Showing posts with label Lig. Show all posts
Showing posts with label Lig. Show all posts

Friday, 19 December 2025

Gedig: Kruise langs mekaar

Elke huis het sy kruis,
’n las wat net die draer ken.
Ek dra myne, jy dra joune - nie omdat ons wil nie,
maar omdat dit ons s'n is.

Jy sou myne optel as jy kon,
ek sou joune dra as ek mag.
Maar ’n kruis pas net op een skouer,
en tog, loop ons langs mekaar,
tree vir tree,
jou sug is my gebed,
my las is jou fluistering in die nag.

Dis ligter so - nie omdat die kruis krimp nie,
maar omdat ons weet,
ons is nie alleen nie.

Jy bid vir my, ek bid vir jou,
want dis altyd makliker
om die hemel te storm
vir iemand anders se seer
as vir jou eie stukkend.

Maar miskien,
net miskien,
is dit presies waaroor vriendskap gaan -
nie om die kruis weg te vat nie,
maar om dit te sien,
te erken,
en saam te loop,
langs mekaar,
deur die stof,
tot by lig.

[Skrywer onbekend]

Thursday, 12 June 2025

Maniere om jou daaglikse bagasie minder te maak

* Gooi die griewe in jou lewe weg.

* Sit daardie gevoel (die bagasie!) neer - dinge soos vrees of irritasie, of jaloesie of moedeloosheid.

* Herbesin jou doelwitte - pas dit aan.

* Sê basta vir besittings – dit kan ook bagasie wees - materiële begeertes!

* Haal die masker van 'n beter jy af.

* Verpes perfeksionisme.

* Roep halt met die media, ook sosiale media - die moderne tyddief.

* Word bevry van werkverslawing.

* Laat staan jou agterdog oor God.

[Lees gerus verder HIER.] 

Thursday, 5 June 2025

Hoeveel van ons het al geleer hoe om ons bagasie neer te sit?

Daar word vertel van die ou tannie wat langs die pad deur ’n donkiekar opgelaai word. Die drywer sit haar tas voor by haar voete neer. Toe hy weer kyk, sien hy sy het dit op haar skoot getel.

“Hoekom, Tannie?” vra hy verbaas.

Haar antwoord?

“Die arme donkies trek reeds so swaar; ek wil dit nie vir hulle nóg swaarder maak nie.”

Dalk was sy regtig oor die donkies bekommerd. Waarskynlik wou sy bloot die tas so naby moontlik aan haar hou. Sy kies die swaar dra, sy het daaraan gewoond geraak. Sy ken nie die rykdom van ’n ligter lewe nie.

Hoeveel van ons het al geleer hoe om ons bagasie neer te sit?

Dit is ook só dat juis wanneer ons dink ons dra swaar, daar wonderlike groei uit daardie swaarkry kan spruit.

Dit is dus die wysheid om te weet: Wat ek moet neersit omdat dit my terug hou, en watter dinge kan ek in dankbaarheid saamneem omdat dit my geestelike groei bewerkstellig.

Mag jy daardie wysheid vind in die teenwoordigheid van God wat al die dae van jou lewe ken, wat jou naam in sy handpalm gegraveer het, wat vir jou alles gee wat nodig is om 'n vol lewe te lei.

[Francine Prins - redakteur van Lig 19 Junie 2024] 

Klik HIER vir nog 'n donkieperspektief.

Monday, 29 July 2024

Min woorde stuur ek aan jou ...

Ek lees vandag iets raak van @Susan Coetzer wat ek nie anders kan as om te deel nie, omdat ons in ons huwelike en verhoudings mekaar kan afbreek of opbou met ons woorde. Dít wat sy skryf is lewensveranderend as jy dit kan bemeester!!!!

Sy skryf: "Ek het besluit om 'n bietjie te vas. NEE nie van kos nie - veels te honger en dan nie genoeg energie vir draf of optredes nie. Ek vas van WOORDE. Ek hou hulle in my gedagtes en bekyk hulle - het hulle NUT of is dit sommer net geluide - soos die geblaf van honde en karre wat jaag.

Ons praat so maklik en so baie ... NONSENS. Tot 'n mens besef HOEVEEL krag daar in die gesproke woorde is. Die Hele Skepping is met WOORDE geskep.

