Showing posts with label Vreugde. Show all posts
Showing posts with label Vreugde. Show all posts

Tuesday, 7 July 2026

Koop die tyd uit ...

Hoe ouer mens word, hoe meer en meer besef jy dat 'n R70-horlosie presies dieselfde tyd aangee as 'n R7000 een.
 
Of jy nou 'n R70- beursie het of 'n R700-beursie, die bedrag binne in die beursie se waarde bly dieselfde.
 
Of jou huis sewentig vierkante meter is of sewehonderd vierkante meter, die eensaamheid en hartseer of vrede en geluk binne die huis bly dieselfde.
 
Hopelik sal ons almal eendag besef dat innerlike vreugde en vrede nie van fisiese besittings of rykdom afhang nie.
 
Of jy nou eerste klas of ekonomiese klas in 'n vliegtuig reis, as die vliegtuig val, val jy saam!

Daarom moet ons verstaan dat as ons ware vriende het, boeties en sussies saam met wie jy kan lag en huil en sing en bid en gesels oor alles en nog wat, dat dít eintlik WARE rykdom is ...
 
Geniet die mense rondom jou wat God oor jou pad gebring het, want hul waarde is onmeetbaar.
 
Vertel vir hulle hoe kosbaar hulle vir jou is en hoe belangrik hulle voetspore in jou lewe is.
 
Wees ook dankbaar vir diegene wat jou wieletjies pap maak en jou geduld beproef, want jy leer waardevolle lewenslesse deur hulle.
 
Vergewe en maak reg terwyl daar nog tyd is.
 
Wees dankbaar dat jy 'n gesin en vriende en familie het.
 
Hulle is net vir jou geleen, en eendag gaan jy hul werklike waarde besef as jy hulle leë stoel of plekkie raaksien ...
 
Besef vandag opnuut dat sonder God in jou lewe, alles eintlik 'n sinnelose gejaag na wind is.
 
Ons hou ons besig met soveel dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, terwyl ons eintlik moet voorberei vir 'n ewigheidslewe saam in die hemel.
 
So kom ons koop die tyd uit, want tyd is die een ding wat ons nooit weer terug kan kry as dit eers verby is nie.

Monday, 11 May 2026

God is liefde

God het my in sy hart, al het ek Hom nie in my hart nie.

Daarom hou ek my hart na Hom uit en ek sê: "Here, wát my hart ook al tot nou toe gevoel het, stuur U liefde deur hom."

Ek hou my gedagtes na Hom uit en ek sê: "Here, wát my gedagtes tot nou toe ook al bedink het, stuur U gedagtes deur hulle."

Ek hou my hande na Hom uit en ek sê: "Here, wát my hande ook al tot nou toe gedoen het, werk U deur hulle."

Want ek weet dat Hy nie Sy krag net aan die sterkes gee nie, dat Hy nie Sy wysheid net aan die wyses gee nie, ook nie Sy vreugde net aan dié wat vreugdevol is nie, of Sy seëninge net aan hulle wat geseënd is nie.

God help my nie oor wat ék is nie.
Hy help my oor wat Hy is.
God is LIEFDE.

[Dankie, Ann, vir die deel.] 

Tuesday, 10 March 2026

Mandjie Hoop: Blomme bring vreugde

Blomme kan met die lewe vergelyk word. 
Dit bring vreugde wat almal kan geniet, 
al het sommiges dorings 
en maak dit soms seer. 

Skoenlappers en bye kry nektar daaruit,
maar elkeen om 'n ander rede. 
Skoenlappers bestuif plante en bome
en bye maak heuning. 

Soms val luise die plante aan
of wurms broei uit 
en probeer die plant verwoes. 
So is daar mense wat dieselfde aan ander doen. 
As die eienaar oplettend is 
sal hy gou die plaag uitroei 
en die plant sterk herstel.

So is dit jul plig om mense se lewens aan te raak. 
Julle mag nie huiwer om iemand reg te help
as hy iets verkeerd sê of doen nie, 
maar doen dit met liefde en respek. 

Hy sê toe: Die lewe is soos 'n blom,
dit is nie vir ewig nie. 
Ek het aan elkeen 'n lewenstydperk gegee - 
sommiges langer as ander.
Moenie vrae vra nie,
want Ek het my beplanning perfek uitgewerk. 

