Tuesday 22 February 2022

God Werk Op Sy Manier

🔹Dr Abrahams was 'n beroemde kankerspesialis. Hy is genooi na 'n konferensie in New York waar hy die hoofspreker sou wees, en ook n toekenning sou ontvang vir sy navorsing oor kanker.

🔹 Hy was baie opgewonde oor die toekenning en het betyds op die vliegtuig geklim. Twee ure na opgestyging, het die loods aangekondig dat hulle 'n noodlanding moet doen op die volgende lughawe. Die vliegtuig het 'n tegniese probleem ontwikkel.

🔹Uit vrees dat hy te laat in New York sou aankom, het hy dadelik by ontvangs navraag gedoen oor 'n ander vlug. Ongelukkig sou hy 10 ure moes wag vir die volgende vlug New York toe. Hy besluit om 'n motor te huur om vinniger daar te kom.

🔹Pas na hy begin ry het, het die weer verander en 'n geweldige storm het losgebars. Reën het in vlae neergestort en hy het die afrit gemis. Vir ure aaneen het hy net gery.

🔹Nêrens was enige rigtingaanwysers nie, en die reën het al harder geword. Dit het vir hom gevoel asof hy honderde kilometers van die beskawing af was. Hy het deur 'n klein plekkie gery en 'n klein huisie gesien. Hy besluit om daar navraag te doen oor die rigting. Hy was teen hierdie tyd baie moeg en honger en sopnat. Hy klop aan en 'n pragtige vroutjie maak oop. Hy vra of hy net asseblief haar telefoon kon gebruik. "Jammer," sê sy, "ek het nie 'n telefoon nie, maar kom in en bly tot die storm bedaar het." Hy was só moeg en honger dat hy haar offer aanvaar het.

🔹Sy het hom genooi om saam met haar te dank vir die maaltyd en hy sê toe nee, hy glo in harde werk, nie in gebed nie. Terwyl hy by die tafel sit en tee drink, sien hy haar vir die soveelste keer na die hoek gaan waar 'n kindjie op 'n bed lê. Hy wonder toe of die kind siek is, en hy dalk mediese hulp kon verleen in ruil vir haar gasvryheid. Dr Abrahams vra haar toe wat is verkeerd met haar kind.

🔹Sy verduidelik toe haar seun het kanker, en hulle het gehoor van 'n kankerdokter wat hom sou kon help. Sy kon egter nie die konsultasiefooi bekostig nie . Sy sê die Here weet van die probleem en dat Hy op Sy manier vir haar 'n weg sou oopmaak om die beroemde spesialis, Dr Abrahams, te sien. Sy voeg by dat sy weet God sal haar gebed antwoord en sy sal nie toelaat dat haar vrese haar geloof oorskadu nie.

🔹Stom geslaan het dr. Abrahams die vroutjie aangestaar en groot warm trane het oor sy wange gestroom. Al wat hy stotterend kon uitkry was: "GOD LEEF! GOD IS GROOT!" Hy vertel haar wat alles verkeerd gegaan het met sy vlug en die storm en die verkeerde pad sodat hy eindelik besluit het om stil te hou en ringting te vra.

🔹Hierdie beroemde dokter wat so vol van sy eie belangrikheid en kennis was, moes die knie buig voor 'n arm, bekommerde moeder se geloofslewe. God het hom op 'n lang ompad gebring in antwoord op 'n arm moeder se gebed.

🔹 God antwoord nie gebede soos ons aan Hom voorskryf nie. 

♥️Hy werk op sy eie manier. 
♥️Hy sorg vir n vliegtuig se noodlanding. 
♥️Hy beveel die elemente om 'n padaanwyser te verberg. 
♥️Hy sorg dat honger en dors en moegheid die regte persone by die regte plekke laat uitkom.

Hou vas, al voel dit asof Hy laat is, dan sal Hy nog steeds betyds wees om jou gebed te antwoord. AMEN. 

[Geleen by Maggie Myburg - dankie ds. Ensie]