‘n afdruk van Jesus se liefde, vrede en vreugde daar los. 
Mag jou Christusfees een wees van vrede en die dag die mooiste herinneringe sal laat vir jou skatkis van die lewe, want ‘n Koning en Verlosser is vir ons gebore, en Sy naam is Jesus. en mag jy in hierdie Feesseisoen besef dat God se planne vir jou, soveel groter is as jou drome vir jouself.

Sunday, 21 December 2025

Dis die laaste naweek voor Kersfees en my se wense vir jou is ...

Mag die wind slegs jou hare deurmekaar woel, 
maar nie jou gees omkrap nie.
Mag die son jou nie skroei nie, 
maar slegs warmte skenk, ook in jou hart.
As die reën op jou val, voel geseënd
As jy guns en gawes ontvang, 
neem dit met dankbaarheid en nederigheid.
As jy vriendskap ervaar, 
koester dit.
As jy liefde ervaar, 
troetel dit.
Mag jou bekers van geloof, hoop en liefde altyd gevul bly.
Mag die geskenke en lesse wat jy van die lewe ontvang, 
groter wees as dié wat met geld gekoop kan word.
Mag jy altyd bewus wees van die kosbaarheid
en kortstondigheid van tyd.
Mag jy veilig loop en ry op die paaie waar jy gaan.
Mag jou opdraandes nie te steil wees nie, 
en mag jou 'bagasie' nie te swaar word nie.
Mag die lewe jou met n sagte hand aanraak.
Mag jy altyd 'n bewustheid, empatie en begrip hê
vir en van die omstandighede van ander.
Mag jy vroegdag opstaan en saans gaan slaap
met 'n hart vol dankbaarheid.
Mag jy die ware Christus-vrede ervaar.

[Dankie, Wilna, dat jy dit met ons lesers deel.]

Thursday, 11 December 2025

Dink hieroor: Jou denke

Ons lewenskwaliteit en suksesse wat ons in die lewe behaal, word deur ons denke oor ons omstandighede bepaal. Dit is ons DENKE wat ons motiveer of demotiveer om iets te doen, betrokke te raak of om te onttrek. 

Ons moet daagliks doelbewus daaraan werk om hierdie hierdie kritieke waarheid te kan toepas, maar belangriker nog is dat ons dit vir ons kinders moet leer.

Die manier HOE jy dink, bepaal ook HOE jy na jou omstandighede kyk en daarom is dit een van die  belangrikste opvoedingstake wat ons het. Goeie karatereienskappe is 'n groter geskenk as modeklere en moderne speelgoed. Rus jou kind toe met eienskappe wat hom of haar deur hul lewe kan dra.

Dit is dus ons DENKE oor ons omstandighede wat ons suksesse bepaal.

Sit en gesels met jou kind en stel vas hoe hulle oor sekere aspekte van die lewe voel en jy sal maklik kan vasstel watter karaktereienskappe kort 'n bietjie aandag en watter onsekerhede is reeds uit die weg geruim.

Onthou, jy lê die fondasie vir jou kinders se lewenskwaliteit. Dink daaroor hierdie Kersfees as jy met die duur onnodige speelgoed in jou hand staan. Gaan hierdie speelgoed wat ek op my kredietkaart gaan koop, bydra tot my kind se mensweessuksesse of sus ek my ouergewete?? 

Thursday, 4 December 2025

Dink hieroor: Wat beplan jy vir Desember?

Wat is op jou agenda vir die feestyd
'n Vakansie by die see, 
kuier tot jy lê, 
duur geskenke vir mekaar?

Wat van vergifnis, omgee en liefde? 
Is dit nie tyd om jou ouers of kinders te vergewe nie?
Dalk 'n oproep om te sê: "Mamma, ek is lief vir jou, no matter what!"
Kom ons begrawe die verlede, 
dit kan in elk geval nie verander word nie.
Kyk vorentoe en maak 'n hartsverskil.

Die lewe is bitter kort, 
daar's nie tyd om kwaad te bly, 
en kwaad te lewe nie ... 
Môre is dalk te laat!

Ons kan nie verwag om die Hemel ons ewige tuiste te maak,
as ons nie kan vergewe nie ...
as ons die  wrok in ons hart vertroetel en lewend hou.
Neem JY die eerste tree en wees die minste.

