Showing posts with label Noordkaap. Show all posts
Showing posts with label Noordkaap. Show all posts

Friday, 20 March 2026

Terugflits: Leer ander om te dien

Sy naam is Surprise. Hy is 'n polisieman. Getrou in sy werk en ywerig in alles wat hy doen.

Ek het hom nooit spontaan ontmoet nie, maar sy naam het hom vooruit geloop. Juis daarom het ek moeite gedoen om hom te gaan leer ken.

Aan die Suidkus van ons land waar baie mense gereeld by die see gaan uitrus en in die branders en sand kop skoonmaak, het Surprise nie gerus nie.

Waar ander rus, daar is sy werksplek. By die klein, tog besige ou seeplekkie is Surprise gestasioneer.

Hy sou seker ook net die nodige kon doen soos baie van ons, maar nee, hy glo jy doen die ekstra moeite, jy dra daardie ekstra vrag, jy help onvoorwaardelik. As jy hom leer ken, dan kom jy dit onmiddellik agter. Dit was nie moeilik om hom op te spoor nie - ja, almal ken vir Surprise.

By die laaste huis waar hy 'n inbraaksaak hanteer het, het hy uit omgee vir hulle kos laat aflewer.

By die voertuig wat langs die pad gaan staan het, het hy nie net iemand gebel nie, maar haar later gebel en gevra of sy veilig tuis gekom het. 'n Ander se klein seuntjie se trane het hy afgedroog.

Nou ja, so kan ons seker baie dinge oor baie mense vertel - wat Surprise anders maak, is dat die dinge nie 'n nou en dan verskynsel in sy lewe is nie, dit is hoe hy elke dag leef.

Dit is wie hy is. Onvoorwaardelik altyd dienend. Sy lewe gevul met diensbaarheid.

In my gesprek met hom vra ek hom: "Hoe kry jy dit reg dat almal so mooi van jou praat, wat maak jou so anders?"

"Anders, Meneer? Ek is nie anders nie, ons is mos maar almal dieselfde. As ons oë kyk, sien hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons ore luister, hoor hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons mond praat, dan bring dit sagtheid.

In 'n nuwe jaar, met nuwe dinge, kan ons by Surprise iets leer: DIEN.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - gaan lees gerus die Twyfelhoekierubrieke op die internet -daar is soveel pitkos om aan te herkou.]

Tuesday, 22 October 2024

Perspektief is die verskil

Haar kostelike vierjarige uitkyk op hierdie saak het my net weer laat besef dat die lewe eintlik in wese 'n saak van perspektief is.

Sy word groot in die stad. In haar bestaan van vier jaar, ken sy net die stadslewe - 'n vinnige Gauteng-lewenstyl - en het sy reeds 'n bepaalde manier van dink. So, wanneer sy die vakansie by ouma en oupa op die plaas kuier, beleef sy soms dinge wat by ander sal verbygaan.

So het ek al vertel dat sy graag na die voëltjies sit en luister omdat sy hulle nie meer in die stad hoor nie. Desembervakansie kuier sy soos gewoonlik by oupa en ouma. Vandag gaan hulle dorp toe. Lysies word gemaak, beplanning word gedoen. Soos dikwels op die platteland is Vrydag almal se inkopiedag.

Op so 'n dorp-toe-gaan-dag is die dorp 'n bedrywigheid. Vir ons wat grootword op klein dorpies is 'n donkiekarretjie nie iets vreemds nie. Dit is ook dié eienaar se inkopiedag.

Met die sien van die donkiekarretjie het die wêreld vir haar gaan stilstaan. Sy gaan roep almal. Hulle moet dadelik kom kyk. Almal moet stilstaan. Almal moet sien: "Daar kom 'n koets! 'n Rêrige-êrige koets!" Vir die man wie se voertuig dit is, is dit sekerlik sy koets. Vir ons wat al 'n voertuig gehad het, kan ons moeilik daarna kyk as die gerief van 'n koets.

