Wednesday 3 July 2024

Mossiestilte: Geestelike wasgoed

Heer, ek staan vanoggend voor U met my bondeltjie geestelike wasgoed. My mandjie loop oor. Here, help my asseblief om dit te sorteer? Met U hoef ek nie vlekverwyderaar te koop nie, want U bloed was my witter as sneeu.  

U ken my hart. Was my en hang my in U sonlig van geregtigheid. Al wapper ek soms teësinnig in U winde van verandering, moet my asseblief nie van die lyn afhaal voordat ek skoon, heel, droog en bruikbaar in U diens is nie.  

Heer, stryk al die kreukels van depressie, selfbejammering, bitsigheid en alle sonde uit met U strykyster van liefde, vergifnis en genade. 

Heer, waar ek by 'n kruispad in my lewe staan en keuses moet maak, help my om die regte besluit te neem en die regte kledingstuk te kies vir die pad wat U my wys.  

Stop asseblief weer al die stukkende gate met U garing van liefde en genade. Ek plaas my hele wasgoedmandjie in U bekwame hande en wanneer U met my klaar is, hang my op sodat almal U in my kan sien. Dankie Heer. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]