Monday 29 July 2024

Min woorde stuur ek aan jou ...

Ek lees vandag iets raak van @Susan Coetzer wat ek nie anders kan as om te deel nie, omdat ons in ons huwelike en verhoudings mekaar kan afbreek of opbou met ons woorde. Dít wat sy skryf is lewensveranderend as jy dit kan bemeester!!!!

Sy skryf: "Ek het besluit om 'n bietjie te vas. NEE nie van kos nie - veels te honger en dan nie genoeg energie vir draf of optredes nie. Ek vas van WOORDE. Ek hou hulle in my gedagtes en bekyk hulle - het hulle NUT of is dit sommer net geluide - soos die geblaf van honde en karre wat jaag.

Ons praat so maklik en so baie ... NONSENS. Tot 'n mens besef HOEVEEL krag daar in die gesproke woorde is. Die Hele Skepping is met WOORDE geskep.

God het gesê: Laat daar LIG wees, met WOORDE. En toe was daar was LIG.

Wat sê jy met JOU WOORDE? 

Oor die land: Die land is in sy maai. Die land is korrup. Bankrot. 'n Nare plek om in te woon met nare mense.

Oor mense: Jou vark? Jy is treurig. Jou dom onnosele &*%#. Jy maak my siek!

En oor jouself: Ek kan nie. Ek is moeg. Ek is siek. Ek is sat. Ek is af. Ek is depressief. Ek glo nie meer nie. Ek is vet. Ek is lelik. Ek is sonder talent. Ek is bang ... Ek is kragteloos. Hopeloos.

OPPAS wat jy sê. As die meeste woorde wat by jou mond uitkom, negatief en onopbouend is, het dit 'n negatiewe effek. Op jou en almal wat jou aanhoor.

Is dit tyd dat jy VAS saam met my.

Geen mens kan die tong self tem nie - jy moet saam met die Here klas loop om te leer SNOEI aan die onkruide in jou woordeskat - om meer en meer woorde van LEWE te spreek in plaas van dood. Oor die land, oor die mense wat jou irriteer, oor jouself - as jy papgeslaan voel.

LIG jouself en ander met jou woorde.

Woorde is nie net lettertjies nie. Dis gelaai met KRAG. Krag om op te bou en krag om te vernietig.

Daarom is 'n goeie vas baie gesond. Vas so 'n bietjie van onnodige woorde: Vra die Here om jou te wys waar jy woorde tot jouself en ander se leed inspan. 

Skinder jy maklik? Is jy lief om slegte nuus aan te dra. Onmin tussen mense te saai? Kla jy gereeld - sommer as 'n gewoonte. Vloek jy of seën jy?

Kom ons vas so 'n bietjie vanaand - deurdink ons baie woorde in God se Stilte. Rol hulle in jou kieste rond. Proe hulle in jou gedagtes. VOEL die uitwerking van die woorde wat jy wil sê - spreek dit van LIG of van donker.

Bekyk jou gedagtes. Dis die enjin wat jou woorde aanvuur. Die Woord sê duidelik, dit wat in jou gedagtes (jou hart) omgaan bepaal jou hele toekoms. En ander s'n ...

Sit vandag so 'n oomblik daai handrem op al die nonsens praat. Al die twak. Al die leuens. Die woede. Die geskinder. Die suur woorde. Die snydende woorde. Die wrede woorde. Die woorde wat jou (en ander) afbreek en beperk.

Kom ons krul die tonge terug soos biltong en sit 'n slot om die punt.

Druk die oer krokodilbrein TERUG in sy kas. DINK en besin voor ons praat. Vra jouself: Is dit opbouend om die woorde te gebruik? Is dit goed. Is dit nodig? Want woorde is almal vuurhoutjies - dit kan groot vure aansteek. 'n Vuur van lewe of  'n vuur van dood. En dis moeilik om daai vure dood te slaan. Veral die vuur wat skroei. Nie eers die brandweer se hose pipe is lank genoeg nie.

LIEFDE en min woorde stuur ek aan jou.

[Bron: Loka - dankie Rosetta vir die aanstuur.]