Showing posts with label Ma. Show all posts
Showing posts with label Ma. Show all posts

Sunday, 10 May 2026

Moedersdag: Gedig

Ma, toe ons klein was,
wou jy ons vashou op jou skoot
en jou liefde in ons oortjies fluister.
Maar ons het honde en maats
en sonlig buite gesien
en ons uit jou arms losgewikkel.

Nou kom ek terug soos die één melaatse
wat darem onthou het
voordat dit te laat was.
Ek het Ma lief, 
want ek wéét nou
die sonlig was nooit buite nie:
die sonlig was Ma. 

[Dankie, vir die deel, Ann]

Moedersdag: Liewe Ma

Jou voorbeeld het my lewe gevorm, Ma.
Jy het my geleer van 
     liefhê
          en omgee
              en aanhou gee.
Jy is my inspirasie.
Jy het my leer droom.
Jy is altyd daar vir my -
en ek sal jou altyd liefhê.

Ma, jy het my geleer ...
Om te lag; 
       dis medisyne vir die hart.
Om 'n storie goed te vertel;
       dis soos sonskyn in 'n donker vertrek.
Om vriendelike dinge van mense te sê;
       dit doen niemand kwaad nie.
Om sarkasme te vermy; 
       dit gee tog geen blywende bevrediging nie.
Om so min moontlik te kla;
       'n glimlag koop meer vriende as 'n frons.
Om my kritiek vir myself te hou;
       niemand wil dit in elk geval hê nie.
Om die beste in ander raak te sien;
       dit maak die wêreld soveel mooier
[Lord Langdale]     

Waar daar 'n ma in die huis is,
          loop dinge glad.
Sy ken my - beter as
      enigiemand anders.
Sy het my lief - meer as
      die meeste minnaars.
Sy lag nie as ek 'n fout
      maak nie, maar sy huil
      as ek seerkry.
Sy is so sterk soos 'n eik
      maar so buigsaam
      soos 'n wilg.
Sy het simpatie met my
      swakhede, maar luiheid
      en valsheid duld sy nie.
Sy is my ma - en ek het
      haar baie, baie lief.

Dankie, Ma, vir alles wat Ma vir my doen en beteken.         

Saturday, 10 August 2024

Kerkgenotjies: Stilte

'n Ma laai haar graad 1-dogtertjie by die skool op. Sy kan om die dood nie stilbly of stilsit nie.
Haar ma gee haar 'n vet hou en sê: "Nou sit jy stil en ek wil nie weer ‘n woord verder van jou hoor nie."
Na 'n lang ruk vra die dogtertjie of sy iets kan sê.
Haar ma sê: "Jy't mos gehoor wat ek vir jou gesê het, maar wat is dit?"
Dogtertjie sê: "Ek wil net vir ma sê ... vanaand sal Liewe Jesus hiervan hoor!"

Sunday, 12 May 2024

'n Ma se liefde is die grootste

'n Parodie op 1 Korinthiërs 13 vir die moderne ma.

Al sou ek die mooiste huis hê en die smaaklikste etes vir my huismense voorberei, maar ek doen dit nie met liefde nie, dan is ek so waardeloos soos 'n leë kastrol of 'n stukkende eierklitser. Al is ek die besigste ma in die beheerraad en ek koop vir my kinders die duurste sporttoerusting, maar ek het nie tyd om hulle langs die sportveld aan te spoor nie, dan sal dit my niks baat nie. Al koop ek 'n kamer vol opvoedkundige speelgoed en betaal ek sakke vol geld vir ekstra klasse, maar ekself sit nie by my kinders en speel of worstel met die skoolwerk nie, dan is ek nog nie 'n ware moeder nie. 'n Liefdevolle ma is geduldig - sy tel maar die klere en speelgoed op.

'n Liefdevolle ma is lankmoedig en vriendelik - sy laai haar motortjie vol kletsende, swetende skoolkinders. 

Sy vergelyk nie haar kinders met ander nie en sy is nie verwaand oor hulle prestasie nie. Sy bedek alle skrape met liefde en pleister en glo in haar kinders, hoop net die beste en verdra al die klaery en kritiek.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek bly lank in 'n kinderhart, maar gestrykte wasgoed word weer vuil en 'n netjiese huis word weer deurmekaar en vol stof ...

Eendag as die Volmaakte gekom het, sal jou huis en sy binnekant tot niet gaan, maar die lewende siele van jou kinders sal ondersoek word.    

[Bron: Onbekend]

Wednesday, 23 August 2023

Vrouemaand: Ek is 'n vrou ...

