Showing posts with label Skoene. Show all posts
Showing posts with label Skoene. Show all posts

Thursday, 21 May 2026

Ek is bereid om in jou skoene te loop

Dr. Elsje Büchner: "Ware omgee vra dat ek en jy bereid sal wees om in iemand se skoene te loop. Jy moet bereid wees om te voel wat hulle voel. Omgee beteken dat jy sal seker maak wat vir die ander persoon belangrik is, hoekom hulle sekere dinge vra en sê. Dit is presies wat Jesus gedoen het en wat God van ons vra. Hy het saam met die eenkant mense gaan sit en na hulle geluister, gehoor wat regtig vir hulle saakmaak en wat hulle seermaak. Hy het die krete van armes en eenkant mense gehoor. Hy het in hulle skoene geloop. Hy het selfs sy dissipels se voete gewas.  
 
Jy moet 'n fyn oog en oor ontwikkel vir ander se lag en huil sodat jy saam in hulle skoene kan gaan staan en die pad saam met hulle stap."

[Bron: Plus 50 * Oktober/November 2025]

Friday, 26 September 2025

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog eenkeer reggetrek en toe vertrek. Ek het net betyds by die kerk bank ingeskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog n paar skoene sien wat langs my ingeskuif het.
 
Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te sit dat ons skoene aan mekaar geraak het? Ek het my oë gesluit ... ONSE Vader ... toe onthou ek dat die Here ook sy vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoonmaak nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog 'n gat aan die kant van die skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... DANKIE VIR U SEËNINGE het die gebed aangegaan. "Amen" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne.

Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerk deure instap. Wel sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin. Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.
En toe kom die tyd vir die offergawe. Ek het n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gekrap ... eers die een en toe die ander een en diep onder in die sak is sy bydrae uitgehaal en met 'n helder geklink het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.
 
Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk maar hy het so 'n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees dit het my tot in my siel verveel, tot ek na die skoene langs my se gesig gekyk het.

Groot trane het by sy wange ofgerol ... Hy het met diep aandag geluister ... en ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was so besig met die skoene en die oordeel in my hart dat ek die seëning van die Woord totaal en al gemis het. Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek, ek het gewonder waarom ek dan nog so leeg gevoel het.

Toe besef ek; ek het nie soos die skoene langs my gekom met 'n verwagting nie ... daarom het ek niks ontvang nie en sy beker loop oor. Golwe skuldgevoel het oor my gespoel en ek het geweet die stukkende skoene het my vandag 'n baie duur les geleer.

Dit was ons gewoonte om altyd na die diens vreemdelinge te laat welkom voel, en na die slot gebed het ek my hand na die skoene uitgesteek.
 
Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en weer en die hand wat myne vasvat was vol eelte.
Die skoene het na my gekyk en gesê: My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet. Sy oë was vol hartseer en pyn.

Ek kom al 'n paar maande hier maar jy is die eerste om my te groet. Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk, en ek politoer gereeld my skoene maar die lang stap hierheen op die stof pad laat dit altyd weer vuil en vol stof.

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê sou my woorde leeg en blikkerig klink teenoor die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereelte hand gedruk en toe met trane bely: Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie.
Dankie dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het. Dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing, om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom sodat ek vol en tevrede kan uitstap.

(Internet: Skrywer onbekend)

Thursday, 24 October 2024

'n Paar skoene

'n Klein dogtertjie in Korea wat nog nooit iets anders as strooisandale aan haar voete gehad het nie, sou die gelukkigste dogtertjie in die hele dorp word. Sy sou 'n paar egte leerskoene kry! Haar oom by wie sy gebly het, het dit vir haar vir Kersfees belowe. Hoe het haar hartjie nie gesing van blydskap as sy Sondagskool toe draf nie. Een van die dae sou sy regte skoene hê vir Sondae. Sy kon nie meer wag vir Kersfees nie.

Maar daardie dag in die Sondagskool het die Bybelvrou vertel dat hulle die volgende Sondag 'n kollekte sou opneem om 'n Sondagskool en kindertuin vir die kindertjies in 'n naburige dorp te begin. Sy het gevra dat almal so 'n gulhartige offer soos moontlik moes bring. Die dogtertjie begin dink aan al die vreugde wat sy al uit die Sondagskool en kindertuin gekry het en o, sy wou so graag help om aan ander kindertjies ook daardie blydskap te besorg. Maar sy besit nou nie 'n pennie op haar naam nie en hoe kan sy dit nou help?   

Meteens dink sy aan haar nuwe skoene. Sy sal haar skoene gee. Sy hardloop huis toe so vinnig soos haar beentjies haar kan dra en vra vir haar oom of hy nie liewer die geld vir haar sal gee as die skoene nie. Sy het nie gesê waarvoor sy die geld wil hê nie, maar het so hard gepleit dat hy dit uiteindelik gegee het - 8 yen. Hoe bly was sy nie.

Die volgende Sondag is die kollekte opgeneem, maar dit was 'n geringe sommetjie wat ingekom het, want die Koreane is baie arm. Die Bybelvrou rek haar oë van verbasing toe die klein dogtertjie so 'n groot bedrag soos agt yen inhandig. Dit was meer geld as wat enige kind in die dorpie ooit besit het en haar gedagte was dat die dogtertjie dit gesteel het. Sy haal dit toe uit die kollektebordjie en neem dit terug na die dogtertjie se oom.

By hom het sy verneem hoe die dogtertjie aangehou het dat hy liewer die geld waarvoor hy vir haar skoene wou koop, vir haar moes gee, en dat sy dít in die kollektebordjie gesit het. Sy het haar skoene gegee.

Daardie week het die Bybelvrou by die huisbesoek in die dorpie vertel van die offer van die klein dogtertjie. Die volgende Sondag is daar weer kollekte opgeneem. Watter verskil!! Binnekort was daar genoeg om 'n evangelis na die naburige dorpie te stuur en ook vir hulle is 'n Sondagskool en 'n kindertuin begin.

In die ander dorpie was daar 'n gelukkige klein dogtertjie wat nog steeds met strooisandale Sondagskool toe draf. 

[Hierdie verhaal is meer as 50 jaar terug opgeteken, maar is vandag nog net so relevant soos toe.] 

Wednesday, 2 October 2019

Tuesday, 1 November 2016