Showing posts with label Hemel. Show all posts
Showing posts with label Hemel. Show all posts

Thursday, 16 April 2026

Dink hieroor: Wat van vandag?

Ons het so gewoond geraak om die vraag te vra: “Gaan jy eendag hemel toe as jy doodgaan?” 

Eendag ... "the pie in the sky when you die ..." 

Maar wat van vandag? 

Is die werk van iemand wat die Here ontmoet het, om nou die hele tyd net te wag totdat die eendag aanbreek?

Nee, vandag moet ...
* mense by ons die ewige lewe kan sien in ons oë.
* hulle dit kan sien in ons dade en hoe ons teenoor ander optree.
* hulle dit kan hoor in ons woorde en gesprekke.

Hulle moet daarna verlang om ook die ewige lewe te hê. Sodat hulle, soos ons vandag, as kinders in die huisgesin van God kan woon en daarom kan staatmaak op die versorging van die goeie Vader van die huisgesin.

Dit is vandag die voorreg van mense wat reeds die ewige lewe het!

Thursday, 26 February 2026

Dink hieroor: God se oneindige liefde

Redding is 'n gawe van God se oneindige liefde. Die hemel is net ons s'n weens sy genadegawes. 

Menslike trots het geen plek in hierdie verlossingswerk nie. Ons nuwe lewe in Christus is God se kreatiewe meesterstuk. Hy het 'n pad van goeie werke voorberei vir ons en Hy sal daardie goeie werke in ons lewens laat gebeur soos ons deur die geloof wandel. 

Dit is die Christelike lewe: Want deur genade is julle gered, deur die geloof - en dit is nie uit julleself nie, dit is die gawe van God - nie deur werke nie, sodat niemand kan roem nie. Want ons is God se handewerk, wat in Christus Jesus geskep is om goeie werke te doen, wat God vooraf voorberei het vir ons om te doen. (Efesiërs 2: 8-10, NIV)

Elke goeie en volmaakte gawe is van bo af, afkomstig van die Vader van die hemelse ligte, wat nie verander soos verskuiwende skaduwees nie. Hy het gekies om ons geboorte te gee deur die woord van waarheid, sodat ons 'n soort eersteling kan wees van alles wat hy geskep het. (Jakobus 1: 17-18, NIV)

Tuesday, 23 September 2025

Kry jou kaartjie betyds

Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie."
- Joh. 14:6

Jy kan op enige trein klim en afklim waar jy wil wees - solánk jy 'n kaartjie het! Dieselfde geld as jy met 'n vliegtuig êrens heen wil gaan. Jy kan heerlik gemaklik sit, 'n fliek kyk, iets drink en na énige plek in die wêreld vlieg - solank jy net 'n kaartjie het!

As jy eendag hemel toe wil gaan, moet jy reeds nóú jou kaartjie kry. Die enigste manier wat jy in die hemel gaan kom, is om in Jesus Christus te glo. Hý is die énigste weg!

Dierbare GOD, ek gló dat JESUS vir my sondes gesterf het. Ek glo dat HÝ in my hart lewe en daarom WÉÉT ek ek gaan HEMEL toe. Help my asseblief om vir ánder mense daarvan te vertel, sodat húlle óók hemel toe kan gaan. Amen

[Carolyn Larsen]

Monday, 25 August 2025

Gebed: Gebed veroorsaak 'n beroering

ELKE keer wanneer ons BID,
is daar ‘n BEROERING in die HEMELE en op AARDE.
Elke GEBED wat ons BID,
sneller ‘n Goddelike REAKSIE in die GEES.
Die ALLERHOOGSTE GOD mis nie een gebed nie.
Elke gebed wat ons BID,
het bonatuurlike MOMENTUM en KRAG.
Gebed verander nie net OMSTANDIGHEDE vir ons nie.
Dit verander ook ONS vir die omstandighede.
Soms bid ons vir die BERG om te skuif …
maar dikwels skuif die HERE ons.
Soms gee die HERE nie vir ons wat ons gevra het nie,
want Hy het iets BETERS in gedagte.
Solank ons net glo en verstaan:
HY weet altyd die BESTE vir ons.
Daarom het HY die LAASTE SÊ!
GEBED is altyd ‘n teken
van ons KINDERLIKE geloof in die Lewende GOD.
Dankie VADER dat U altyd na ons GEBEDE LUISTER!
Amen.

