Showing posts with label Ewige Lewe. Show all posts
Showing posts with label Ewige Lewe. Show all posts

Tuesday, 17 February 2026

Mandjie Hoop: Om God te kies, is om:

• Ewige lewe te kies
• Volkome liefde te beleef
• Genade te ontvang
• In Sy voorsiening te leef
Dis nie altyd maklik nie, maar dit’s altyd die moeite werd.
* KIES WYSLIK. 
* KIES VIR GOD.
Wat jy vandag saai in geloof, 
sal jy môre in seën oes!

Sunday, 4 January 2026

Mossiestilte: Joh. 11:25 & 26

Jesus antwoord vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Jesus het vir jou sondes gesterwe en vir jou die ewige lewe gegee.
Jy sal nooit sterwe as jy in Christus Jesus glo nie.
As jy glo, is Christus jou opstanding en lewe, al het jy ook gesterwe.
Hierdie lewe op aarde is waarvoor God jou geskape het, om sy wil te volbring en Hom te verheerlik.

Dankie, Here, ek is verseker van die ewige lewe omdat U vir my met u bloed betaal het. Ek luister na U stem en volg U, want ek is deel van u kudde deur u genade (vergelyk Joh. 10:27). Ek en die Vader is een, (Joh. 10:30). Dit getuig van U, my Vader, se liefde vir my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 3 August 2025

Wie is Jesus?

• Vir die juwelier is Hy die Kosbare pêrel. 
• Vir die bakker is Hy die Brood van die Lewe.
• Vir die oogarts is Hy die Stralende Oë.
• Vir die dokter is Hy die Groot Geneesheer.
• Vir die bankier is Hy die Kosbare Skat.
• Vir die tuinier is Hy die Herfsroos van Saron en die Lelie van die Velde.
• Vir die koerantman is Hy die Tyding van Groot Blydskap.
• Vir die geoloog is Hy die Ewige Rots.
• Vir die regter is Hy die Waaragtige Getuie.
• Vir die advokaat is Hy die Voorspraak.
• Vir die prisonier is Hy die Verlosser.
• Vir die dorstige is Hy die Fontein van Lewende Water.
• Vir die landbouer is Hy die Ware Wynstok.
• Vir die skaapwagter is Hy die Goeie Herder.
• Vir die sterrekundige is Hy die Blink Môrester.
• Vir die musikant is Hy die Soetste Melodie.
• Vir die kunstenaar is Hy die Lieflikheid self.
• Vir die treurende is Hy die Trooster.
• Vir die sagmoedige is Hy die Prins van Vrede.
• Vir die vermoeide is Hy die Een wat Rus gee.
• Vir die sondaar is Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
Vir elkeen van ons is Hy die Ewige Lewe!!

Thursday, 8 August 2024

Die vurk

‘n Jong meisie is met ‘n terminale siekte gediagnoseer. Menslik gesproke het sy nog drie maande om te leef. Sy begin dadelik om haar sake in orde te kry. In ‘n gesprek met haar predikant versoek sy watter liedere sy graag op haar begrafnis wil laat sing, asook die skrifgedeelte wat hy moet lees.

Toe die predikant groet, onthou sy nog iets wat vir haar baie belangrik is. “Daar is nog iets, Dominee.” “Wat is dit?” 
“Ek wil graag met ‘n vurk in my hand begrawe word. Dis vir my baie belangrik.” 
Die predikant lyk verdwaas. “Wat ‘n eienaardige versoek”.
“By die restaurante waar ek al sosiale funksies bygewoon het, het iemand na die hoofdis, wanneer die eetgerei weggeneem word, gefluister: “Hou jou vurk.” Dan het ek geweet daar is nog iets heerlik wat gaan kom, soos veerligte sjokoladekoek of besonderse appeltert. So wil ek graag hê die mense moet my in my kis sien met ‘n vurk in my hand. Ek wil hê elkeen moet wonder en vra: “En die vurk? Waarvoor is dit?” Dan moet u antwoord: “Hou jou vurk, as jou saak met die Here reg is, kom die beste nog.”

Met trane in sy oë groet die leraar. Hy besef die jong vrou het ‘n wonderlike idee van die hiernamaals. Selfs beter as hy. Selfs beter as ouer gelowiges met baie meer lewenskennis. Sy WEET iets beter wag op haar, want haar saak met God is reg.

By die begrafnis hoor die predikant dan ook telkemale: “En die vurk?” En hy glimlag net. In sy boodskap verduidelik die leraar die meisie se uitsonderlike wens en wat dit simboliseer. Hy getuig hoe die mooi storie in sy gedagtes bly.

“Ek is seker elkeen van julle gaan ook oor en oor daaroor dink.” 

Hy was reg. En elke keer wanneer jy jou vurk optel, onthou: As my saak met God reg is, is die beste nog op pad!!!

Toepassing: 
Koester die tyd wat jy nog gegun word. Maak seker jou saak met God is reg. Jesus sê in Joh 14:6 “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe, NIEMAND kom na die Vader toe behalwe deur MY nie”.
Die beste wat voorlê kan NET joune wees as jou saak met God reg is! DAN lê die beste deel nog vir jou voor!