Ek laat jul soms bedroef agter, 
maar Ek is jul Trooster, 
ek heel gebroke harte. 

So my kinders gaan in vrede 
en deel dit met almal, 
saai vreugde
en jul lewe sal 'n liefdestuin wees. 

[Aangestuur]

Thursday, 22 May 2025

Dink hieroor: Spesiaal vir jou van my af

Alles kan in 'n oogwink verander.
Want God werk op vreemde wyses.
Sy wil is nie ons wil nie.
Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie.
Sy tyd is nie ons tyd nie.
Daarom moet jy:
* Diep dink.
* Saggies praat.
* Baie liefhê.
* Vriendelik wees.
* Hard werk
* Voluit lewe.
Want elkeen wat goed lewe, lewe lank, want ons lewenstyd word nie bereken in jare, dae of ure nie ...
Dink gerus en gereeld hieroor:
Vreugde, selfs liefde, sterf as jy dit nie vertroetel nie.
Daarom is dit nou tyd dat ons -
* Met sagte hande aan mekaar begin vat.
* Met sagte oë na mekaar begin kyk.
* Met sagte tonge met mekaar praat.
En sorg dat ons elke dag ons daaglikse dosis lag inkry!

Tuesday, 6 May 2025

Mandjie Hoop: Mag jy geseënd wees ...

Mag jy geseënd wees wanneer jy opstaan.
Mag jy geseënd wees wanneer jy gaan slaap.
Mag God Sy Engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy gaan.
Mag Sy vreugde en vrede jou verkwik
en mag jy daagliks Sy Sabbatsrus beleef.

Monday, 28 April 2025

Gebed van St Franciscus van Assisi

God - maak van my `n instrument van U Vrede
Waar daar haat is, laat my Liefde saai
Waar daar seermaak is - Vergifnis
Waar daar vertwyfeling is - Geloof
Waar daar wanhoop is - Hoop
Waar daar donkerte is - Lig
En waar daar hartseer is - Vreugde

O Heilige God - gee dat ek nie soveel streef
Na vertroosting as om te Vertroos nie
Om verstaan te word as om self te probeer verstaan
Om vir liefde te vra as om Liefde te gee
Want dit is deur te gee wat ons ontvang
Dit is deur te vergewe wat ons vergewe word
En dit is in ons sterfte wat ons gebore word tot U ewige Lewe ...
Amen

[Vrye vertaling]

Thursday, 17 April 2025

Dink hieroor: God seën elke aspek van my lewe ...

Ek seën jou met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
Ek seën jou met mense wat om jou inskuif en jou hande oplig en 'n pad saam met jou begin stap.
Ek seën jou met goddelike vriendskappe, mense wat jou sal aanmoedig, en jou droom met jou sal deel.
Ek seën jou met 'n sagte hart, 'n hart vol liefde.
Ek seën jou met God se wysheid in elke besluit van jou lewe.
Ek seën jou met God se leiding, Sy guns en Sy genade oor jou.
Ek seën jou talente, jou gawes en jou verhoudings.
Ek seën jou finansies, jou besigheid en jou denke.
Ek seën jou gees, jou siel en jou liggaam.
Ek seën jou lewenstaak met vreugde, harmonie en liefde.
Ek seën jou gesin, familie en jou drome.
Ek seën jou om jou identiteit te vind in Christus.
Ek seën jou met die wete dat jy 'n Vader het wat jou innig lief het, dat niks wat jy kan doen Hom liewer kan maak vir jou nie, ook nie minder nie.
Ek seën jou om daagliks Sy voorsiening te beleef,
Sy totale beskerming en Sy doel vir jou lewe.
Ek seën jou met die wete dat niks in jou lewe, verlede of toekoms jou kan skei van die liefde van God nie.
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Geseënd is jy, geliefde van God.
Ontvang die seën in die Naam van Jesus!
Wees veilig en tasbaar bewus van God se teenwoordigheid, liefde en seën vandag in jou lewe.

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur van die seënbede.]

Thursday, 7 November 2024

Dis nou jou tyd - gebruik dit!!

Gister was ‘n goeie begin. Vandag kan jy selfs beter doen!