Monday, 11 August 2025

Mandjie Hoop: Bekeringsoomblik

Toegang tot die hemel
is nie in die uur van ons dood nie,
maar die oomblik van ons bekering.

- Benjamin Whichcote (1609 – 1683) -

Tuesday, 8 July 2025

Mandjie Hoop: Maak skatte in die hemel bymekaar

Matteus 6:19-21 sê:

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie ...
Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar ...
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Hoe kan jy nou hierdie koninkrykbeginsel prakties uitleef?
Hoe kan jy perspektief behou, in terme van die materiële in jou lewe?

Kies die krag van eenvoud.
Leef binne jou inkomstegrens. Koop minder.
Jy het nie die grootste, beste en nuutste nodig nie.

Konsentreer op die dinge wat die kosbaarste is in die lewe,
en wat geen geld kan koop nie.
Verhoudings, liefde, tyd, gesondheid.
Die grootste gawes van God!

Ontwikkel jou waardering vir die klein dingetjies in die lewe.
Dit kom ook alles van God af!
Sien dit raak en koester dit.

Onderskei wat die advertensie nou eintlik aan jou wil verkoop.
Status, mag, gewildheid ...

Vrygewigheid help om op die koninkryk gerig te wees.
Gee eerder, as om te ontvang.
Gee eerder die einste goed wat jy wil hê, weg!
Vrygewigheid help jou om vry te kom van “goed”.
Eenvoud, uitreik, en omgee, maak jou vry van “goed”.

Leef hierdie koninkryks-avontuur!
Maak saam met die Here skatte in die hemel bymekaar.
“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees,” sê die Here Jesus.

[Bron: Klik HIER]

Wednesday, 13 November 2024

Gedig: God se ambassadeur

woon jy in 'n praghuis hier op aarde
of verkies jy net 'n tent
het aardse goed vir jou baie waarde
of hou jy vas aan geen rand en sent

bou jy elke dag aan 'n skat in die hemel
of moet jy nou prag en praal geniet
eet jy eerder aan die varke se semel
en weet verseker wat word op die einde aan jou gebied

die aardse skatte is nie vir ewig
maar tog hardloop duisende dit agterna
vir my: al is die stryd hoe hewig
wil ek my hemelse-ambassadeurskap dra
©DELIEN BRONKHORST

[Rosetta deel hierdie waarheid met die lesers]

Wednesday, 30 October 2024

Oggendgebed vanne plaasklong

Ek kyk met my hart byrie venster yt
hoevil dankies sil ek vemore
voor God se voete ga lê

My blydskap ko va U af my God
U wat hierie hemel op are
vi my ko gee het
sonner lat ek da voor gevra het
nog minner vi dit gebid’ it
het U my die heerser da van gemaak

Daarom skenk ek vemore
my hele self aan U solat die mense
ka sien lat ek u se kjend is
lat u my met U se liefde
aangetrek het

Amen en amen again en again.
 
Andy Paulse

[Bron: Snuffelgids 9 Maart 2014 - SA Gemeente Loughton]

Tuesday, 29 December 2020

My beker loop oor, wanneer:

1. Ek genoeg lewensmiddele het vir een dag. In die Onse Vader-gebed bid  ons “gee my vandag my daaglikse brood”, en dit beteken dat jy net genoeg moet hê vir een dag. As jy dus meer as dit het, stort jou beker soos 'n waterval oor sy kante.

2. Ek relatiewe goeie gesondheid geniet. Daar staan geskrywe: waar daar lewe is, is daar hoop. As jy dus, soos ek, gesond is, stort daai beker oor sy kante.

3. Ek goeie verhoudinge met mense het; met familie, vriende, werksmense, huweliksmaat, want dan beteken dit dat jy ondersteuning het in moeilike tye. Spr 17:17: Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken.

4. Ek die genade van geloof het, want dit is 'n gawe uit die hand van God. As jy in God glo, en in Jesus se versoeningswerk, dan maak dit vir jou die poorte van die hemel summier wyd oop.

5. God homself aan my openbaar. Hoe sou jy voel as Madiba jou vandag bel? Of Barak Obama? Of Bill Gates, Brad Pitt of Charlize Theron? Besef jy dat hulle ou oproepie NIKS is teen Hom wat alles in hierdie heelal geskep het nie. Hy wat elkeen van hierdie hooggeplaastes met Sy eie hande gevorm het! Wow, die grootste Een in die hele heelal, roep jou vandag. Openbaring 3:20: Kyk Ek staan by die deur en klop ...

