Showing posts with label Les. Show all posts
Showing posts with label Les. Show all posts

Monday, 20 April 2026

Matteus 25:40 - "... het julle dit aan My gedoen."

’n Jong dametjie met die naam van Sally kan nog soos gister onthou die ondervinding wat sy gehad het in een van haar Bybelkundeklasse deur haar onderwyser, mnr. Smit.

Mnr. Smit was bekend vir sy vindingryke metodes om ’n klas aan te bied.

Een spesifieke somersoggend stap Sally in die Bybelkundeklas in en sy het onmiddellik geweet hierdie gaan weer een van daardie onvergeetlike dae wees.

Teen die muur was ’n groot afdruk van ’n veerpyltjiebord en op die tafel daar naby het ’n klomp veerpyltjies gelê.

Mnr. Smit het gevra dat hulle elkeen ’n skets moet maak van die persoon wat hulle die meeste verafsku of iemand wat hulle kwaad gemaak het en hy sal hulle toelaat om van die veerpyltjies na die persoon se skets te gooi.

Sally se vriendin het ’n skets geteken van die ander meisie wat haar kêrel gesteel het. ’n Ander vriend het ’n skets geteken van sy jonger boetie. Sally het ’n skets geteken van ’n voormalige vriend van haar. Sy het baie detail ingevoeg op die skets, selfs van die puisies op sy gesig. Sally was baie tevrede met haar skets en dit was nogal ’n goeie weergawe van die voormalige vriend.

Die klas het in ’n ry gestaan en hulle beurt afgewag om van die veerpyltjies na hul skets te gooi.

Sommige studente was so meegevoer deur die hele ondervinding dat hulle van die veerpyltjies so hard gegooi het dat hulle sketse geskeur het. Sally kon nie meer wag op haar beurt om haar frustrasie op die skets van haar voormalige vriend uit te haal nie.

Sy was baie teleurgestel toe mnr. Smit die gooiery stop en die studente vra om hul sitplekke weer in te neem omdat die tyd bestem vir die klas feitlik verstreke was.

Terwyl Sally sit en dink hoe kwaad sy is omdat sy nie ’n beurt kon kry om van die veerpyltjies na haar skets te gooi nie, begin mnr. Smit die afdruk van die veerpyltjie bord van die muur af te haal.

Onder die afdruk van die veerpyltjie bord was ’n prentjie van Jesus. ’n Grootse stilte het op die klas neergedaal soos wat elke student kon sien hoe verwronge die prentjie van Jesus se gesig gelyk het. Daar was oral gate en skeure in die prentjie van Sy gesig en die oë was deurboor met die veerpyltjiegate.

Mnr. Smit het net die volgende woorde aangehaal: “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Mat 25:40.

Geen verdere woorde was nodig nie, terwyl studente met oë wat vol trane is, steeds staar na die prentjie van Jesus, ons Verlosser!!

[Geleen]

Wednesday, 11 March 2026

Kommunikasie: Die swart skaap

'n Leser skryf soos volg:

'n Man het 'n slagbok by ons kom haal. Hy was 'n Spoorwegwerker en hulle het 'n hele paar kindertjies gehad waarvan twee blind was. Een van hulle was juis siek, en in die stad vir 'n operasie aan die ogies. Sy vroutjie het laat vra of ek dan nie 'n hoender aan haar kon afstaan nie. Sy wou dit slag vir die pad wanneer sy weer gaan kind gaan besoek.

Ek het laat weet dat ek net 'n klompie henne het wat lê, en nie graag hulle wou wegmaak nie. Daar was egter 'n swart hennetjie met 'n seer voetjie wat sy maar kon kry. Ek het dit vir haar present gegee.

Iewers het iets my egter gehinder. Ek kon net nie my vinger daarop lê nie. Maar daardie aand, nadat almal in die huis al geslaap het, lê en lees ek die getuienis van 'n man wat, toe die wolpryse so goed was, 'n swart skaap as dankoffer gegee het. Daarna het hy so baie probleme ondervind dat hy en sy vrou ernstig begin bid het; en op hul knieë het hulle ontdek dat al die teenspoed hulle getref het omdat hulle die Here afgeskeep en Hom probeer bedrieg het. Nadat hulle hul sonde bely het, het hulle besluit dat die Here net die beste sou kry. En toe het al die moeilikhede verdwyn.

Toe ek hierdie stuk klaar gelees het, het die swart hennetjie onmiddellik voor my kom staan. Ek het dadelik gereageer en vir die Here gesê: "Here Jesus, ek weet dat u vannag nog al my henne kan laat doodgaan. Ek beloof om vir hierdie vroutjie een van my beste henne te gee." En ek het ook.

Is dit nie wonderlik hoe die Here werk nie? Hy het die getuienis van iemand gebruik om vir 'n ander tot seën te wees.

[Mev. M.V.] 

Friday, 26 September 2025

Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog eenkeer reggetrek en toe vertrek. Ek het net betyds by die kerk bank ingeskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog n paar skoene sien wat langs my ingeskuif het.
 
Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te sit dat ons skoene aan mekaar geraak het? Ek het my oë gesluit ... ONSE Vader ... toe onthou ek dat die Here ook sy vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoonmaak nie. Die skoene se punte was afgekrap ... 'n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog 'n gat aan die kant van die skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... DANKIE VIR U SEËNINGE het die gebed aangegaan. "Amen" het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne.

Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerk deure instap. Wel sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin. Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog het die skoene uit volle bors met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het.
En toe kom die tyd vir die offergawe. Ek het n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gekrap ... eers die een en toe die ander een en diep onder in die sak is sy bydrae uitgehaal en met 'n helder geklink het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.
 
Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk maar hy het so 'n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees dit het my tot in my siel verveel, tot ek na die skoene langs my se gesig gekyk het.

Groot trane het by sy wange ofgerol ... Hy het met diep aandag geluister ... en ek het gewonder wat ek dan gemis het.

Ek was so besig met die skoene en die oordeel in my hart dat ek die seëning van die Woord totaal en al gemis het. Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek, ek het gewonder waarom ek dan nog so leeg gevoel het.

Toe besef ek; ek het nie soos die skoene langs my gekom met 'n verwagting nie ... daarom het ek niks ontvang nie en sy beker loop oor. Golwe skuldgevoel het oor my gespoel en ek het geweet die stukkende skoene het my vandag 'n baie duur les geleer.

Dit was ons gewoonte om altyd na die diens vreemdelinge te laat welkom voel, en na die slot gebed het ek my hand na die skoene uitgesteek.
 
Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en weer en die hand wat myne vasvat was vol eelte.
Die skoene het na my gekyk en gesê: My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet. Sy oë was vol hartseer en pyn.

Ek kom al 'n paar maande hier maar jy is die eerste om my te groet. Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk, en ek politoer gereeld my skoene maar die lang stap hierheen op die stof pad laat dit altyd weer vuil en vol stof.

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê sou my woorde leeg en blikkerig klink teenoor die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereelte hand gedruk en toe met trane bely: Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my 'n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie.
Dankie dat jou skoene vandag vir my 'n groot les geleer het. Dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing, om meer intens te luister en om altyd met 'n verwagting te kom sodat ek vol en tevrede kan uitstap.

(Internet: Skrywer onbekend)

Thursday, 15 May 2025

Dink hieroor: Die restaurant-ete

'n Seun wat in Ceres woon, het sy bejaarde pa na 'n restaurant toe geneem. Aandete. Uiteet. 'n Luukse vir die oue van dae. Sy pa wat baie oud en swak was, kon nie regtig eet nie. Hy het kos op sy hemp en op sy broek gemors. Die ander mense in die restaurant het gestaar met afkeur, terwyl die seun baie kalm en bedagsaam opgetree het.
.
Na die ete, was sy seun geensins skaam of in 'n verleentheid nie. Hy het hom so ongesiens as moontlik na die badkamer gevat, die broek en hemp netjies skoongemaak. Sy pa se hare gekam en sy bril weer perfek opgesit. Toe hulle uit die badkamer kom, het die hele restaurant in doodse stilte na hulle twee gestaar.

Stemme het gefluister: ''Hoe kon hy hom so verneder voor al die mense?''

''Ja, nogal in die openbaar.''

Die seun het die rekening betaal en uitgestap saam met sy pa.

Teen daardie tyd, het 'n ou man tussen die mense uitgeroep na die seun en gevra: "Jongman, dink jy nie jy het iets agtergelaat nie?"

Die seun antwoord: “Nee, Meneer, ek het nie.''

Die ou man antwoord: "Ja, jy het! Jy het 'n les vir elke seun, oud of jonk, agtergelaat en hoop vir elke vader wat vanaand in hierdie restaurant sit."
.
Gedagte: Maak nie saak hoe oud die seun se pa was nie, hy was nie skaam vir sy pa nie, hy het sy pa liefgehad soos altyd, want sy pa was nooit skaam vir hom nie. Jou ouers bly jou ouers. Maak nie saak hoe oud jou ma of pa is nie, jy moet altyd lief wees vir hulle, sonder om skaam te wees wat ander sal sê en dink. Jou pa bly jou pa, ongeag wat. Jou ma bly jou ma ongeag wat. So respekteer jou ouers, hulle is net aan ons geleen.

[Dankie vir die een wat dit aangestuur het.]

Tuesday, 4 June 2024

Lewensles: Waarde

'n Pa het vir sy dogter gesê: "Jy het met lof gegradueer, hier is 'n motor wat ek baie jare gelede gekoop het.  Dit is nou 'n bietjie ouer. Maar voordat ek dit vir jou gee, neem dit na die tweedehandse motorhandelaar in die middestad en sê vir hulle ek wil dit verkoop en kyk hoeveel hulle jou daarvoor bied.

Die dogter het na die tweedehandse motorhandelaar gegaan, na haar pa teruggekeer en gesê: "Hulle het my R1 000 aangebied omdat dit taamlik gehawend daar uitsien."

Die pa het gesê: "Vat dit nou na die pandjieswinkel."  Die dogter het na die pandjieswinkel gegaan, na haar pa teruggekeer en gesê: "Die pandjieswinkel het slegs R900 aangebied omdat dit 'n ou motor is en hulle nie eintlik motors aankoop nie."

Die pa het sy dogter gevra om nou na 'n motorklub te gaan en vir hulle die kar te wys.  Die dogter het toe die motor na die klub geneem, teruggekeer en vir haar pa gesê,” Sommige mense in die klub het R69 000 daarvoor aangebied omdat dit 'n Mazda 323 is, is dit 'n ikoniese motor en baie versamelaars is op soek na hierdie spesifieke model.

Die pa het vir sy dogter gesê dat hy nie vir haar wil preek nie, maar dat daar 'n groot lewensles is in die oënskynlike onnodige oefening is wat sy moes doen.

Pa: "Die regte plek waardeer jou op die regte manier, as jy nie waardeer word nie, moenie kwaad wees nie, dit beteken jy is op die verkeerde plek. Diegene wat jou waarde ken, is die wat jou waardeer ... Moet nooit op 'n plek bly waar niemand jou waarde sien nie. Moenie jouself dwing om te bly waar jy nie geag word nie ... Bly daar waar jy waardeer word."

[Dankie, Wilma, dat jy hierdie lewensles met die lesers deel.]