Wat jy tot op hierdie punt gedoen het, is indrukwekkend. Wat jy nou kan doen, is fenominaal.

Jy het baie moeite, aandag, tyd en opoffering ingesit om te kan wees wie jy is. Nou is die tyd om al daardie waardes saam te snoer en die beste jy te word wat jy kan wees.

Voel die sukses en absolute positiwiteit van al die doelwitte wat jy al bereik het. Jy is hier om ‘n verskil te maak, en wanneer jy dit doen sal jy sonder twyfel weet dat jy op pad is na jou Godgegewe doel.

Die warm son skyn, die koue wind waai, en die lewe offer jou nuwe vreugde en uitdagings met elke dagbreek. Deur dit alles, maak nie saak wat nie, kan jy jou eie unieke waarde in antwoord op die lewe se uitdagings bied.

Leer uit jou teleurstellings, en bou op jou suksesse. Dit is JOU tyd om jou doelwitte en drome te bereik.

[Aangestuur deur Liz.]

Friday, 1 November 2024

Teen die spoed van een dag

God stap saam met ons
teen die spoed van
een dag op 'n slag.
Hy gee jou vandag se lewe.
Jy het vandag -
nog net vandag ...
net Hy weet van môre.
Gryp vandag aan!
Maak dit vol met vreugde
en dankbaarheid in die Here!

Wednesday, 25 September 2024

Seënwense


Mag ons SKEPPER se liefde jou soos sonskyn omvou.
Mag Sy genade oor jou drup soos die môredou.
Mag Sy vreugde jou hart vul met 'n melodie.
Mag Sy kosbare bloed jou lewe omsirkel.
Mag God voor jou uitloop en al jou paaie gelyk maak.
Mag jy vandag 'n asemrowende dag beleef,
sodat hierdie dag al jou verwagtinge oortref.
Baie seën in Jesus Naam.

Thursday, 19 September 2024

Liefde kos nie geld nie

   
‘n Boer het ‘n paar babahondjies gehad wat hy wou verkoop. Hy gaan sit 'n advertensie op Spar se kennisgewingbord en verf toe ook ‘n plakkaat waar hy die hondjies adverteer en dit sit hy sommer voor sy plaashek op. Hy was nog besig om die bord vas te slaan, toe voel hy skielik iemand trek aan sy baadjie. Hy kyk om, vas in die oë van ‘n klein seuntjie.
 
"Oom, ek wil graag een van oom se hondjies koop."

"Wel,” sê die boer, "hierdie hondjies het ‘n baie goeie ma en pa en hulle kos nogal duur, ou Seun."
 
Die seuntjie laat sy kop sak en dink vir ‘n oomblik. Toe druk hy sy hand diep in sy broeksak, en kom met ‘n handvol kleingeld te voorskyn.

"Sal hierdie genoeg wees dat ek net kan kyk, asseblief, Oom?" vra hy.

"Seker," sê die boer. En met ‘n fluit roep hy: “Kom Lady, kom wys jou kinders!”
 
Uit die hondehok kom Lady, met vier bondeltjies lomp-lomp agterna.

Die seuntjie druk sy gesiggie teen die draad en sy oë blink van pure opgewondenheid. Die hondjies is al amper by die draad, toe die seuntjie nog iets by die hondehok sien roer. Stadig kom nog ‘n bondeltjie te voorskyn, heelwat kleiner as die ander hondjies. Met ‘n mank sukkelende drafstappie begin die laaste klein hondjie naderkom. Hy probeer sy bes om die ander in te haal.

"Ek wil graag daardie hondjie hê,” sê die seuntjie, en wys met sy vinger na die kruppel hondjie. Die boer kniel langs die seuntjie en sê: "Ai, Seun, jy wil nie daardie hondjie hê nie. Hy sal nooit kan hardloop en speel soos al die ander hondjies nie."
 
Die seuntjie staan terug van die draad af en begin sy broekpyp oprol. Stadig begin twee kunsbeentjies wys, wat met ‘n stut vas is, en eindig in twee kunsskoene.

"Oom sien, ek kan self ook nie te lekker hardloop nie, en hy sal iemand nodig hê wat dit kan verstaan."
 
