Showing posts with label Koos van der Merwe. Show all posts
Showing posts with label Koos van der Merwe. Show all posts

Saturday, 3 January 2026

Kerkgenotjies: Koos aan die woord

Koos is op besoek aan Engeland. Teen die laaste dag is hy heeltemal platsak, misreken hom met die tyd en verpas sy vliegtuig.

Moedeloos gebruik hy sy laaste geld om met die moltrein terug te ry Londen toe. Terwyl hy na slaapplek soek, reën hy boonop heeltemal nat. Niemand wil hom gratis verblyf gee nie. Hy besluit dat as hy nie slaapplek kry nie, moet hy darem probeer om 'n stukkie kos in sy maag te kry.

Hy klop aan die agterdeur van 'n kroeg met die naam The George and Dragon. 'n Vrou maak die deur oop en vra wat hy wil hê. 
"Net 'n stukkie om te eet, mevrou."
"Nee," gil sy en slaan die deur in sy gesig toe.
Hy klop weer en hierdie keer verskree sy hom dat sy ore tuit.
Hy waag dit om 'n derde keer te klop. Die vrou kan haar oë nie glo dat hy dit waag nie en voor sy kan lostrek, vra hy bedees: "Kan ek dalk 'n paar woorde met George praat?"

oooOOooo

Koos is baie lief vir sy vrou, maar sy raak so dominerend dat hy dit nie meer kan uithou nie.
Uiteindelik kry hy haar so ver om 'n sielkundige te gaan spreek.
Hy wag buitekant en 'n uur later kom sy uit.
"Hoekom het jy so lank gevat?" vra hy.
"Dis daardie man," antwoord sy vies.
"Dit het my byna 'n uur gekos om hom te oortuig dat sy lessenaar op die verkeerde plek staan."

Saturday, 24 May 2025

Kerkgenotjies: Besoek

* Die plattelandse dominee en sy vrou besoek die groot stad.
"Vrou, op hierdie plek kan ons nie bly nie."
"Hoekom nie?"
"Ek het nie woordeskat vir hierdie verkeer nie."
 
* "Pa, hoekom is Adam eerste gemaak?"
"Om hom 'n kans te gee dat hy ook iets kan sê." 

Gehoor van Karin en Frank, albei 95 jaar oud, wat na 70 jaar se getroude lewe besluit het om te skei?
Toe die dominee dit hoor, het hy dadelik navraag gaan doen waarom hulle dit nou nie maar nog vir die laaste rukkie saam kan uithou nie.
"Dominee," antwoord die man, "ons wou al jare gelede geskei het, maar ons het toe liewer besluit om eers te wag tot al die kinders dood is."

Saturday, 10 May 2025

Kerkgenotjies:

 * "Dominee, is dit sonde om op Sondae gholf te speel?"
"Wel, soos jy speel is dit sonde om op enige dag te speel."

* 'n Dominee word gevra of hy vir die politici bid.
"Nee, Meneer. Ek kyk na die politici en bid vir die land en sy mense."

* Die gemeentelid is ernstig siek en die dominee vat die stofpad uit die dorp om die man te gaan besoek. Daar aangeland, vind hy die sieke in die bed, vaal om die kiewe. Op die tafel langs die bed, staan 'n halwe bottel brandewyn.
Die dominee groet en slaan dan sommer toe: "Ag nee, broer, is dit dan nou werklik al troos wat jy in hierdie tyd van beproewing het?"
"Gelukkig nie, Dominee," kom dit flou. "Daar staan darem nog twee volles in die kas." 

Saturday, 3 May 2025

Kerkgenotjies: Nog steeds Koos ...

* Name wat jy nooit vir 'n renperd moet gee nie. Laaste Kans, Lui Lamsak, Bankrotskap, Manie Muil, Koos, Sloersak, Heelagter! 

* "Ek hoor jy was vir die eerste keer in jou lewe hierdie jaar by die July, Koos?"
"Ja, en weet jy wat het gebeur?"
"Nee. Wat?"
"Ek buk om my skoenveter vas te maak, toe sit iemand 'n saal op my rug."
"En wat maak jy toe?"
"Wat kon ek doen? Ek het vyfde gekom."

Koos stap verby 'n werksterrein van 'n hoë gebou wat opgerig word. Skielik hoor hy 'n stem: "Stop! Staan stil! As jy nog een tree gee, gaan 'n groot beton op jou val!"
Koos staan doodstil en doef! ... twee treë voor hom val 'n stuk beton die sypaadjie stukkend. Hy stap verder en kort daarna wil hy die straat oorsteek. Hy wil net by die sypaadjie afstap toe hy weer die stem hoor: Stop! Staan stil! Daar is 'n dronk motoris wat op jou afpyl." Koos vries en dertig sekondes later jaag 'n motoris roekeloos verby Koos.
Koos kyk om hom rond. "Wie is jy?" vra hy vir die stem.
"Ek is jou beskermengel," antwoord die stem. "Ek is hier om na jou om te sien."
"O ja?" sê Koos, "Nou waar was jy dan die dag toe ek so sotlik was om te wil trou?"  