Ek oorreageer,
Ek onderskat,
Ek is ongeorganiseerd,
Ek het buie,
Ek is optimisties,
Ek huil maklik,
Ek is betroubaar,
Ek is mal oor alles wat soet is,
Ek is lomp,
Ek is vergeetagtig,
Ek is nalatig,
Ek is liggelowig,
Ek is gelowig,
Ek is baasspelerig,
Ek is ook saggeaard,
Ek maak dom foute,
Ek verdra nie onregverdigheid nie,
Ek word jaloers,
Ek raak gou verveeld,
Ek brand kos,
Ek is tydsaam,
Ek is ook haastig
Ek praat voordat ek dink,
Ek is mal oor skerp humor,
Ek is hardwerkend,
Ek het so 'n lui streep in my,
Ek val mense in die rede, maar ek gee altyd om.
Ek is altyd myself.
So moenie my ooit probeer verstaan nie, wees net lief vir my.

Tuesday, 13 June 2023

Liefdesbrief aan 'n suster

’n Vrou het saam met haar ma tee gedrink. Terwyl hulle oor die lewe en volwassenheid gepraat het, het haar ma gesê: "Moet nooit jou susters vergeet nie! Hulle sal mettertyd baie belangrik word, maak nie saak hoe lief jy jou man, of jou kinders het nie, jy gaan jou susters nodig hê!" 

"Onthou wanneer ek praat van jou susters, bedoel ek ALLE vroue wat aan jou geheg is."

“Soms moet jy hulle kontak, dalk saam met hulle uitgaan, dinge saam met hulle doen, want eendag sal jy hulle nodig hê!” Die dogter het daardie woorde in haar toegesluit. Sy het kontak met haar susters behou. Sy het deur die jare baie vriende gemaak. sommige het gekom, sommige het gegaan, maar mettertyd het sy verstaan ​​wat haar ma bedoel het. Die wêreld, tyd, natuur en lewe bied hul veranderinge en raaisels in 'n vrou se lewe, maar jou ware susters bly altyd. Na al die jare wat ek op hierdie aarde geleef het, het ek geleer dat:
  • Tyd gaan verby.
  • Die lewe gebeur.
  • Kinders word groot.
  • Afstand skei.
  • Passie neem af.
  • Die hart breek.
  • Ons ouers sterf.
  • Gunste word vergeet.
  • Werksgeleenthede kom en gaan.
  • Loopbane eindig.
MAAR ... jou susters is altyd daar, maak nie saak die afstand tussen julle nie. ’n Suster is nooit te ver om bereik te word nie. wanneer jy deur 'n eensame vallei moet stap en dit vir jouself moet doen, sal die susters van jou lewe om jou wees, jou bemoedig, vir jou bid, jou druk, vir jou ingryp en met ope arms vir jou wag by die einde van die pad. Hulle sal langs jou loop ... of selfs jou vrag dra.
Oumas, ma's, dogters, kleindogters, niggies, tannies, skoonma's, skoonsusters, skoondogters, buurvroue en vriende ... Hulle is almal jou susters en hulle is God se seën in die lewe!

[Dankie, Rina, dat jy hierdie waarheid met ons deel.]

Wednesday, 17 May 2023

Wat my ma my geleer het ...

Ma het my geleer om werk wat gedoen is, te waardeer: "As julle mekaar wil doodmaak, doen dit net buite, ek het nou net hier klaar skoongemaak."

Sy het my van godsdiens geleer: "Jy moet bid dat daardie kol op die mat uit is as ek vanaand by die huis kom"
Sy het my van tyd geleer: "Ek sal jou tot in volgende week in klap, as jy nie nou opruim nie!"

Sy het my geleer pa's is slimmer en ryker as ma's: "Gaan vra jou pa!"

Sy het my oor plantkunde geleer: "Lyk dit vir jou of geld op my rug groei?"

Sy het my geleer om altyd nederig en klein te wees: "Meneertjie!!!"

Sy het my van die weer geleer: "Dit lyk of 'n dekselse orkaan jou kamer getref het!"

Sy het my geleer om myself te ontdek: "Hou op om jou soos jou pa te gedra!"

Sy het my van die wetenskap van osmose geleer: "Maak toe jou mond en eet jou kos!"

Sy het my van uithouvermoë geleer: "Jy sal by daardie tafel sit totdat jy jou groente opgeëet het!"

Sy het my geleer van sintuie: "Kinders word gesien en nie gehoor nie!"

Sy het my geleer van humor: "Hou aan lag, dan gee ek jou iets om oor te huil ook!"

Sy het my van jaloesie geleer: "Daar is duisende arm kindertjies wat ouers soos joune begeer!"

Sy het my wiskunde geleer: "Sit jy alweer en tande tel!"

Sy het my geleer tel: "Ek tel net tot 10 ... 1, 2, 3 ..."

Sy het my logika geleer: "Want ek sê so, dis hoekom!"

