Koos is op besoek aan Engeland. Teen die laaste dag is hy heeltemal platsak, misreken hom met die tyd en verpas sy vliegtuig.
Moedeloos gebruik hy sy laaste geld om met die moltrein terug te ry Londen toe. Terwyl hy na slaapplek soek, reën hy boonop heeltemal nat. Niemand wil hom gratis verblyf gee nie. Hy besluit dat as hy nie slaapplek kry nie, moet hy darem probeer om 'n stukkie kos in sy maag te kry.
Hy klop aan die agterdeur van 'n kroeg met die naam The George and Dragon. 'n Vrou maak die deur oop en vra wat hy wil hê.
"Net 'n stukkie om te eet, mevrou."
"Nee," gil sy en slaan die deur in sy gesig toe.
Hy klop weer en hierdie keer verskree sy hom dat sy ore tuit.
Hy waag dit om 'n derde keer te klop. Die vrou kan haar oë nie glo dat hy dit waag nie en voor sy kan lostrek, vra hy bedees: "Kan ek dalk 'n paar woorde met George praat?"
oooOOooo
Koos is baie lief vir sy vrou, maar sy raak so dominerend dat hy dit nie meer kan uithou nie.
Uiteindelik kry hy haar so ver om 'n sielkundige te gaan spreek.
Hy wag buitekant en 'n uur later kom sy uit.
"Hoekom het jy so lank gevat?" vra hy.
"Dis daardie man," antwoord sy vies.
"Dit het my byna 'n uur gekos om hom te oortuig dat sy lessenaar op die verkeerde plek staan."
No comments:
Post a Comment