Showing posts with label Armoede. Show all posts
Showing posts with label Armoede. Show all posts

Friday, 19 June 2026

Goeie Nuus Nuusbrief: Hier is die moeilike antwoord

Swaarkry is aan die orde van die dag in ons land. Dit wemel van armoede. Brandstofpryse het die hoogte ingeskiet. Kospryse raak buitensporig. Dag na dag hoor jy van mense wat hulle werk verloor, en van ander wat nie genoeg geld het om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien nie. Hoe gemaak wanneer sulke mense aan jou deur kom klop? Jy kan tog nie almal help nie, maar jy weet ook jy moet sommiges help.

So, wie help jy? 

Ek wens daar was ‘n maklike antwoord op hierdie vraag. Daar is nie, maar daar is wel ’n moeilike antwoord. 

Hier is dit: help wanneer jy kan en help waar jy kan!

Jy kan nie almal se laste dra nie, maar jy kan wel een of twee mense s’n op jou skouers tel. 

Nee wag, jy moet. 

Galasiërs 6:2 sê: “Laai mekaar se swaarkry en seerkry op julle skouers. So leef julle volgens die wet, wat Christus vir julle gegee het.” (NNT) 

Jy kan nie die wêreld verander nie, maar jy kan een of twee persone s’n deur ‘n gebed, ‘n bord kos, ‘n besoek, of ’n ander daad van ontferming verskuif. Jy kan nie vir almal in die wêreld bid nie, maar jy kan volhardend vir ‘n paar persone bid wat die Here op jou radarskerm geplaas het. Jy kan nie alle armes versorg nie, maar jy kan seker maak dat een of twee mense nie met leë hande van jou af wegstap nie. 

* Doen dit getrou. 
* Leef mededeelsaam. 
* Leef vrygewig, soos wat die Here van jou vra.

[Stephan Joubert]

Dankie, Brahm, wat hierdie gedeelte aangestuur het. Hierdie stuk sluit Sondag aan by die Gelykenis van Petrus.

Tuesday, 10 September 2024

Dink hieroor: Ek glo nie in tandartse nie ...

'n Meisie besoek die tandarts en hy sê vir haar die prosedure is voltooi. 
Sy antwoord: "Yes, thank God for that."
Die tandarts vra vir haar: "Wie in vandag se tyd, glo nog in God?"
Sy antwoord: "Ek glo in Hom."
Die tandarts sê: "Sien jy nie wat in die wêreld aangaan nie - hoe kan daar 'n God wees, terwyl daar soveel armoede, rampe, hartseer en ellende is?"
Die meisie kyk na hom en sê: "Wel, ek glo nie in tandartse nie!! As daar werklik tandartse was, hoekom is daar so baie mense met stukkende, gevlekte of bederfde tande?"
Die tandarts antwoord dadelik: "Wel, ek kan nie mense help wat nie na my toe kom nie."
Die meisie "boul" hom toe uit deur te sê: "Dit werk presies dieselfde met God. Hy kan jou nie help as jy nie bereid is om na Hom toe te kom en met Hom te praat nie.

[Dankie, Valerie, vir die aanstuur.]