TEKS: “Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” 1 Sam 16: 7.
Sy naam is Billy. Hy het woesste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, denimbroeke en geen skoene nie. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die hele vier jaar op kollege. Hy is briljant en baie slim. Hy het ‘n gelowige geword terwyl hy op kollege was. In die straat oorkant die kollegekampus was die kerkgebou van ‘n baie netjiese en baie konserwatiewe gemeente. Hulle wou ‘n bediening begin vir die studente, maar het nie regtig geweet waar om te begin nie.
Een Sondag-oggend daag Billy by die kerk op: geklee in sy T-hemp, denim, ongeskeer, sy hare wat wild staan en kaalvoet. Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap opsoek na 'n plek om te sit, maar die kerk was stampvol en daar was nie ‘n enkele sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede het kriewelrig rondgeskuif en ander het ongemaklik onder mekaar gefluister.
Voor by die preekstoel besef Billy dat daar geen sitplek oop is nie, en hy maak homself toe op die mat voor die preekstoel tuis. Teen dié tyd was die gemeentelede alreeds erg opgetrek oor die situasie en die atmosfeer so dik dat jy dit amper met ‘n mes kon sny.
Juis toe merk die dominee dat een van sy gewese ouderlinge van heel agter in die kerk op pad is na Billy toe. Die oubaas was reeds in sy tagtigs, met silwergrys hare en soos altyd, netjies geklee in sy swart driestuk pak. Almal het hom geken as ‘n waardige Godvresende man.
Met sy kierie het hy statig en hoflik sy weg gebaan na die jongman voor die preekstoel. Die kerk was doodstil behalwe vir die getik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë was vasgenael op die oubaas en die gemeentelede het skaars asemgehaal, want hulle het geweet die oubaas loop nie draaie as dit by reg en verkeerd kom nie. Selfs die dominee het gespanne en in stilte gewag om te sien wat gaan gebeur.
Toe die oubaas uiteindelik die jongman bereik, het hy sy kierie laat val, en stadig en met groot moeite op die mat neergesak, sy skoene en kouse uitgetrek, Billie met ‘n kopknik gegroet en effe uitasem gefluister: “Nou is jy nie alleen nie.”
Die gemeente se emosies het voelbaar opgewel en hier en daar het een ‘n traan afgevee. Toe die predikant uiteindelik beheer oor sy eie emosies kry, het hy opgekyk en gesê: “Wat ek vandag oor wou preek, sal julle nie onthou nie. Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie. Ek gaan die diens nou afsluit met die seën se uitspreek."
Wees versigtig hoe jy leef. Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees ...
Kom bid saam: Vader, help ons om met Jesus se sagte oë na mense te kyk en in elkeen ‘n kandidaat vir U koninkryk te sien. Amen.
[Dankie, ds. Ensie]