Met trane in sy oë tel die boer die kruppel hondjie op en gee hom versigtig vir die seuntjie oor die draad aan.

"Hoeveel kos hy, Oom?" vra die seuntjie.

"Hy’s verniet, Seun. Hy kos vir jou niks nie. Liefde kos mos nie geld nie."

 Al is ons swak of het 'n gebrek, is ons steeds belangrik. Onse Koning en Oppermeester was ook gewond en verniel, daarom stel Hy ook belang in die afvlerk, die gebrekkige en die gebroke mens. Moenie alleen voel nie - kyk op - dis waar jou hulp vandaan kom. Al gebeur dit dat jy nie saam met die res van die wêreld op spoed kan beweeg nie, is daar steeds iemand aan wie jy vreugde kan verskaf en wat jou nodig het ... omdat jy verstaan.

Tuesday, 10 September 2024

My plekkie in Sy hemelhuis

Om ouer te word is nie maklik nie. 

Jy is soveel meer broos en kwesbaar as jonger mense. Jy mis familie en vriende wat nie meer daar is nie, sommige in ouetehuise en ander reeds na die Vaderhuis. Daar is so baie wat jy nog wou doen, maar die krag, energie en tyd ontbreek - want jy word al meer bewus dat jou jare vorentoe nie meer so baie is soos “agtertoe” in die verlede nie. 

Jou liggaam raak broser en jou hart kwesbaarder. 

Talle goedjies begin pla, soos jou balans wat nie meer is soos wat dit behoort te wees nie. Jou visie en gehoor wat al hoe meer en meer verswak. Al hoe meer medisyne kom by jou medisynelysie en jou eersehulptassie word vol goedjies wat belowe om jou energie te gee. Jy raak meer bewus van jou alleenheid - en vir sommige mense van hul eensaamheid. Jy word nie meer na plekke saamgenooi nie en jy vra ook nie self nie, omdat jy dalk al een of twee keer afgejak is. 

Dis nie meer vir jou so lekker om in jonger groepe geselskappe te wees nie, want jy word al meer bewus dat mense in die geselskap verby jou of bo-oor jou kyk - jy is maar net daar, maar nie deel van die geselskap nie. Daar word vir iemand anders in die geselskap gevra hoe dit met jou gaan, in plaas daarvan om direk die vraag aan jou te vra. Wanneer jy by ‘n geselligheid is, kry almal soms geskenkies - maar die jonger garde vergeet of dink nie dis nodig dat jy ook enetjie kry nie. 

Trane vloei soveel makliker - trane van vreugde, verlange of hartseer, maar sakdoekies daarvoor is nie nodig nie, want die Heer vee dit self af  - wanneer Hy afbuk na jou en sy arms om jou vou en in die mooiste woorde verseker van Sy Ewige Liefde vir jou. En wanneer Hy saggies uit Sy Woord met jou praat en jou vertel dat Hy 'n plekkie gereed kry vir jou in Sy Hemelhuis, weet jy dat jy niks meer nodig het as hierdie Vader van jou nie! 

En nuwe lewensenergie soos ‘n vars waterval bruis skielik in jou en jy weet jy móét vir ander híérdie storie van jou en jou Hemelvader vertel!  

[Dankie, Valerie!]

Thursday, 29 August 2024

Bekeer jou denke en beïnvloed die wêreld positief

Op ‘n dag het ‘n dosent vir sy studente ‘n swart kol op ‘n groot wit bord geteken. 

Hy vra toe vir sy studente, wat hulle sien. Elke student het ‘n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grote en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe vir hulle dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ‘n swart kol op die bord nie. Daar is ‘n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte mis gekyk het.

So kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle, kan persoonlike probleme wees, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer so daarop, dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ‘n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ‘n lied wat sê : “Tel jou seëninge, tel hul een vir een.” As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

Wat maak of breek ‘n huisgesin? Mense met ‘n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord, vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Wat laat huwelike kwyn? Wanneer ek gedurig net my maat se foute, die paar swart kolletjies op die witbord raaksien. Ek konsentreer so op die negatiewe, dat ek nie eers meer die positiewe raaksien nie. Die paar swart kolletjies word so oorheersend, dat my lewensmaat uit fokus raak en ek onvergenoegd met my huwelik raak.