Sy het my geleer dat wonderwerke nog kan gebeur: "Ek sal jou klap dat jy jou tannie vir 'n eendvoël aansien as jy my weer terug antwoord!"

Sy het my ook geleer van persoonlike reiniging: "Jy kan dit op jou maag skryf, en dit met jou hemp afvee"

Sy het my selfs geleer van regsaspekte: "Gaan kla by die magistraat"

Ai, my Ma is darem maar slim ...

[Dankie, Elmari, vir die deel van hierdie stukkie wysheid.]

Klik HIER vir nog ma-gedagtes.

Tuesday, 19 July 2022

Net vir vanoggend ...

Net vir vanoggend, gaan ek bo-oor die vuil wasgoed klim, jou optel en jou parkie toe vat om te gaan swaai.

Net vir vanoggend, gaan ek die skottelgoed los, en jou kans gee om vir my te wys hoe jy jou legkaart bou.

Net vir vanmiddag gaan ek nie eenkeer kwaai met jou praat nie, en as die roomyskarretjie verbykom en jy vra vir 'n roomys, gaan ek jou toelaat om te kies net watter een jy wil.

Net vir vanmiddag gaan ek jou toelaat om saam met my koekies te bak, sonder om vies te word as jy mors, en sonder om jou kinderpoging elke keer te probeer regmaak.

Net vir vanmiddag gaan ek nie bekommerd wees oor wat van jou gaan word as jy groot is nie, en my nie verknies of ek ooit altyd die regte besluite vir jou geneem het nie.

Net vir vanoggend, gaan ek die telefoon uitprop en die rekenaar afskakel, en saam met jou sit en borrels blaas.

Net vir vanaand gaan ek jou in my arms hou, en jou die storie vertel van hoe jy in my lewe gekom het en hoe bly ek daaroor is.

Net vir vanaand sal ek jou laat laat wakkerbly, dan sit ons op die stoep en tel al die sterretjies.

Net vir vanaand kan jy spat in die bad soveel as wat jy wil, want ek gaan nie raas nie.

Net vir vanaand gaan ek snoesig saam in jou bedjie lê tot jy slaap, al mis ek ook my geliefde TV-program.

Net vir vanaand gaan ek my vingers deur jou hare krul as ons bid, en gaan ek net dankbaar wees dat God jou vir my gegee het - die grootste geskenk ooit.

En ek sal dink aan al die pappas en mammas, wat op soek is na verlore kinders, en wat hulle kinders se grafte besoek. Ek sal dink aan die mammas en pappas wat hulle kinders in die hospitaal sien ly omdat hulle siek is – mammas en pappas wat binne-in skree, omdat hulle dit nie meer kan aanskou nie.

En dan gaan ek vir jou nagsê met ‘n soentjie, en jou nog ‘n rukkie vashou.

Dit is dan wanneer ek God vir niks anders sal vra, as net vir nog een dag nie ...

Sunday, 10 May 2020

Die Hemel het ‘n nommer ...

Ek wil my ma bel.
Ek moet eenvoudig met haar praat. 
Al is dit net vir drie minute. 
Ek wil haar stem hoor ... ek wil hoor hoe sy vir my sê: ‘My wêreld, is dit jy? En hoe gaan dit ...?"

Maar ek kan nie my ma bel nie. 
Want die Hemel het nie ‘n nommer nie. 
Nie onder die "H’s" in die telefoongids nie; 
nie eers in die Geel Bladsye nie – dis verstommend: 
in hierdie tegnologiese eeu, met knoppies en rekenaars en satelliete, 
is daar gee direkte lyn Hemel toe nie.

In desperaatheid droom ek een nag, dat ek deurkom Hemel toe.
"Kan ek asseblief met my ma praat?" vra ek. "Sy is Hettie Ellis – net vir drie minute, asseblief?"
"By watter afdeling is sy?" vra ‘n sagte stem.
"Afdeling? ... Sy ... sy is seker by die hekel- en breiafdeling?"
Haar hande was nooit stil as sy televisie gekyk het nie, altyd hekel- of breipenne wat saggies, gerusstellend, klik-klik-klik.
Maar die stem sê: "Ons het nie ‘n hekel- of breiafdeling nie. Ons is omgewe van die lig ... ons word omvou deur Sy warmte ...” Hulle dra dus nie klere nie. Hulle brei nie.

