Showing posts with label Donkiekarretjie. Show all posts
Showing posts with label Donkiekarretjie. Show all posts

Thursday, 5 June 2025

Hoeveel van ons het al geleer hoe om ons bagasie neer te sit?

Daar word vertel van die ou tannie wat langs die pad deur ’n donkiekar opgelaai word. Die drywer sit haar tas voor by haar voete neer. Toe hy weer kyk, sien hy sy het dit op haar skoot getel.

“Hoekom, Tannie?” vra hy verbaas.

Haar antwoord?

“Die arme donkies trek reeds so swaar; ek wil dit nie vir hulle nóg swaarder maak nie.”

Dalk was sy regtig oor die donkies bekommerd. Waarskynlik wou sy bloot die tas so naby moontlik aan haar hou. Sy kies die swaar dra, sy het daaraan gewoond geraak. Sy ken nie die rykdom van ’n ligter lewe nie.

Hoeveel van ons het al geleer hoe om ons bagasie neer te sit?

Dit is ook só dat juis wanneer ons dink ons dra swaar, daar wonderlike groei uit daardie swaarkry kan spruit.

Dit is dus die wysheid om te weet: Wat ek moet neersit omdat dit my terug hou, en watter dinge kan ek in dankbaarheid saamneem omdat dit my geestelike groei bewerkstellig.

Mag jy daardie wysheid vind in die teenwoordigheid van God wat al die dae van jou lewe ken, wat jou naam in sy handpalm gegraveer het, wat vir jou alles gee wat nodig is om 'n vol lewe te lei.

[Francine Prins - redakteur van Lig 19 Junie 2024] 

Klik HIER vir nog 'n donkieperspektief.

Tuesday, 22 October 2024

Perspektief is die verskil

Haar kostelike vierjarige uitkyk op hierdie saak het my net weer laat besef dat die lewe eintlik in wese 'n saak van perspektief is.

Sy word groot in die stad. In haar bestaan van vier jaar, ken sy net die stadslewe - 'n vinnige Gauteng-lewenstyl - en het sy reeds 'n bepaalde manier van dink. So, wanneer sy die vakansie by ouma en oupa op die plaas kuier, beleef sy soms dinge wat by ander sal verbygaan.

So het ek al vertel dat sy graag na die voëltjies sit en luister omdat sy hulle nie meer in die stad hoor nie. Desembervakansie kuier sy soos gewoonlik by oupa en ouma. Vandag gaan hulle dorp toe. Lysies word gemaak, beplanning word gedoen. Soos dikwels op die platteland is Vrydag almal se inkopiedag.

Op so 'n dorp-toe-gaan-dag is die dorp 'n bedrywigheid. Vir ons wat grootword op klein dorpies is 'n donkiekarretjie nie iets vreemds nie. Dit is ook dié eienaar se inkopiedag.

Met die sien van die donkiekarretjie het die wêreld vir haar gaan stilstaan. Sy gaan roep almal. Hulle moet dadelik kom kyk. Almal moet stilstaan. Almal moet sien: "Daar kom 'n koets! 'n Rêrige-êrige koets!" Vir die man wie se voertuig dit is, is dit sekerlik sy koets. Vir ons wat al 'n voertuig gehad het, kan ons moeilik daarna kyk as die gerief van 'n koets.

Vir haar wat vier jaar oud is, is daar net een werklikheid. Hierdie is 'n rêrige koets. Sy kan nie verstaan hoekom hy al die groot dorpe misry en hier kom rondry nie. Haar ma moet dadelik gebel word, haar boetie en sussie moet ingelig word. Hier, vandag, het sy 'n rêrige koets gesien.

Die lewe is 'n saak van perspektief, né? Ek hoop die donkiekarretjies in jou lewe is nog vir jou 'n koets.

[Ds. Hannes Noëth]

Klik HIER en kuier heerlik tussen die nuusblaaie van die Noordkaap Bulletin!