God het gesê: Laat daar LIG wees, met WOORDE. En toe was daar was LIG.

Wat sê jy met JOU WOORDE? 

Oor die land: Die land is in sy maai. Die land is korrup. Bankrot. 'n Nare plek om in te woon met nare mense.

Oor mense: Jou vark? Jy is treurig. Jou dom onnosele &*%#. Jy maak my siek!

En oor jouself: Ek kan nie. Ek is moeg. Ek is siek. Ek is sat. Ek is af. Ek is depressief. Ek glo nie meer nie. Ek is vet. Ek is lelik. Ek is sonder talent. Ek is bang ... Ek is kragteloos. Hopeloos.

OPPAS wat jy sê. As die meeste woorde wat by jou mond uitkom, negatief en onopbouend is, het dit 'n negatiewe effek. Op jou en almal wat jou aanhoor.

Is dit tyd dat jy VAS saam met my.

Geen mens kan die tong self tem nie - jy moet saam met die Here klas loop om te leer SNOEI aan die onkruide in jou woordeskat - om meer en meer woorde van LEWE te spreek in plaas van dood. Oor die land, oor die mense wat jou irriteer, oor jouself - as jy papgeslaan voel.

LIG jouself en ander met jou woorde.

Woorde is nie net lettertjies nie. Dis gelaai met KRAG. Krag om op te bou en krag om te vernietig.

Daarom is 'n goeie vas baie gesond. Vas so 'n bietjie van onnodige woorde: Vra die Here om jou te wys waar jy woorde tot jouself en ander se leed inspan. 

Skinder jy maklik? Is jy lief om slegte nuus aan te dra. Onmin tussen mense te saai? Kla jy gereeld - sommer as 'n gewoonte. Vloek jy of seën jy?

Kom ons vas so 'n bietjie vanaand - deurdink ons baie woorde in God se Stilte. Rol hulle in jou kieste rond. Proe hulle in jou gedagtes. VOEL die uitwerking van die woorde wat jy wil sê - spreek dit van LIG of van donker.

Bekyk jou gedagtes. Dis die enjin wat jou woorde aanvuur. Die Woord sê duidelik, dit wat in jou gedagtes (jou hart) omgaan bepaal jou hele toekoms. En ander s'n ...

Sit vandag so 'n oomblik daai handrem op al die nonsens praat. Al die twak. Al die leuens. Die woede. Die geskinder. Die suur woorde. Die snydende woorde. Die wrede woorde. Die woorde wat jou (en ander) afbreek en beperk.

Kom ons krul die tonge terug soos biltong en sit 'n slot om die punt.

Druk die oer krokodilbrein TERUG in sy kas. DINK en besin voor ons praat. Vra jouself: Is dit opbouend om die woorde te gebruik? Is dit goed. Is dit nodig? Want woorde is almal vuurhoutjies - dit kan groot vure aansteek. 'n Vuur van lewe of  'n vuur van dood. En dis moeilik om daai vure dood te slaan. Veral die vuur wat skroei. Nie eers die brandweer se hose pipe is lank genoeg nie.

LIEFDE en min woorde stuur ek aan jou.

[Bron: Loka - dankie Rosetta vir die aanstuur.]

Sunday, 23 June 2024

Mossiestilte: Hand. 7:55

Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.

God kom eerstens en openbaar Homself in al sy glorie en heerlikheid aan jou vandag. Stéfanus het sy oë op die regte plek gehad; hy het verby die probleem gekyk en die oplossing raakgesien, al was hy in groot nood. Nes jy dink die probleme hou op, steek 'n nuwe probleem sy kop uit. Jou lewe is nie 'n gelykpad nie, maar die Here is jou oplossing vir al jou probleme.

Leer my Heilige Gees, om altyd my afhanklikheid op my knieë in gebed na U toe te bring. Op my knieë wil ek u grote Naam aanroep. Met my oë gerig op U, wil ek verby my probleme kyk en net op U fokus. U is my Redder en die een wat my nooit alleen laat nie. Op my knieë is U waarlik goed en sorteer U al my probleme uit. Ek loof U en prys U, tot die dood toe. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 12 June 2024

Mossiestilte: Matt. 4:16

Die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien, en die wat sit in die land van die skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan.