Vir haar wat vier jaar oud is, is daar net een werklikheid. Hierdie is 'n rêrige koets. Sy kan nie verstaan hoekom hy al die groot dorpe misry en hier kom rondry nie. Haar ma moet dadelik gebel word, haar boetie en sussie moet ingelig word. Hier, vandag, het sy 'n rêrige koets gesien.

Die lewe is 'n saak van perspektief, né? Ek hoop die donkiekarretjies in jou lewe is nog vir jou 'n koets.

[Ds. Hannes Noëth]

Klik HIER en kuier heerlik tussen die nuusblaaie van die Noordkaap Bulletin!

Thursday, 18 July 2024

Noordkaap Bulletin: "Steek hand uit; maak ander se nood ligter"


Dankie, Allan, dat jou uitreik nie net by woorde of wense bly nie, maar dat jy die daad by die woord voeg. Jy het die vermoë om stil-stil 'n mens se oë oop te maak om die nood raak te sien. Baie seën op jou werk vorentoe!

Klik op die berig om te kan lees of lees gerus die artikel van Helena Barnard oor Allan Visagie HIER!

Tuesday, 2 July 2024

Terugflits: Groot probleme, klein treë

As daar nou een ding is wat vir my duidelik is, is dit dat jou kinders as volwassenes nie noodwendig minder moeilikheid vir Pa en Ma beteken nie.

Inteendeel, ek het baie al moes hoor dat ouers sug en sê dat hulle nie weet waar hul kinders se maniere of optrede nou skielik vandaan kom nie. Volwasse kinders kan vir hul ouers groot moeilikheid beteken.

Groot kinders kan hul ouers baie, baie seermaak, soms sonder dat 'n mens dit enigsins verwag. Net soveel seën kinders kan wees, net soveel seer kan hulle ook veroorsaak.

Toe ek dié dag met Ma en Middelseun gesels, het ek besef sy is nou 'n goeie voorbeeld van iemand wat hiervan kan getuig.

Van 'n ma en 'n pa wat oor die jare heen hard probeer het, maar wie se middelste seun net anders as die ouer en jonger broer is. Pas weer is sy verlowing verbreek, het hy sy werk verloor en moeilikheid gemaak.  

Ma soek 'n antwoord, sy weet nie regtig waarheen en hoe met so 'n volwassene wat nie wil hoor nie. Sy het hom reggeleer, reggelei, reg voor hom geleef, maar ai, hy wil nie hoor nie. Hoe oorleef sy met so 'n kind?

Sy het 'n goeie antwoord: "As die moeilikheid groot is, moet 'n mens klein treë gee."

Dié seun het haar geleer om klein treë te gee. Daar kom tye in 'n mens se lewe dat groot treë nie gaan help nie, dan moet jy stuk-stuk beweeg.

As die moeilikheid op sy grootste is, is dit sulke tyd. Dan moet jy klein treë gee en deur die klein treë kom jy stuk-stuk waar jy moet wees.

Ons is geneig om te dink dat groot probleme groot oplossings vra. Ons dink groot moeilikheid kan net met groot treë opgelos word. Hierdie ma het my 'n heeltemal ander perspektief op groot moeilikheid gegee. In groot moeilikheid, gee jy klein treë.

In die volksmond is daar 'n sêding wat lui dat 'n mens 'n olifant happie vir happie moet eet. As die moeiikheid groot is, gee klein treë.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - gaan lees gerus die Twyfelhoekierubrieke op die internet -daar is soveel pitkos om aan te herkou.]

Klik HIER om die artikel Twyfelhoekie: Kyk tog met ’n sagte hart om jou te lees.

Tuesday, 11 June 2024

Terugflits: Moenie oppasser verkwalik

Gewoonlik is daar 'n buurvrou, vriend of familielid wat darem bereid is om na 'n mens se plante en diere om te sien wanneer 'n mens nie tuis is nie. Jy is dalk ook bereid om dit vir iemand anders te doen.

My vriendin Monnick doen so 'n uitsonderlike werk met ons diere wanneer ons nie tuis is nie dat hulle amper spyt is wanneer ons terug is.