Ons kan ons kinders so bombardeer met die negatiewe, dat hulle later ook negatiewe grootmense word, wat oor alles negatief is. Ons kan so negatief oor ons kinders praat, dat hulle dit later begin glo en lei aan ‘n negatiewe selfbeeld.

Dan bestaan ‘n mens net. Dan leef jy nie. Jy oorleef miskien, maar jy leef nie. Dit terwyl die Here juis vir ons ‘n lewe van oorwinning wil gee. Die Here wil hê dat ons vreugdevolle huwelike en gesinne moet koester. Die Here wil hê dat ons positiewe kinders met ‘n gesonde selfbeeld moet grootmaak. Die Here wil hê dat ons, ons werk met vreugde moet doen. Die Here wil hê dat ons as sy beelddraers elke dag skeppend en kreatief dié lewe moet skep. Net positiewe mense kan skep.

Ja, ons moet vreugdevolle huwelike en gesinne skep, deur positiewe denke en gedrag. Ons moet ons werk elke dag vreugdevol doen, deur skeppende positiewe kreatiwiteit. Net positiewe mense kan skep.
Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, en liefde en al die ander gawes van die Gees.

Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik, wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4-9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ‘n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ‘n mens wat eerder wil gee as om te ontvang.

Onthou die volgende aanhaling: “ Dankie Here, vir alles wat U vir my gegee het; vir alles wat U van my weggeneem het; vir alles wat U vir my laat staan het.”

Dit is nie wat jy verloor het, wat tel nie, maar wat jy oorhou. Werk en woeker daarmee, totdat jy jouself uit jou onvergenoegdheid bevry het. Wees dankbaar en positief, selfs oor die “bietjies” in jou lewe en jy sal bevrydend en oorwinnend kan lewe.

Mag God se Gees gee, dat ons ons denke sal bekeer, tot skeppende kreatiewe positiewe mense, wat deur ons positiewe gedrag die wêreld positief beïnvloed.

[Dankie, Rosetta, vir hierdie lewenswaarheid.]

Monday, 11 September 2023

'n Dankiepakkie vir die feesseisoen



Is daar iemand wat saam met jou werk, wat finansieel sukkel? Of iemand in jou gemeente wat sy of haar werk verloor het? Is daar 'n kind in jou kind se klas wat honger skool toe kom? 

Sit stil. Raak stil en kyk om jou rond. Ons kan nie almal help nie, maar ons kan een dankiepakkie opmaak.

Wat is 'n dankiepakkie? Dis 'n pakkie waarin ek goedjies sit om 'n glimlag op iemand se gesig te sit wat dit nie breed het nie. Wat sit ek daarin? Enige iets bruikbaar, 'n soet bederfie, 'n lekkerruikbederfie en noodsaaklikhede. Dink aan die dinge waarsonder jy in jou eie huishouding nie kan klaarkom nie. Dit sal jou help om die werklike nood aan te spreek.

En as jy en jou kind(ers) dalk regtig kreatief wil wees en ook die gees van die mense wat swaarkry ’n bietjie wil lig: Sit ’n maklike resep in van iets wat op ’n oop vuur of gasstofie gaargemaak kan word. (Maak net seker dat die bestanddele daarvan in die dankiepakkie is). 

Moedig jou kind(ers) aan om 'n briefie te skryf, 'n kaartjie te maak, inkleurprente en kryte in te sit as daar nog klein kindertjies in daardie gesin is, lekkergoedpakkies, of ’n klaar geleesde boek/tydskrif.

Mag hierdie paar gedagtes jou help om nuut te dink oor die dankiepakkie wat ons in hierdie feesseisoen vir iemand wil pak. 

Terwyl jy vreugde gee aan ander, mag jy ook vreugde en vrede in die feesseisoen beleef. 

Jy kan die pakkie by 'n kerkkantoor, skoolkantoor afgee of anoniem stuur. Daar is genoeg mense wat jou met jou dankiepakkie sal wil help en op hierdie manier steek jy die draer van goeie nuus aan om self 'n dankiepakkie te pak. 

['n Hartlike dankie aan een van die Pretoria-lesers wat hierdie voorstel gestuur het. Vreugde.]

Friday, 18 September 2020

Sunday, 9 August 2020