Die Here nooi jou uit om tot bekering te kom, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Jesus sê kom agter my aan, laat vaar die wêreldse dinge en volg die wil van my Vader. Sommige sal alles net so los en ander sal aan die aardse vashou. En groot menigtes het Hom gevolg, volg jy Hom ook vandag sonder om terug te draai, in vaste geloof.

Dankie Here, U kom red my toe die donker my oorval. Ek gaan deur die dal van doodskaduwee, maar U lig het vir my opgegaan. Die bloed van Jesus lei my voort. My Herder sorg vir my siel en lei my na groen weivelde en na waters waar rus is. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 18 February 2024

... maar nie jy nie

Jim Rhon het gesê: “Laat ander klein lewens leef, maar nie jy nie.
Laat ander oor klein goedjies stry, maar nie jy nie.
Laat ander hulle toekoms in iemand anders se hande plaas, maar nie jy nie.”

Dit gaan meer as ooit nodig wees, om die Lig wat die Woord ons gee, te gebruik op die pad wat effe duister voor ons uitstrek. “The presence of the problem doesn’t mean the absence of God.”

Tuesday, 19 September 2023

Ons kán mekaar oppas ... ons móét mekaar oppas

Sy foon het per ongeluk onder gebed in die kerk gelui ...

Die pastoor het met hom geraas.

Die ander aanbidders het hom agterna berispe vir die onderbreking.

Sy vrou het al die pad huis toe aangehou om hom te herinner aan sy agterlosigheid.

Sy medewerkers het net die kop geskud in afkeur.

Jy kon die skaamte, ontnugtering en vernedering op sy gesig sien. Hy’t nooit weer sy voet in die kerk gesit nie. Daardie aand is hy na ‘n kroeg toe. Hy was nog senuagtig. Derhalwe het hy sy drank op die tafel gemors, die bottel het omgeval en van die vloeistof het op sommige mense gespat. Hulle het hom dadelik omsingel. Hy’t sy oë toegemaak en die ergste woorde en aksie verwag.

In plaas daarvan wou almal weet of hy okay is en of die bottel hom nie dalk beseer het nie. Die kelner het verskoning gevra en hom ‘n lap gegee om skoon te maak. Die skoonmaker het die vloer kom droogmaak. Die bestuurder het hom ‘n rondte verniet op die huis aangebied. Sy het hom ‘n warm drukkie gegee en gesê: “Moenie komkommer nie man! Wie van ons maak nie foute nie?”

Hy was sedertdien nog elke dag in die kroeg.

# Ons houding dryf ander gelowiges soms hel toe.
# Jy kan ‘n verskil maak oor hoe jy mense hanteer, veral as hulle foute maak.
# As jy nie ‘n brug kan wees om mense te verbind nie; moenie ‘n muur wees wat hulle vervreem en weghou nie.
# As jy nie ‘n lig kan wees om mense se goeie dade op te helder nie, moenie die donker kombers wees wat hulle pogings verduister nie.
# As jy nie water kan wees wat mense se plante kan reën gee nie, moenie die gif wees wat hulle oes vernietig nie.
# As jy nie die inenting kan wees om lewe te gee nie, moenie die virus wees wat dit vernietig nie.
# As jy nie die pen kan wees om iemand se geluk op te teken nie, wees dan die vriendelike uitveër om hulle droefheid te laat verdwyn.

Ons kán mekaar oppas. Laat ons die wêreld genees en sout wees. 

JA! Ons kan!

[Dankie, Anoniem, vir hierdie stof-tot-nadenke-stuk]

Friday, 4 August 2023

Lees LIG

Maak die tydskrif LIG deel van jou lewe. Klik HIER om hartsartikels uit LIG te lees. Rol af tot aan die onderkant van LIG se webwerf en vul jou e-posadres in as jy wil inteken op LIG se gratis nuusbrief. 

In die regterkantse hoek is daar plek om in te teken op hierdie inspirerende tydskrif.

Die tydskrif is gelaai met artikels vir elke behoefte, struikelblokke, omgee, inspirasie, raad en menslike stories ... hartstories om oor na te dink. 

Tuesday, 4 February 2020

Sunday, 10 March 2019

Saturday, 10 March 2018

Sunday, 22 October 2017

Sunday, 23 July 2017

Tuesday, 7 June 2016

Matthew 5:14


Monday, 6 June 2016

I am a light!


Wednesday, 9 September 2015