Friday 8 September 2023

Ons klop aan die hemel se deur

Elke keer as ons bid, dan klop ons aan die hemel se deur ... Ons lysie wat ons aan die Here voorhou, is lank. Dis versoeke word afgerammel, want die Here weet in elk geval wat ons gaan vra. Verder is ons vinnig om te kla as ons gebede nie gou genoeg na ons sin beantwoord word nie. Ons vergeet egter die Here se tyd is volmaak.

Kom ons ruil die situasie om. Het jy al daaraan gedink hoeveel keer klop die Here aan jou deur sonder dat jy oopmaak? 

Hy klop sodat jy jou talente vir die kerk kan gebruik, maar jy antwoord nie ...
Hy klop sodat jy deel van 'n gebedsgroep of 'n Bybelstudie kan wees, maar jy antwoord nie ...
Hy klop sodat jy aan die arm gesin 'n brood en melk moet vat, maar jy antwoord nie ...
Hy klop sodat jy vir die petroljoggie of die sekuriteitsbeampte 'n toebroodjie kan vat, want jy is dikwels die enigste Bybel wat hierdie mense sien, maar jy antwoord nie ...
Hy klop omdat daar kinders is wat nie warm klere het om in die koue te dra nie, maar jy antwoord nie ...
Hy klop omdat jou buurvrou 'n dierbare aan die dood moes afgee en jy haar kan bemoedig, maar jy antwoord nie ...
Hy klop want daar is iemand wat 'n gebed en 'n drukkie nodig het, ... maar jy antwoord nie.
Hy staan by jou deur en klop, omdat Hy jou hande en voete nodig het vir Sy diens, maar jy sit gemaklik agteroor en luister nie na die klop aan jou deur nie. (Miskien het ons doof geword vir Sy stem, is die TV te hard aan of is ons te besig met ons slimfoon)

Volgende keer as daardie sagte stem vir jou fluister met 'n opdrag ... antwoord asseblief die deur ... Jesus wil jou gebruik.

Rick Warren het in sy boek, Die doelgerigte lewe, gesê dat jy op die aarde geplaas is om vir die ewigheid voor te berei.