Saturday, 5 April 2025

Kerkgenotjies: Nog steeds Koos

* Koos se eerste kleinkind is gebore en met die doop word daar 'n hele klomp foto's van die geleentheid geneem. 'n Paar dae later sit Koos en sy vrou na die foto's en kyk. Koos tel 'n foto op van hom en sy kleinkind. 
"Ag, kyk net," sê sy vrou, "hy bly darem maar net te oulik!"
"Ja, ja," sê Koos, "maar kom ons konsentreer liewers op die baba!"

* Dis Kerstyd en Koos en sy vrou is na Stoffel se huis genooi vir middagete. Stoffel maak reg om die kalkoen op te kerf en sê: "Van watter deel van die kalkoen hou jy, Koos?"
"Die vleis."

* Koos, ek hoor jou niggie van Kaapstad kom kuier."
"Ja, en sy is nou vir jou 'n ware dame. Jy moet net sien hoe staan haar pinkie in die lug wanneer sy 'n koppie tee drink."

Saturday, 29 March 2025

Kerkgenotjies: Ou Koos kom kuier weer

* Koos stap die kroeg binne met 'n kat op sy skouer.
"En dit?" vra die kroegman.
"My papegaai is dood," sê Koos.  

* Koos se buurman kom maak vroeg een Saterdag by Koos 'n draai.
"Koos, ek sien daar sit 'n man hier onder op die hoek van die straat. Hy verkoop die landsvlag. Alle groottes. Dis seker vir rugbywedstryd later vandag. Ek is nou op pad soontoe. Wil jy ook een hê?" 
"Watter kleur?" vra Koos.
"Die gewone landsvlag: rooi en swart en groen en ..."
"Bring vir my 'n groene."

* Koos se buurman het 'n swembad laat bou. Een Saterdagoggend klop die buurman se dogter aan Koos se deur. Sy sê haar pa vra of hy Koos se swembadskoonmaker kan leen. Koos s'n is heel agter bo-op 'n rak in sy garage. Met baie moeite haal hy die boks af, sit dit aanmekaar, gee dit vir die dogter en sê: "Sê vir jou pa hy sal sy eie een moet koop."
"O, maar hy het al," sê die dogter, "hy het dit nog net nie uit die boks gepak nie."

Saturday, 22 February 2025

Kerkgenotjies: Nog steeds Koos ...

* "Liewe aarde, Koos, wanneer gaan jy tot trou kom? Hier is darem oulike nooientjies op die dorp."
Koos: "Ja, daar is, maar ek sien in elke mooi nooi 'n potensiële skoonma."

* "Môre, Koos, ek hoor jou skoonma is baie siek?"
"Ja, sy is regtig baie siek."
"Is haar toestand gevaarlik?"
"Nee, sy is gelukkig nou te swak om gevaarlik te wees."

* Mev. Van der Merwe besoek die dokter.
"Wat is fout?" vra die dokter.
"Ag, dokter, ek is moeg en afgerem."
"Slaap jy goed."
"Ek het altyd soos 'n baba geslaap ... maar dit was natuurlik vóór ek my eie gehad het!"  

Tuesday, 19 November 2024

Kerkgenotjies: Koos kom kuier weer

* Koos, gaan dokter toe omdat sy keel seer is. "Dis jou mangels," sê die dokter, "en jy moet dit laat uithaal."
"Hoeveel sal dit kos?"
"Ongeveer so R75 000"  
"Ag, dok, kan jy hulle nie maar net so 'n bietjie losmaak sodat hulle vanself uitval nie?"

* Koos het bakore gehad. 
"Koos," vra 'n maat op 'n dag, "pla daardie ore jou nie?"
"Nooit," antwoord Koos, "behalwe wanneer ek 'n rondekraagtrui aantrek."

* Koos boer in die Waterberge. Sy vrou moet Kaapstad toe gaan om na haar siek ma om te sien.
Koos se vrou: "Koos, jy moet my een maal 'n week bel. Dis vir ma-hulle te duur dat ek hierheen kan bel. Ek wil nie onnodige uitgawes veroorsaak nie."
'n Week later bel Koos die sentrale om uit te vind hoeveel 'n oproep Kaapstad toe kos.
Dame by die sentrale: "Sowat R15,55 vir drie minute."
Koos in 'n smekende stemtoon: "Kan ek dit nie maar vir halfprys kry nie? Ek sal tog net moet luister, want ek kry nooit 'n woord in nie.