Showing posts with label Voorbeeld. Show all posts
Showing posts with label Voorbeeld. Show all posts

Friday, 30 May 2025

Die Vrede en Liefde van God is met julle

Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee. My juk is sag en My las is lig (Mat.11:25-30 ). 
Jesus wil die swaar jukke, bekommernisse en laste wat ons dra, van ons afhaal. In die plek daarvan wil Hy ons herstel tot die mens wat Hy vanaf die begin beplan het dat ons moet wees. Vir dit om te gebeur, moet sekere vleeslike werke in ons lewe sterwe en plek maak vir die geestelike vrugte. 
Ongelukkig sal ons solank ons op aarde is, altyd 'n stryd voer tussen die Gees en vlees wat albei in ons woon ( Gal.5:16 ev.) Die keuse van wie in ons gaan heers, berus by ons. Heiligmaking is wanneer ons kies om 'n verandering in ons lewe te bring. Daarmee sal die Here ons help (Rom.12:2). Hy sal nooit teen ons keuse indruis nie. Ons het die ewige lewe gekies wat Hy vir ons aangebied het. Nou gaan ons verder en kies ook om die lewe te leef wat Hom behaag. Kortliks, ons kies wie ons God is en dien Hom, ons kan nie twee gode dien nie. Ons kies om goeie vrugte te dra (Joh.15).
Bid asseblief gereeld en getrou vir ons land en volk en ook by name vir ons regering. Die Here is lief vir ons. Kom ons dra ons liefde vir Hom elke dag net meer en meer uit. 
[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie gedagtes.]

Thursday, 24 October 2024

'n Paar skoene

'n Klein dogtertjie in Korea wat nog nooit iets anders as strooisandale aan haar voete gehad het nie, sou die gelukkigste dogtertjie in die hele dorp word. Sy sou 'n paar egte leerskoene kry! Haar oom by wie sy gebly het, het dit vir haar vir Kersfees belowe. Hoe het haar hartjie nie gesing van blydskap as sy Sondagskool toe draf nie. Een van die dae sou sy regte skoene hê vir Sondae. Sy kon nie meer wag vir Kersfees nie.

Maar daardie dag in die Sondagskool het die Bybelvrou vertel dat hulle die volgende Sondag 'n kollekte sou opneem om 'n Sondagskool en kindertuin vir die kindertjies in 'n naburige dorp te begin. Sy het gevra dat almal so 'n gulhartige offer soos moontlik moes bring. Die dogtertjie begin dink aan al die vreugde wat sy al uit die Sondagskool en kindertuin gekry het en o, sy wou so graag help om aan ander kindertjies ook daardie blydskap te besorg. Maar sy besit nou nie 'n pennie op haar naam nie en hoe kan sy dit nou help?   

Meteens dink sy aan haar nuwe skoene. Sy sal haar skoene gee. Sy hardloop huis toe so vinnig soos haar beentjies haar kan dra en vra vir haar oom of hy nie liewer die geld vir haar sal gee as die skoene nie. Sy het nie gesê waarvoor sy die geld wil hê nie, maar het so hard gepleit dat hy dit uiteindelik gegee het - 8 yen. Hoe bly was sy nie.

Die volgende Sondag is die kollekte opgeneem, maar dit was 'n geringe sommetjie wat ingekom het, want die Koreane is baie arm. Die Bybelvrou rek haar oë van verbasing toe die klein dogtertjie so 'n groot bedrag soos agt yen inhandig. Dit was meer geld as wat enige kind in die dorpie ooit besit het en haar gedagte was dat die dogtertjie dit gesteel het. Sy haal dit toe uit die kollektebordjie en neem dit terug na die dogtertjie se oom.

By hom het sy verneem hoe die dogtertjie aangehou het dat hy liewer die geld waarvoor hy vir haar skoene wou koop, vir haar moes gee, en dat sy dít in die kollektebordjie gesit het. Sy het haar skoene gegee.

Daardie week het die Bybelvrou by die huisbesoek in die dorpie vertel van die offer van die klein dogtertjie. Die volgende Sondag is daar weer kollekte opgeneem. Watter verskil!! Binnekort was daar genoeg om 'n evangelis na die naburige dorpie te stuur en ook vir hulle is 'n Sondagskool en 'n kindertuin begin.

In die ander dorpie was daar 'n gelukkige klein dogtertjie wat nog steeds met strooisandale Sondagskool toe draf. 

[Hierdie verhaal is meer as 50 jaar terug opgeteken, maar is vandag nog net so relevant soos toe.] 