6. Ek besef ek spring die kruis vry, want Jesus het dit klaar gedoen.

Vriend, jou beker loop oor ... glo dit, en leef so! 

(www.heuning.co.za)

Sunday, 10 May 2020

Die Hemel het ‘n nommer ...

Ek wil my ma bel.
Ek moet eenvoudig met haar praat. 
Al is dit net vir drie minute. 
Ek wil haar stem hoor ... ek wil hoor hoe sy vir my sê: ‘My wêreld, is dit jy? En hoe gaan dit ...?"

Maar ek kan nie my ma bel nie. 
Want die Hemel het nie ‘n nommer nie. 
Nie onder die "H’s" in die telefoongids nie; 
nie eers in die Geel Bladsye nie – dis verstommend: 
in hierdie tegnologiese eeu, met knoppies en rekenaars en satelliete, 
is daar gee direkte lyn Hemel toe nie.

In desperaatheid droom ek een nag, dat ek deurkom Hemel toe.
"Kan ek asseblief met my ma praat?" vra ek. "Sy is Hettie Ellis – net vir drie minute, asseblief?"
"By watter afdeling is sy?" vra ‘n sagte stem.
"Afdeling? ... Sy ... sy is seker by die hekel- en breiafdeling?"
Haar hande was nooit stil as sy televisie gekyk het nie, altyd hekel- of breipenne wat saggies, gerusstellend, klik-klik-klik.
Maar die stem sê: "Ons het nie ‘n hekel- of breiafdeling nie. Ons is omgewe van die lig ... ons word omvou deur Sy warmte ...” Hulle dra dus nie klere nie. Hulle brei nie.

"Probeer asseblief die bak-afdeling."
Natuurlik, sy sal daar wees.
Na haar dood het ek naarstiglik die laaste stukkies beskuit uit die blik gaan haal en dit gevries.
Ek sou dit nie kon eet nie ... ek moes dit hou – sommer net om na te kyk.
Maar die stem sê: "Ons het nie ‘n bak-afdeling nie. Ons lewe van die vrugte van die Gees"

Ek bly ‘n rukkie stil. "Probeer asseblief die tuinafdeling."
Sy was so lief vir die grond, so deel van die aarde ... maar die stem antwoord: "Ons saai nie en ons plant nie. Ons besit reeds die Ewige Saad"

Ek raak desperaat en ek vra:
"Nou watter afdelings is daar dan?"
Die stem is sag en geduldig. "Ons het kore ..."
"Kore?" vra ek, "Ek weet darem nie ... sy was nooit juis ‘n voorsanger nie ... wat is daar nog?"
Die stem raak nie ongeduldig nie. "Daar is ook hulle wat sit by die voete van die Een wat onderrig."
"Sit hulle net?" vra ek nuuskierig. "Ek weet darem nie. Ek het my ma nooit juis sien sit nie."
"Hulle sit en luister na die Stem."
"O, ja! Sy sal dáár wees!” jubel ek. Ja, ek moes dit mos geweet het!
My ma was ‘n simpatieke, en intense luisteraar. Haar oë, haar gesig, haar hele lyf het altyd saam geluister. "Kan ek met haar praat?" vra ek opgewonde. "Ek is seker sy sal daar wees!"
"Hulle wat luister, word nie onderbreek nie," sê die stem baie sag. "Maar as jy wil, kan jy kom saamluister."
Die droom is verby.
Maar in die môre, toe ek my stiltetyd hou, onthou ek dit weer.
En toe ek kniel, bid ek nie.
Ek luister.
En ek hoor ‘n stilte vol vrede ... en in die vrede is daar troos.
En in die troos is daar Sy arms wat my vashou.
En Sy vashou voel soos my ma se lyf ... nog beter: volkome.
Ek word bewus van die direkte lyn Hemel toe.
Die lyn wat daar was, van die heel begin af.
Nog voordat almal so slim geword het.
Die lyn wat nooit onderbreek word nie, nooit beset is nie.
Die lyn wat verniet is, en waarvoor jy nie eers ‘n rekening hoef te betaal nie.
Jy hoef selfs nie eers ‘n nommer te onthou nie.

Want die Hemel is net ‘n stiltetyd, dis net ‘n gebed ver.

~ Nelia ~

Friday, 15 February 2019

Thursday, 22 February 2018

Lewe so...


Friday, 24 February 2017