Thursday 17 February 2022

Een Storie ... Twee Perspektiewe

TEKS: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy.” Spr 23: 7.

‘n Bekende skrywer het by sy lessenaar gaan sit, sy pen opgetel en begin skrywe:

“Verlede jaar ... Ek het ‘n galblaasoperasie gehad om galstene te verwyder. 
Ek was lank in die bed ...
Dieselfde jaar het ek aftree-ouderdom bereik
en ek moes die maatskappy waarvoor ek so lief was, en 35 jaar lank voor gewerk het, verlaat ...
Daardie selfde jaar is my moeder deur die dood van my af weggeskeur ...
En toe ... steeds dieselfde jaar, druip my seun sy finale mediese eksamen as gevolg van ‘n motor-ongeluk.
Die herstelkkoste aan die motor was net die hoogtepunt van ‘n baie slegte jaar ...”
En toe aan die einde van sy klaagtoon, skryf hy: “Wat ‘n slegte jaar!”

Sy vrou stap die studeerkamer binne waar haar man bedroef en teneergedruk sit. Oor sy skouer lees sy stadig haar man se skrywe. Dan draai sy saggies om en verlaat die kamer. Vyftien minute later kom sy terug en plaas ‘n stukkie papier voor haar man neer met die volgende daarop geskrywe:

“Verlede jaar ... het my man uiteindelik dit reggekry om van sy galstene, wat hom vir jare soveel maagpyn veroorsaak het, ontslae te raak ...
Dieselfde jaar ... Ek is dankbaar dat my man in goeie gesondheid en gelukkig kon aftree. 
Ek dank die Here dat die Here hom die geleentheid gebied het om vir 35 jaar te kon werk en verdien om sy gesin te onderhou.
Nou kan my man meer tyd aan sy skryfwerk, wat altyd sy stokperdjie was, spandeer.
In dieselfde jaar het my 95-jarige ou skoonmoeder sonder pyn stil heengegaan.
En steeds dieselfde jaar ... God het my seun gespaar na ‘n ernstige motorongeluk ... 
Ons kar was sleg deur die ongeluk beskadig, maar my seun het sonder enige nagevolge oorleef.”
In haar laaste sin skryf sy: “ Verlede jaar ... was ‘n jaar vol buitegewone seëninge van God ... en ons het dit vol verwondering en dankbaarheid beleef...”

Uit watter perspektief sien jy die lewe? Uit selfbejammering of uit dankbaarheid?
Abraham Lincoln het gesê: “ Ons kan kla omdat roosbosse dorings het, of ons verheug dat doringbosse rose het.”

‘n Gospel-liedjie lui: “Count your blessings, name them one by one ... and it will surprise you what the Lord has done.”

Dankbaarheid is ‘n ingesteldheid, ‘n lewenstyl. Sien die klein dingetjies raak en moenie dit as vanselfsprekend aanneem nie.

Amore Bekker, die bekende radio-omroepster skryf:
“Klein, alledaagse vreugdetjies soos die son op jou gesig, die wind deur jou hare, ’n teksvers wat direk met jou praat, ’n vinkie se borrelliedjie in die tuin, jou man se goeiemôre-soen, jou kleinkinders se arms om jou nek, die reuk van jasmyn, ’n louwarm brood, die eerste koppie koffie soggens ... Ek sal sommer op die oomblik my hele boek kan vol skryf!

Selfs wanneer dit vir jou voel asof jy nie ’n enkele rede kan opnoem waarom jy vandag dankbaar behoort te wees nie, kan jy dankbaar wees vir Jesus. Dit is immers die boodskap van God se liefde vir jou wat Hy op aarde kom aflewer het, wat inhoud gee aan ons dankies. Ons het so baie - en elkeen van daardie dinge wat ons het, het ons van God ontvang. Kom ons onthou elke oomblik om vir Hom dankie te sê, want dankbare mense vind dit baie moeilik om moedeloos te bly.”

Kom bid saam: Hemelse Vader, help ons om ons oë van onsself af weg te draai en in dankbaarheid te kyk na al die mooi en goeie dinge waarmee U ons elke dag seën. Amen. 

[Dankie,ds. Ensie, dat jy hierdie met ons deel.]