Bly te kenne, ds. Ensie en Annatjie Enslin

[Hierdie artikel is op die internet gekry onder die titel: "Paartjie van die maand: Leeftyd van ervaring"  Bron: Glitter Magazine Maart 2017]

Gaan lees gerus die Glitter Magazine en ondersteun hulle.

Ensie en Annatjie Enslin ken mekaar al ’n leeftyd. Saam het hul ’n gesin grootgemaak en diep spore in die bediening en in die mense van Kimberley se harte getrap.

Waar het jul ontmoet?

Ons ouers was huisvriende op Prieska, ons ken mekaar van sub A af. Ons was altyd goeie vriende. Annatjie het selfs in matriek (ek was toe in Hoërskool Strand) vir my skilderye gemaak sodat ek my meisie van destyds kon beïndruk! Gelukkig het ons op die einde by mekaar uitgekom. Ek was in die lugmag en het in Pretoria studeer. Ons het een vakansie saam vir my ma-hulle in die Strand gaan kuier, waar ons uiteindelik besef het ons is baie lief vir mekaar. Annatjie lag lekker as sy aan hul jongmenslewe terugdink. “Ensie het gedink ek huil omdat ek nog op my vorige kêrel verlief was, en eintlik het ek gehuil omdat hy nie kon sien dat ek op hóm verlief was nie!”

Hoe lank is jul nou al getroud?
Op 5 Mei 2017 sal ons 38 jaar getroud wees.

Wat is die geheim van ’n gelukkige huwelik?
’n Man en vrou wat met vrymoedigheid saam op hul knieë voor God kan buig en vir hulle huwelik kan bid. Dit hou 'n huwelik staande. Daar is geen kortpaaie of kitsoplossings vir 'n gelukkige huwelik nie.

Ensie, doen jy nog iets spesiaals vir Annatjie op dae soos Valentysdag en Moedersdag?
Ons maak nie ’n groot ophef van spesifieke dae nie. Ons bederf mekaar eerder op onverwagte maniere en tye. Ek sal byvoorbeeld onverwags vir haar ’n mooi blom pluk of sjokolade bring. En ek maak na al die jare steeds vir haar die motordeur oop as ’n teken van my liefde, respek en waardering vir haar.

Jul is nou al amer 38 jaar getroud, dit was sekerlik nie net maanskyn en rose nie?Nee, beslis nie. Annatjie sê as Ensie weg was, het sy die bestuur en besluite van die huishouding oorgeneem. “Dit was moeilik om die leisels oor te gee as hy terug is.” ’n Ander klein jakkalsie was vakansies. “Ensie glo vakansie is as jy maar net op ’n ander dorp werk, in sy geval preek. Ek wil egter kuier, nuwe plekke ontdek en sommer net rondloop as ons met vakansie gaan.” Maar die twee het al oor die jare geleer om probleme uit te sorteer soos dit opduik. Klein jakkalsies kry nie kans om groot jakkalse te word nie. Maar uit repek vir mekaar, sal ons nooit skree of stilstuipe kry nie. Verder laat ons ons deur die beginsels van God se Woord lei." Annatjie voeg tong in die kies by: "Ek begin vroeg in die jaar al oor die vakansie kerm, dan het ons langer tyd om dit uit te sorteer!”

Ensie, jy is steeds baie betrokke by sendingwerk en baie weg van die huis af – hoe hanteer jul as egpaar dit?
Annatjie is een van my voorbidders wat soos Aäron en Hur my geestelik versterk en staande hou. So vorm sy deel van my roeping. Ons het ’n ongeskrewe ooreenkoms dat Annatjie my nie van enige slegte nuus laat weet wat my fokus van my roepingsdoel sal wegvat nie. Ek vertrou haar om al die sake by die huis te bestuur wanneer ek nie daar is nie. Verder het ons 'n wonderlike ondersteunende omgeegroep op wie se knoppie sy enige tyd kan druk.

Wat doen jul om alleentyd saam te spandeer?
Ons is albei werk-esels! Maar ons probeer om wel elke dag ’n kort tydjie net aan mekaar aandag te gee en op mekaar te fokus. Ons maak ook ’n punt daarvan om ten minste een keer per week na ’n Christelike en opbouende film te kyk.

Hoe hou mens na jare van getroud wees die vonk in die huwelik?
Humor. Ons kan vreeslik laf raak, saam lag en mekaar terg.

Jul kinders is nou almal uit die huis – het jul maklik by die nuwe fase van jul lewe aangepas?
Vier van ons vyf kinders en al sewe kleinkinders bly steeds in Kimberley. Ons sien hul baie gereeld en doen baie dinge as familie saam. Daar was dus nooit tyd vir leënes-sindroom nie.

Wat doen jul oor naweke?
Vrydagaande is ons saamwees-tyd wat ons koester. Sondae is vir albei van ons werksdae, dus het ons net Saterdae om dinge saam te doen as dit moontlik is. Ensie is dikwels by kerkleierskapsopleiding betrokke. Ons het ook verlede jaar aan parkrun begin deelneem, wat wondere vir ons albei doen!

Ensie, jy is al jare lank in die bediening - watter raad gee jy aan ander? Hoe kry mens dit reg om saam oud te word?Vir my is daar drie steunpilare - FAT: Faith (geloof), Adaptability (aanpasbaarheid) en Teachability (leerbaarheid). Geloof in Hom wat ons bymekaargebring het en geloof in mekaar. Wees aanpasbaar in alle omstandighede, deur nie te kla of kerm wanneer omstandighede nie na wense is nie – maak die beste gebruik van elke geleentheid. Niemand van ons is altyd reg nie. Wees bereid om te leer. Ons weet ons het nie al die antwoorde nie, daarom leer ons voortdurend by ander (ook by ons kinders en mekaar.) - Ilette Coetzer

Kontak ons Glitter-fotograaf by Lizéll @ StarPix Photography 082 566 0797