Hou jou vurk gereed kind van God ... Die beste lê nog voor!!! 

[Dankie, Valerie, ons waardeer jou gereelde bydraes.] 

Sunday, 23 June 2024

Mossiestilte: Hand. 7:55

Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.

God kom eerstens en openbaar Homself in al sy glorie en heerlikheid aan jou vandag. Stéfanus het sy oë op die regte plek gehad; hy het verby die probleem gekyk en die oplossing raakgesien, al was hy in groot nood. Nes jy dink die probleme hou op, steek 'n nuwe probleem sy kop uit. Jou lewe is nie 'n gelykpad nie, maar die Here is jou oplossing vir al jou probleme.

Leer my Heilige Gees, om altyd my afhanklikheid op my knieë in gebed na U toe te bring. Op my knieë wil ek u grote Naam aanroep. Met my oë gerig op U, wil ek verby my probleme kyk en net op U fokus. U is my Redder en die een wat my nooit alleen laat nie. Op my knieë is U waarlik goed en sorteer U al my probleme uit. Ek loof U en prys U, tot die dood toe. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 12 June 2024

Mossiestilte: Matt. 4:16

Die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien, en die wat sit in die land van die skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan.

Die Here nooi jou uit om tot bekering te kom, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Jesus sê kom agter my aan, laat vaar die wêreldse dinge en volg die wil van my Vader. Sommige sal alles net so los en ander sal aan die aardse vashou. En groot menigtes het Hom gevolg, volg jy Hom ook vandag sonder om terug te draai, in vaste geloof.

Dankie Here, U kom red my toe die donker my oorval. Ek gaan deur die dal van doodskaduwee, maar U lig het vir my opgegaan. Die bloed van Jesus lei my voort. My Herder sorg vir my siel en lei my na groen weivelde en na waters waar rus is. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 9 June 2024

Mossiestilte: Luk. 24:45

Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.


Die vervulling van die profetiese woord en wat geskrywe is in die wet van Moses, asook in die Psalms, het klaar plaasgevind. God wil ook jou verstand vandag open om te verstaan wat jou doel hier op aarde is. Aanvaar die vergifnis van Jesus en bekeer jouself, verkondig die blye boodskap aan die mense. God gee sy genade vir jou om elke dag te lewe en die ewige lewe te beërwe.

Dankie Here, dat U my nuut gemaak het en dat ek elke dag in U genade kan lewe. Open my verstand Here, dat ek die Heilige Gees kan sien en ervaar in my lewe. Open my vestand dat ek die Skrifte kan verstaan; die profete en die Psalms, en te kan verstaan dat U die ewige lewe gegee het dat ek die ewige lewe kan beërwe. Noudat ek met krag uit die hoogte versterk is deur die Heilige Gees, kan ek die blye evangelie met moed en oortuiging aan almal op my pad bring. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 28 April 2024

Hulle het Hom misgekyk

Hulle was op die uitkyk vir 'n Leeu,
Hy het gekom as 'n Lam,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hulle was op die uitkyk vir 'n Krygsman,
Hy het gekom as 'n Vredemaker,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hulle was op die uitkyk vir 'n Koning,
Hy het gekom as 'n Dienskneg,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hulle was op die uitkyk vir bevryding van Rome,
Hy het Hom aan die Romeinse kruis onderwerp,
... en hulle het Hom misgekyk.

Waarna is jou soeke?
'n Leeu, Krygsman, Koning, Bevryder?

Waarvoor soek jy?
Hulle wou vervulling van hulle tydelike behoeftes hê,
Hy het gekom om hulle ewige behoefte te vervul,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hy het gekom as 'n Lam om vir jou sonde geoffer te word,
Hy het gekom om vrede tussen God en die mens te bewerkstellig.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Hy het gekom om dienaarskap aan die mensdom te demonstreer.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Hy het gekom sodat ons ware Vryheid mag hê.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Hy het gekom om jou die Ewige lewe te skenk.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Wanneer jy jou aan die Lam onderwerp,
ontmoet jy die Leeu.
Wanneer jy jou by die Vredemaker skaar,
ontmoet jy die Soldaat.
Wanneer jy saam met die Dienskneg werk,
ontmoet jy die Koning.
Wanneer jy saam met die Onderdanige wandel,
ontmoet jy die Bevryder.
Wanneer jy jou met die Ewige bemoei,
ontvang jy ook dit wat tydelik is.

As Jesus nie by jou gietvorm van Hom pas nie, 
kom dan na die Beeldhouer self en kom tot nuwe insig.
Onderwerp jou aan Sy plan vir jou lewe,
ervaar dan eerstens hoe jou ewige behoefte vervul word -
en dan hoe al die ander dinge wat jy nodig het
ook vir jou bygevoeg word. (Matt. 6:33)

- Outeur onbekend

[Bron: Juig! Tydskrif]