Terwyl my broer diensplig gedoen het, moes ek sy slange versorg. Ek was net nege jaar oud, maar hy het my goed touwys gemaak. Om na die slange om te sien was vir my aanvaarbaar, maar om die muise aan die lewe te hou wat weer vir die slange gevoer moes word, was 'n groot uitdaging.

Onlangs het my skoonsus haar man se visse versorg terwyl hy 'n paar weke oorsee was. Die visse het op 'n streep begin vrek. Sy was moedeloos, want sy het al die opdragte wat aan haar verduidelik is so sorgvuldig moontlik uitgevoer. Dit is maklik om honde en katte namens iemand te versorg. Delikate goed soos visse en fyn plantjies is 'n ander storie.

Dalk voel die diere en die plante aan die roetine het verander. Dalk is dit net effens minder of meer water of kos of op 'n ander tyd van die dag as waaraan hulle gewoond is. Dalk mis hulle hul eienaar.

Dit mag wees dat hulle uit protes 'n eetstaking onderneem en so hul eie ondergang bewerkstellig.

As Pollie dus met jou tuiskoms onderin die voëlhok lê of jou fyntuin lyk soos 'n paar dae ná die runderpes, is dit nie noodwendig omdat iemand nie omgee of tyd daarvoor ingeruim het nie.

Dit is dalk net omdat die een wat die oppaswerk moes doen, nie presies dieselfde soort aanvoeling as jy het nie.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]

Friday, 17 May 2024

Terugflits: Soek die juwele in die alledaagse

Juwele kan baie werd wees. Hang af van die vakmanskap en die edelgesteentes of dit kan baie goedkoop wees omdat dit sentiment het. In 'n groot mate word juwele se waarde bepaal deur wat dit vir jou beteken. Daarom vir my so kosbaar die kleine blondekop-meisie wat haar skatte voor my kom uitskud.

Ons kampeer met kinders uit verskillende omstandighede. In haar beperkte konteks en haar vyf jaar van bestaan, ken sy nie diamantringe en goue juwele van 'n sekere karaat nie. Sy weet daarvan, maar die waarde is nog ver bo haar begrip. As sy haar juwele uitskud, dan besef ek sy gaan dit nooit verkoop nie, maar tog is dit van soveel waarde dat haar juwele moeilik vorentoe deur die harde werklikheid van goud en silwer vervang sal kan word.

"Oom, kyk my juweeltjies - ek tel elke dag 'n sak vol op."

Ongelooflik - twee skoenlappers, drie boomsade, 'n dooie tor, 'n wit klip, 'n stukkie rooi gras, 'n boompeul. Dit is haar juwele. Sy het al baie by die huis.

Haar ma het gesê sy mag dit in haar kamer hou. 

'n Mens moet ook nie dink dat sy nie weet wat elkeen vir haar beteken nie. Sy soek haar juweeltjies met die hand uit.

Ek is dom - ek durf vra of elke dag s'n dieselfde lyk. 

Verontwaardig kom die antwoord: "Natuurlik nie, Oom, daar is elke dag nuwe juweeltjies om my. Ek moet hulle net optel."

Hoe wonderlik as 'n mens nog in die klein goedjies juwele kan sien.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Sunday, 12 May 2024

'n Huldeblyk aan alle moeders

In Mei klop ons harte rooi, spesiaal vir ons ma's en sommer vir vrouwees in die algemeen. 

Met Moedersdag om die draai, bring Elsona Steyn hulde aan al die ma's onder ons. Om 'n ma te wees beteken jou hart loop buite jou lyf rond.

'n Ma se hart is 'n snaakse ding; dit wil altyd weet waar en hoe en wat met betrekking tot haar kinders.

Waar is hulle en hoe gaan dit met hulle? Is hulle gelukkig? Want as hulle gelukkig is, is sy gelukkig. Sy beplan warmhart-doendinge vir hulle, onthou-dinge wat hulle vir altyd met hulle kan saamdra. 