"Probeer asseblief die bak-afdeling."
Natuurlik, sy sal daar wees.
Na haar dood het ek naarstiglik die laaste stukkies beskuit uit die blik gaan haal en dit gevries.
Ek sou dit nie kon eet nie ... ek moes dit hou – sommer net om na te kyk.
Maar die stem sê: "Ons het nie ‘n bak-afdeling nie. Ons lewe van die vrugte van die Gees"

Ek bly ‘n rukkie stil. "Probeer asseblief die tuinafdeling."
Sy was so lief vir die grond, so deel van die aarde ... maar die stem antwoord: "Ons saai nie en ons plant nie. Ons besit reeds die Ewige Saad"

Ek raak desperaat en ek vra:
"Nou watter afdelings is daar dan?"
Die stem is sag en geduldig. "Ons het kore ..."
"Kore?" vra ek, "Ek weet darem nie ... sy was nooit juis ‘n voorsanger nie ... wat is daar nog?"
Die stem raak nie ongeduldig nie. "Daar is ook hulle wat sit by die voete van die Een wat onderrig."
"Sit hulle net?" vra ek nuuskierig. "Ek weet darem nie. Ek het my ma nooit juis sien sit nie."
"Hulle sit en luister na die Stem."
"O, ja! Sy sal dáár wees!” jubel ek. Ja, ek moes dit mos geweet het!
My ma was ‘n simpatieke, en intense luisteraar. Haar oë, haar gesig, haar hele lyf het altyd saam geluister. "Kan ek met haar praat?" vra ek opgewonde. "Ek is seker sy sal daar wees!"
"Hulle wat luister, word nie onderbreek nie," sê die stem baie sag. "Maar as jy wil, kan jy kom saamluister."
Die droom is verby.
Maar in die môre, toe ek my stiltetyd hou, onthou ek dit weer.
En toe ek kniel, bid ek nie.
Ek luister.
En ek hoor ‘n stilte vol vrede ... en in die vrede is daar troos.
En in die troos is daar Sy arms wat my vashou.
En Sy vashou voel soos my ma se lyf ... nog beter: volkome.
Ek word bewus van die direkte lyn Hemel toe.
Die lyn wat daar was, van die heel begin af.
Nog voordat almal so slim geword het.
Die lyn wat nooit onderbreek word nie, nooit beset is nie.
Die lyn wat verniet is, en waarvoor jy nie eers ‘n rekening hoef te betaal nie.
Jy hoef selfs nie eers ‘n nommer te onthou nie.

Want die Hemel is net ‘n stiltetyd, dis net ‘n gebed ver.

~ Nelia ~

Saturday, 11 May 2019

Van 'n ouer aan 'n kind ...


Ek het jou die lewe gegee, maar ...
ek kan dit nie vir jou lewe nie.
Ek kan jou dinge leer, maar ...
ek kan jou dit nie maak leer nie.
Ek kan jou probeer rigting gee, maar ...
ek is nie altyd daar om jou te lei nie.
Ek kan jou vryheid toelaat, maar ...
ek kan nie vir dit verantwoording doen nie.
Ek kan jou kerk toe neem, maar ...
ek kan jou nie maak glo nie.
Ek kan vir jou mooi klere koop, maar ...
ek kan jou nie van binne mooi maak nie.
Ek kan jou raad gee, maar ...
ek kan dit nie namens jou aanvaar nie.
Ek kan jou liefde gee, maar ...
ek kan dit nie op jou afdwing nie.
Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees ...
ek kan jou nie onselfsugtig maak nie.
Ek kan jou leer om respek te hê, maar ...
ek kan jou nie dwing om eer te bewys nie.
Ek kan jou raad gee oor jou vriende, maar ...
ek kan hulle nie vir jou kies nie.
Ek kan jou leer omtrent seks, maar ...
ek kan jou nie rein hou nie.
Ek kan jou die feite van die lewe vertel maar ...
ek kan nie jou reputasie behou nie.
Ek kan jou vertel van drank, maar ...
ek kan nie namens jou nee sê nie.
Ek kan jou waarsku oor dwelms, maar ...
ek kan nie verhoed dat jy dit gebruik nie.
Ek kan jou vertel van hoë prestasies, maar ...
ek kan hulle nie vir jou bereik nie.
Ek kan jou vertel van goedheid, maar ...
ek kan jou nie forseer om genadig te wees
Ek kan jou waarsku omtrent sonde, maar ...
ek kan nie jou standaarde stel nie.
Ek het jou lief as my kind, maar ...
ek kan jou nie God se kind maak nie.
Ek kan jou leer van Jesus, maar ...
ek kan nie Jesus jou koning maak nie.
Ek kan jou leer van die lewe, maar ...
ek kan jou nie die Ewige Lewe gee nie. 

Liefde Mamma

Friday, 7 December 2018

Die beste versorging...

Die beste versorging wat 'n pa vir sy kinders kan gee,
is om hulle ma lief te hê -
en om naas die Here - haar eerste te stel in sy lewe.
(Francois Hanekom)

Wednesday, 6 December 2017