Showing posts with label Anna van Wyk. Show all posts
Showing posts with label Anna van Wyk. Show all posts

Friday, 6 June 2025

Terugblik: Agter die opruimingsgordyn

Vandag se terugflits gaan nie jare terug in die geskiedenis nie, maar slegs 'n week terug. Alles wat met soveel sorg en beplanning vir die basaar uitgepak is, moet natuurlik opgeruim en weggepak word en dit gebeur gewoonlik so stil-stil met slegs 'n handjievol mense wat help.

Aan hierdie stille werkers agter die opruimingsgordyn,
'n opregte hartsdankie!! 

Friday, 6 December 2024

Ontmoet ons personeel: Anna van Wyk


Anna van Wyk, lidmaat van die gemeente vir meer as 20 jaar, is die afgelope 7 jaar Dutoitspan se koster.

Anna is gebore en getoë in Cradock. Sy het later die Oos-Kaap verruil vir die Noord-Kaap - 'n landstreek wat bekend is vir sy vriendelike mense en hartsmense. Sy is 'n Kimberliet sedert 1995 en op 17 Januarie 2000 haak sy en Maans die knoop deur. 

Anna is 'n familiemens en haar grootste vreugde is om elke oggend vir haar kind môre te kan sê en hom te sien - 'n voorreg wat baie ouers nie het nie. Daar is soveel ouers wat elke dag met die wete wakker word dat hulle kinders en kleinkinders oorsee is en die realiteit is dat hulle mekaar net een maal 'n jaar of drie sien. 

'Hier is n paar algemene vrae om die mens agter die kosterwerk beter te leer ken:

Vraag: Watter gedeelte in die Bybel spreek direk tot jou hart?
Anna: Psalm 23 is my groot gunsteling.

Vraag: Watter kossoort staan heel boaan jou lysie van gunstelinge?
Anna: Met lasagne kan jy my onder 'n wip vang.

Vraag: Watter karaktereienskap in mense is vir jou onaanvaarbaar en kan jy nie mee vrede maak nie?
Anna: Mense wat oneerlik is en wat vir jou in jou oë kyk, terwyl hulle vir jou jok.

Vraag: Wat is jou gunstelingkleur?
Anna: Ek hou van swart.

Vraag: Wat is jou stokperdjie?
Anna: Ek is baie lief vir naaldwerk en het klere gemaak voordat ek met die kosterwerk begin het. Ek was agt jaar oud toe ek my eerste rok gemaak het - natuurlik vir myself. Van daardie dag af  het ek besef dat 'n mens vlerke aan jou drome kan gee met naald en gare. My tannie het vir my die naaldwerkdeur oopgemaak. Nou is daar nie meer so baie vrye tyd beskikbaar vir hierdie passie in my lewe nie. 

Vraag: Lees jy graag en wat is jou gunsteling genre?
Anna: Ek hou van romanse - die ou mense het altyd van liefdesverhale gepraat. Daar is só baie moeilikheid en swaarkry in die lewe, dat hierdie genre 'n teenvoeter bied teen die swaar waarvan ons elke dag in die koerante lees en oor die TV hoor. Met elke storie word die leser bederf met hoop en verwagting. 'n Mens lees die boek met die verwagting en die hoop dat alle probleme wat die karakters beleef, oorkom en opgelos sal word. Anders as in die regte lewe waar probleme so dikwels tot mense se ondergang lei.  

Vraag: Watter tipe musiek roer jou hartsnare?
Anna: Ek hou van country musiek en Don Williams se musiek is my groot gunsteling.

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk?
Anna: Om ander te kan help.

Vraag: Die wêreld soos dit vandag daar uitsien, is goed deurmekaar. Watter gedagte wil jy by die leser los wat hierdie gesprek gelees het?
Anna: Ons as mens, kan nie sonder God lewe nie en dit moet ons doel wees om elke dag nader en nader aan Hom te probeer leef.  

'n Vinnige voëlvlug oor die mens wat die kosterspos beman en wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop.

Friday, 29 November 2024

Mandjie Hoop: Dringende rus nodig

Al die krisisse van die laaste tyd,
het jou liggaam siel en gees uitgeput.
Totaal gedreineer.
Dis nie net jou liggaam wat moeg is nie.
Jou siel is moeg.
Jou kop is moeg.
En jou hart.
Soms voel jy net niks.
Dood.
Koud.
Afgestomp.
Maar Ek sal jou weer optel en opbou, sê die Here.
Ek sal vir jou rus gee.
Ware rus.
My rus.Bonatuurlike rus.
Jou gedagtes sal stil raak.
Die storm sal bedaar.
Jy sal kalmte en rus vind in my sterk arms.
Nuwe energie.
Nuwe hoop.
Genesing vir jou emosionele wonde.
Nuwe geloof.

[Dankie, Anna.]

Tuesday, 4 June 2024

Personeelete by Mowhawk Spur


Op die foto van links na regs: Amelia Kock, Joe Frederics, ds. Ensie, Jannie Stroebel, Sarie le Roux, Elsa Minne en Anna van Wyk. En hierdie was nie net 'n gewone ete nie, maar vir 57,1% van die personeel was dit hulle verjaardagete!! 

Sarie, Jannie, Joe en Amelia, 'n mooi geseënde nuwe lewensjaar - mag julle die guns van die Here in jul lewens ervaar. Alles wat mooi en lieflik is, word julle toegebid. Hoop julle het jul spesiale dag en ete geniet. (Filippense 4:6,7)

Foto: Elsa Minne