Tuesday 12 September 2023

Maak vol ...

[Deur Jannes Erasmus]

ek sit by die vulstasie en ek besef dat ek hierdie maand kort gaan kom ...
of dit met die huur,
die krag, die kos,
die versekering of die skoolfonds is ...
iewers gaan ek hierdie maand te kort kom ...

as ek nou volmaak
gaan iets iewers leeg raak

hoe kies jy?
hoe kies jy wat is belangriker, want die een beïnvloed die ander?

‘maak vol’
ek bly stil
‘asseblief’
sê ek met ‘n knop in my keel ...

ons het ‘n budget, ons beplan,
en ons sny hom fyn,
nes jy,
elke maand
en die verpligtinge raak nie minder nie
die reën val neer en die vloed styg op ... jy weet

ek sien die bedrag en klou aan my stuurwiel
die joggie steek sy hand uit en vra
‘do you want to pay?’
ek hoor
‘do you want to pray’
ek vat sy hand en begin bid
ek bid vir elke leë tenk wat hierdie maand moet kies
vir elkeen wat te kort kom,
finansieel, emosioneel, geestelik en gesondheid
vir jou wat gebudget het en nou in die rooi is met jou verhouding, ‘n verslawing
vir jou wat sterk moet wees en kies om vol te maak as jou beursie leeg is
want as jy by Hom volmaak
sal jy sien hoe alles om jou net vanself voller raak

ek sê amen en die kêrel is so geskok
hy sê ook sommer amen
ek wou nog omverskoning vra toe sê hy
‘my tenk was ook op empty vandag, kealeboga’

ek ry daar weg en ek voel voller,
ek besef hoeveel van ons ry op empty en dink ons is die enigstes wat deur dit gaan

vandag weet ek waar om vol te maak
as alles om my leeg raak

jy is nie alleen nie
baie liefde

[Dankie, Rosetta Venter, gereelde leser van die WK, vir hierdie bydrae.]