Ek bring ook hulde aan al die tweede ma's van die kinders van ons wêreld. Die wat as werker na ander se kinders omsien en hulle soos haar eie grootmaak. Dié wat hulle voed, stories vertel en hulle medisyne gee as die koors rooi op hulle wange uitslaan. Dié wat hulle sag aan die slaap sing as die vaak 'n kombers oor hulle kinderogies gooi en daarna die pad huis toe neem en tuis haar kinders gaan versorg en die rol van moeder, trooster, skoonmaker, kok, onderwyser en anker ook daar vervul.

'n Ma is die een mens wat jou aanvaar soos wat jy is en jou ondanks alles altyd sal liefhê.

Sy vou steeds saans die sagkombers styf agter hul rug in, al is hulle groot. Sy bid steeds dat hulle koersvas op die regte pad sal bly, gee hulle soggens as die dag breek vir haar Here en haar God. En tussendeur onthou sy baie dinge ... Kleintyd-sêgoed, saamwees-tye ...

'n Ma voed haar kinders na liggaam en na siel vir solank as sy leef. Van vroeg af seën sy hulle met kos. Sy staan voor die stoof en haar oë word stil terwyl sy die aartappels skil, die pot se deksel lig en die geure inadem. Sy spoor hulle aan, bederf hulle en bly onbaatsugtig as dit by hulle behoeftes kom.

Daar kom lê 'n saligheid en 'n blywees en 'n diep dankie in die binnekamers van jou hart. Net omdat jy weet jy het die voorreg om 'n ma genoem te mag word.

Hallo jy, fynere geslag. Hier is my Moedersdagwense vir jou:
Mag jou jeans vandag perfek sit, jou hare vandag ekstra blink, sjokolade (net vir vandag) glad nie vet maak nie, mag jy vandag (en veral elke dag hierna) glad nie aan jou potensiaal twyfel nie, selfvertroue uitstraal en jou vrouwees geniet, want sien, om vrou te wees, om ma te wees, is só lekker.

[Elsona Steyn - lesersjoernalis - Noordkaap, Woensdag 7 Mei 2014. Hierdie wense en gedagtes is vandag nog net so relevant. 'n Wonderlike en geseënde Moedersdag.]

Tuesday, 22 August 2023

Potpourri: Misdaad knou die kraai in jou

Met die jaareinde wat nader kom, raak mense meer as gewoonlik bewus van sekuriteit. Terwyl vakansieplanne gemaak word, word oppassers vir hond en huis gereël. Waarskynlik meer vir die huis as vir die hond.

Beleggings word beveilig. Dokumente met vertroulike inligting word in kluise toegesluit. Kluise word agter slot en grendel beveilig. Die sleutels van dié slotte word veilig bewaar.

Dekades gelede het ons 'n voëlpark besoek. Een van die besoekers het vir die kraai in 'n hok 'n blink muntstuk gegee. Die swart geveerde het die muntstuk in sy snawel geneem en ons met sy blink ogies aangestaar. Hy het rondgekyk en 'n sprong af grond gegee. Toe het hy die muntstuk sorgvuldig onder die waterbak weggesteek. Hy het 'n oomblik getalm, besluit dit is nie veilig nie en die muntstuk in sy nes gaan wegsteek. Weer was hy onseker. Ons het 'n halfuur staan en kyk hoe die arme voël plek na plek beproef. 

Sonder rus vir sy gemoed.  

Die samelewing dwing ons waarskynlik om soos hierdie kraai op te tree. Jy kies 'n wagwoord vir jou rekenaar, maar besluit die stelsel is nie veilig nie. Jy moet jou wagwoord verander.

Later sit jy met wagwoord op wagwoord op wagwoord. Een vir jou rekenaar by die werk. Een vir jou rekenaar by die huis. Een vir die program waarop jy werk. Een vir die bank.

Te midde van die diefwering, sekuriteitskameras, talle wagwoorde en persoonlike identifikasienommers raak diegene wat nie voorheen paranoïes was nie, effens onrustig.

En die kraai binne-in ons wonder: "Bestaan daar 'n plek wat waarlik veilig is?"    

*Noordkaap 22 November 2017 - Karin Muller

[Dankie, Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is altyd iets in hierdie rubrieke om aan te herkou.]