Showing posts with label Pa's. Show all posts
Showing posts with label Pa's. Show all posts

Sunday, 21 June 2026

Vadersdagwense

Pa doen soveel vir my
op eg vaderlike wyse.

Pa gee soveel liefde

daarvan is oorgenoeg bewyse;

My beste wense vir Vadersdag,

gelukkig en ook uitsonderlik,

Want Pa verdien net die beste ...

Pa is met een woord:

WONDERLIK!


[Dankie, Suzann, vir jou wense.]

Sunday, 18 June 2023

Ek is nog steeds jou Pa ...

Ek is nog steeds jou Pa ...
As jy nie meer luister of omgee wat ek sê nie.
Ek is nog steeds jou Pa ...
As jy besluit dat ek outyds is en jou eie pad wil gaan.
Ek is nog steeds jou Pa ....
As jy terugpraat, kla en stry.
Ek is nog steeds jou Pa ...
As jy dink, jy weet jy meer as ek.
Ek is nog steeds jou Pa ...
As jy wegtrek en 'n stukkie van my hart saamneem.
Ek is nog steeds jou Pa ...
En ek sal jou nog net so lief hê soos die eerste dag toe ek jou in my arms gehou het.
Ek is nog steeds jou Pa ...
En ek sal vir jou bid en sorg dat jou vlerke sterk genoeg is om te sweef.
Ek is nog steeds jou Pa ...
ek sal wil hê wat die beste is vir jou en ek sal my planne vir joune opoffer.
Ek is nog steeds jou Pa ...
Ek sal altyd plek vir jou hê en 'n drukkie om jou te verwelkom.
Ek is nog steeds jou Pa ...
En tot my laaste asem sal ek jou liefde aanhou dra.
En dank God elke dag vir die voorreg en vreugde wat dit al genoem is
Jou Pa.

[Oorgeneem]

Sunday, 21 June 2020

Vadersdag: 1 Korinthiërs 13 vir Pa's ...

Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry,
maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, 
dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.

Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, 
of skares na my preke kan laat stroom, 
en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, 
doen ek meer kwaad as goed.

Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, 
en al besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, 
en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, 
maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, 
langs die baan te staan as hulle speel 
of hulle te leer bid nie, 
dan het ek niks bereik nie.

Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, 
en al beroem ek my dat ek in elke liefdadigheidsraad op my dorp dien 
en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, 
en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees 
of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.

'n Pa wat lief het, 
is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie.

'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders lief het, 
hou nie boek van hulle foute 
en peper hulle nie met verwyte nie.

'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku, maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie nadeel.

Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
in hulle glo,
die beste vir hulle hoop,
en hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.

'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. 
Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.

Toe ek 'n jong man was, 
was ek gesteld op my voorkoms, 
my motor en my geleerdheid,
maar noudat ek 'n pa geword het, 
wil ek graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak.

Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
maar eendag as hulle groot is,
sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
en wat God ons almal leer.

En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!

[Bron]