Sunday, 20 February 2022

Die Kortste Preek

TEKS: “Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” 1 Sam 16: 7.

Sy naam is Billy. Hy het woesste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, denimbroeke en geen skoene nie. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die hele vier jaar op kollege. Hy is briljant en baie slim. Hy het ‘n gelowige geword terwyl hy op kollege was. In die straat oorkant die kollegekampus was die kerkgebou van ‘n baie netjiese en baie konserwatiewe gemeente. Hulle wou ‘n bediening begin vir die studente, maar het nie regtig geweet waar om te begin nie.

Een Sondag-oggend daag Billy by die kerk op: geklee in sy T-hemp, denim, ongeskeer, sy hare wat wild staan en kaalvoet. Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap opsoek na 'n plek om te sit, maar die kerk was stampvol en daar was nie ‘n enkele sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede het kriewelrig rondgeskuif en ander het ongemaklik onder mekaar gefluister.

Voor by die preekstoel besef Billy dat daar geen sitplek oop is nie, en hy maak homself toe op die mat voor die preekstoel tuis. Teen dié tyd was die gemeentelede alreeds erg opgetrek oor die situasie en die atmosfeer so dik dat jy dit amper met ‘n mes kon sny.

Juis toe merk die dominee dat een van sy gewese ouderlinge van heel agter in die kerk op pad is na Billy toe. Die oubaas was reeds in sy tagtigs, met silwergrys hare en soos altyd, netjies geklee in sy swart driestuk pak. Almal het hom geken as ‘n waardige Godvresende man.

Met sy kierie het hy statig en hoflik sy weg gebaan na die jongman voor die preekstoel. Die kerk was doodstil behalwe vir die getik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë was vasgenael op die oubaas en die gemeentelede het skaars asemgehaal, want hulle het geweet die oubaas loop nie draaie as dit by reg en verkeerd kom nie. Selfs die dominee het gespanne en in stilte gewag om te sien wat gaan gebeur.

Toe die oubaas uiteindelik die jongman bereik, het hy sy kierie laat val, en stadig en met groot moeite op die mat neergesak, sy skoene en kouse uitgetrek, Billie met ‘n kopknik gegroet en effe uitasem gefluister: “Nou is jy nie alleen nie.”

Die gemeente se emosies het voelbaar opgewel en hier en daar het een ‘n traan afgevee. Toe die predikant uiteindelik beheer oor sy eie emosies kry, het hy opgekyk en gesê: “Wat ek vandag oor wou preek, sal julle nie onthou nie. Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie. Ek gaan die diens nou afsluit met die seën se uitspreek."

Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees ...

Kom bid saam: Vader, help ons om met Jesus se sagte oë na mense te kyk en in elkeen ‘n kandidaat vir U koninkryk te sien. Amen.

[Dankie, ds. Ensie] 

Friday, 8 October 2021

Ek het amper u Seun vir 50c verkoop!

'n Paar jaar gelede het 'n predikant van die platteland 'n beroep na die stad aanvaar.

Een spesifieke dag moes hy per bus na die middestad gaan. Nadat hy vir sy kaartjie betaal het, en 'n sitplek gekry het, het hy gesien dat die busbestuurder hom 50c te veel kleingeld gegee het.

Hy het gewik en geweeg. Sal hy dit nou terug gee of nie? Dis net 50c! Hy het 'n bietjie daaroor nagedink en besluit om die 50c terug te gee.
 
Toe die bus stop, het hy vorentoe geloop en voordat hy uitklim die 50c vir die bestuurder teruggegee. Die bestuurder het opgekyk en gevra: "Is u nie die nuwe dominee van die platteland nie?"
"Ja" antwoord die dominee verbaas dat iemand hom hier sou ken.
Die busbestuurder sê toe: "Ek het die laaste ruk baie gewonder oor waar ek kerk toe moet gaan om te aanbid. Ek wou net sien wat u sou doen, as ek u te veel geld gee. Ek sien u Sondag"
 
Van die bus af, moes die predikant vir 'n oomblik aan die lamppaal vashou.
"O Here!" het hy uitgeroep.
"Ek het amper u Seun vir 50c verkoop!"
 
Ons lewens is dikwels die enigste Bybel wat mense ooit sal lees. Dis skrikwekkend om te weet hoe baie mense ons as Christene dophou en sonder dat ons weet, ons toets.
 
Wees dus altyd versigtig oor wat jy sê en wat jy doen. Onthou: jy dra die Naam van Jesus Christus op jou skouers as jy jouself 'n Christen noem!

[Dankie, ds. Ensie!]