As God kan vergewe, 
hoekom kan ons nie?
As 'n kind van die Here, 
weet ons wat reg is.
Onthou, tyd staan nie stil nie ...

[Aangestuur]

Sunday, 30 November 2025

Kerslied: Somerkersfees

1. Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die verlede
Oor sterrevelde ruis.

2. Hoor jy hoe sag die klokke beierin eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.

3. Voel jy ook nou Sy warm liefde
As ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het –
Ons grootste Kersgeskenk.

KOOR
Kersfees kom, Kersfees kom -
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

* Die eerste twee verse is deur Koos du Plessis (1945-1984)) geskryf in 1971 en die derde deur Jannie du Toit in 2001.

[Klik HIER om na 'n video te kyk. Bron: HIER ]

Thursday, 27 November 2025

Dink hieroor: Waar begin my Kersfeesvoorbereidings?

Almal is besig met voorbereiding vir Kersfees. Die winkels se rakke is swaar gelaai met al die Kersfeesartikels. Jingle Bells gaan nog 'n paar 100 keer die publiek oor die winkelluidsprekers aanmoedig om te koop, want Kersfees is oor 4 weke en verlede jaar se verkope moet verbeter word.

Hoe lyk my voorbereidings vir Kersfees?? Begin ek by die ...
* Kersboom?
* koop van geskenke vir vriende en familie?
* bak van kleinkoekies of 'n groot vrugtekoek?
* regmaak vir die groot uittog see toe of om die kamptoerusting reg te kry?
* skoonmaak en regpak van kaste voordat die kuiermense kom?
* hartsake wat agterweë gebly het gedurende 2025?

Kersfees verkondig juis die boodskap van liefde - en om eerlik en met my hele hart uit te reik en die boodskap van liefde aan ander te verkondig, moet ek my hart skoonmaak en regpak van al die slegte dinge wat in 2025 in my hart opgehoop het. Die woede, teleurstellings, vermakerigheid, ongeduld, jaloesie, onvergewensgesindheid, belangrikheid, al die dinge wat tussen my en 'n geseënde Kersfees staan. God het ons in sy groot genade al ons skuld deur Christus vergewe. Gaan ek nie dieselfde vir my medemens doen nie?

Laat ons hierdie Kersfees voor die Krip staan met 'n voorbereide hart, een wat reggepak en skoongemaak is. 

Sunday, 23 November 2025

Kersvader besoek Sally Aucamp

2025 se Kerspartytjie was 'n onthou-hoogtepunt vir die inwoners van Sally Aucamp. Kersvader het 'n heerlike kuier in sy baie besige program ingeruim. Hy het daar opgedaag met 'n sak vol geskenke vir almal wat gedurende die jaar soet was. Dit was egter nie al presente wat hulle gekry het nie. Die inwoners het letterlik hul hande vol gehad met die verrassingspakkies. Die oggend is ingekleur met sang, baie lag, verrassings, vrolike geselsies en 'n tafel wat gekreun het onder al die eetgoed. Daar was besoekers en vrywilligers wat die oggend saam met die inwoners geniet het. Daar het 'n gees van welwillendheid en samehorigheid geheers.

Dankie aan elkeen wat Saterdag só spesiaal gemaak het. Dankie vir die vrywilligers wat dwarsdeur die jaar Sally Aucamp-besoekies en -kuiers op hul te doenlysie gehad het. Dankie matrone Elize Cilliers en haar personeel vir die ekstra myle wat julle gedurende hierdie jaar geloop het.


Foto's: Rina Groenewald

Thursday, 16 October 2025

Kerssangdiens 2025


KOM ONS LOOF DIE JESUSKIND

WANNEER: 30 November 2025 
TYD: 17:30 vir 18:00
WAAR: By NG Kerk Dutoitspan

Kom vroeg en bring die bure, vriende en familie saam!!
Heerlike vrugteslaai en roomys na die diens!

Wednesday, 30 July 2025

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek


Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
BEGIN VROEGTYDIG
Daar is 20 spesiale name by die kerkkantoor.
Kontak die kantoor om jou naam te kry!!

Wednesday, 2 July 2025

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek


Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
Daar is 43 spesiale name by die kerkkantoor.
Kontak die kantoor om jou naam te kry!!

Wednesday, 11 June 2025

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
Daar is 43 spesiale name by die kerkkantoor.
Kontak die kantoor om jou naam te kry!!

Wednesday, 25 December 2024

Sunday, 22 December 2024