Sunday 28 April 2024

Hulle het Hom misgekyk

Hulle was op die uitkyk vir 'n Leeu,
Hy het gekom as 'n Lam,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hulle was op die uitkyk vir 'n Krygsman,
Hy het gekom as 'n Vredemaker,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hulle was op die uitkyk vir 'n Koning,
Hy het gekom as 'n Dienskneg,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hulle was op die uitkyk vir bevryding van Rome,
Hy het Hom aan die Romeinse kruis onderwerp,
... en hulle het Hom misgekyk.

Waarna is jou soeke?
'n Leeu, Krygsman, Koning, Bevryder?

Waarvoor soek jy?
Hulle wou vervulling van hulle tydelike behoeftes hê,
Hy het gekom om hulle ewige behoefte te vervul,
... en hulle het Hom misgekyk.

Hy het gekom as 'n Lam om vir jou sonde geoffer te word,
Hy het gekom om vrede tussen God en die mens te bewerkstellig.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Hy het gekom om dienaarskap aan die mensdom te demonstreer.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Hy het gekom sodat ons ware Vryheid mag hê.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Hy het gekom om jou die Ewige lewe te skenk.
... Sal jy Hom ook miskyk? 

Wanneer jy jou aan die Lam onderwerp,
ontmoet jy die Leeu.
Wanneer jy jou by die Vredemaker skaar,
ontmoet jy die Soldaat.
Wanneer jy saam met die Dienskneg werk,
ontmoet jy die Koning.
Wanneer jy saam met die Onderdanige wandel,
ontmoet jy die Bevryder.
Wanneer jy jou met die Ewige bemoei,
ontvang jy ook dit wat tydelik is.

As Jesus nie by jou gietvorm van Hom pas nie, 
kom dan na die Beeldhouer self en kom tot nuwe insig.
Onderwerp jou aan Sy plan vir jou lewe,
ervaar dan eerstens hoe jou ewige behoefte vervul word -
en dan hoe al die ander dinge wat jy nodig het
ook vir jou bygevoeg word. (Matt. 6:33)

- Outeur onbekend

[Bron: Juig! Tydskrif]