Monday 11 September 2023

'n Dankiepakkie vir die feesseisoen



Is daar iemand wat saam met jou werk, wat finansieel sukkel? Of iemand in jou gemeente wat sy of haar werk verloor het? Is daar 'n kind in jou kind se klas wat honger skool toe kom? 

Sit stil. Raak stil en kyk om jou rond. Ons kan nie almal help nie, maar ons kan een dankiepakkie opmaak.

Wat is 'n dankiepakkie? Dis 'n pakkie waarin ek goedjies sit om 'n glimlag op iemand se gesig te sit wat dit nie breed het nie. Wat sit ek daarin? Enige iets bruikbaar, 'n soet bederfie, 'n lekkerruikbederfie en noodsaaklikhede. Dink aan die dinge waarsonder jy in jou eie huishouding nie kan klaarkom nie. Dit sal jou help om die werklike nood aan te spreek.

En as jy en jou kind(ers) dalk regtig kreatief wil wees en ook die gees van die mense wat swaarkry ’n bietjie wil lig: Sit ’n maklike resep in van iets wat op ’n oop vuur of gasstofie gaargemaak kan word. (Maak net seker dat die bestanddele daarvan in die dankiepakkie is). 

Moedig jou kind(ers) aan om 'n briefie te skryf, 'n kaartjie te maak, inkleurprente en kryte in te sit as daar nog klein kindertjies in daardie gesin is, lekkergoedpakkies, of ’n klaar geleesde boek/tydskrif.

Mag hierdie paar gedagtes jou help om nuut te dink oor die dankiepakkie wat ons in hierdie feesseisoen vir iemand wil pak. 

Terwyl jy vreugde gee aan ander, mag jy ook vreugde en vrede in die feesseisoen beleef. 

Jy kan die pakkie by 'n kerkkantoor, skoolkantoor afgee of anoniem stuur. Daar is genoeg mense wat jou met jou dankiepakkie sal wil help en op hierdie manier steek jy die draer van goeie nuus aan om self 'n dankiepakkie te pak. 

['n Hartlike dankie aan een van die Pretoria-lesers wat hierdie voorstel gestuur het. Vreugde.]