Showing posts with label Kerkraad. Show all posts
Showing posts with label Kerkraad. Show all posts

Thursday, 5 February 2026

Pas oorlede

Dit was die aanhef van 'n roubrief wat deur 'n Engelse predikant aan sy gemeente gestuur is. Hy het baie gebid voordat hy die brief gepos het. Ds. Fox was bekend as 'n persoon wat ernstig was en wat vir jare onvermoeid in sy gemeente die Woord van God gebring het. Hy het met sy gemeente gepraat oor hulle geestelike agteruitgang en hulle geroep tot bekering. Sy gebed en begeerte was dat hulle waarlik die beeld van Jesus sou uitdra aan 'n verlore wêreld. 

Gedurende huisbesoek het hy elke lid van die gemeente aangespreek en die Woord aan hulle verkondig, waarna hy 'n gebed gedoen het. Dit het egter alles niks gehelp nie. Ds. Fox se gemeente was maar net lidmate van die kerk omdat dit tradisie was. Hulle het dit as 'n prestasie beskou wanneer die kerk half of driekwart vol was. Daar was 'n koue atmosfeer in die kerk. Sekere gemeentelede het net sommige mense gegroet in die kerk en die res vermy. Party was belangriker as ander.

Op 'n sekere môre, nadat hy weer vir sy gemeente gebid het, het daar plotseling 'n vonkel in die oë van ds. Fox gekom. Hy het by sy skryftafel gaan sit, sy vulpen uitgehaal en die volgende roubrief aan sy gemeente met die bostaande opskrif geskrywe.

"Pas oorlede. Die gemeente is pas oorlede nadat sy haar lyding en smart kalm gedra het. Die roudiens word aanstaande Saterdagmiddag in die kerk gehou, waar daar nog geleentheid sal wees om die oorledene vir oulaas te sien."

Dit was veral die laaste sinsnede wat gemaak het dat die kerk volgestroom het van mense. Baie het hulself afgevra wat die dominee voor oë het. Die mense was gewoond dat hy nie ligsinnige dinge doen nie, dus moes daar iets ernstig agter geskuil het. Sal die kerk afgebreek word? Word die gemeente ontbind?

Onder, reg voor die preekstoel het daar 'n doodskis gestaan. Ds. Fox het die kansel bestyg en 'n kort boodskap gebring. In sombere woorde het hy die nagedagtenis van die oorlede gemeente herdenk. Sy het aan 'n langdurige en gevaarlike siekte gely en daarom gesterwe. Gelukkig het sy nie veel pyn verduur nie, maar is oorlede aan 'n langdurige lusteloosheid en swaarmoedigheid. Die feit dat daar geen pyn was nie, het juis die vroeë einde verhaas. Omdat sy gedink het dat sy niks makeer nie, het sy alle inspuitings geweier wat verseker nuwe lewe kon gebring het. So sag en rustig as wat sy die afgelope aantal jare was, so het sy gesterf. Die enigste wat van haar oorgebly het, is haar siel wat ons nou aan "die barmhartigheid van die almagtige God toevertrou." Hierna het hy gesê dat daar geleentheid is om plek langs die kis in te neem vir die laaste afskeidsgroet.

Skaam en vraend het die gemeente aanvanklik in hulle plekke bly sit, maar ds. Fox wat in alle erns langs die kis kom staan het, het die kerkraad gewink om ook hulle plekke daar te kom inneem.

Die broers het stadig na vore gekom en een vir een het 'n laaste blik in die kis gegee, waar, volgens die predikant, die oorskot van die oorlede gemeente lê. Baie min van die gemeente het onbeweeg gebly na hierdie gesig. Sommige het blykbaar geskrik terwyl ander se gesigte bleek geword het. Ander het weer vraend 'n verontwaardigde blik op die predikant gewerp, wat doodstil gestaan het, sonder om 'n woord te sê. Daar was slegs 'n groot liefde op sy gelaat vir die gemeente.

Langsaam volg die gemeente die voorbeeld van die kerkraad. In diepe eerbied soos met enige begrafnis, gaan hulle een vir een by die kerkdeur uit. Iemand het weer teruggegaan in die bank en die gesig met 'n sakdoek bedek. 'n Vrou het begin om gedemp te snik. In die kis het 'n groot spieël gelê. Wie hom oor die dooie gemeente buig, het homself in die spieël gesien.

Teen die aand staan daar 'n ouderling en sewe gemeentelede by ds. Fox op die stoep, daaronder was daar twee vroue en twee jongmense. Die ouderling wat die woord moes doen, het nie te op sy gemak gevoel nie. Hy sê: "Dominee, ons het almal begryp ... ons wil egter nie meer dood wees nie; ons wil 'n lewende gemeente van ons Here Jesus wees. Sal u ons help om dit te wees? En ... e... e... buite staan die res van die gemeente wat ons gestuur het om te kom praat."

[Bron: Die Pelgrim, Maart 1988, p. 20] 

Sunday, 3 August 2025

Kerkraadslede: ouderlinge en diakens


 Sarel, Danie, Elmar, Christiaan, Johannes en Chris baie geluk en mag die werk wat julle in sy wingerd verrig, geseënd wees en vrugte dra. 

Sunday, 6 April 2025

Kerkraadnuus: Saterdagaandkuier


'n Spesiale dankie aan Jannie en Ansie vir hulle gasvryheid. Dit was 'n aand propvol lag, gesels en lekker eet. Ons beplan spoedig weer so 'n lekker kuieraand. Kerkraadslede, staan reg met die pen om die datum te omkring.

Foto's: Elsa Minne  

Friday, 14 March 2025

Kerkraadslede: ouderlinge

 
Adriaan en Marina, baie geluk en mag die werk wat julle in sy wingerd verrig, geseënd wees en vrugte dra. 

Friday, 24 January 2025

SNAAKS ...

... hoe baie R100 is as jy dit kerk toe neem, en tog so min as jy supermark toe gaan.
... hoe lank is 'n uur as jy die Here dien en hoe kort 60 minute is as jy langs die viswaters sit.
... hoe moeilik dit is om 'n hele hoofstuk van die Bybel op een slag te lees en hoe maklik dit is om 'n hele roman deur te lees.
... hoe ons nie weet wat om te sê as ons bid nie - en tog kan ons ure lank oor nietighede gesels.
... hoe mens te moeg is na werk om biduur toe te gaan, maar hoe verfris jy voel as daar partytjie gehou word.
... hoe daar nie nog tyd is om op die kerkraad of vrouediens te dien nie, maar hoe 'n mens ure lank na TV, FB en videos kan kyk.
... hoe verveeld mens kan raak wanneer die dominie 30 minute lank preek, maar hoe interessant 'n vollengte rolprent kan wees.
... hoe onbekwaam 'n mens is om vir Here te werk, maar hoe op hoogte van sake jy kan wees oor die politiek van die dag.

Nee, dit is maar net tekens van waar ons prioriteite lê - en van ons ware toewyding aan die God wat ALLES vir ons gegee het

"Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Dit is die eerste en groot gebod." Matt 22:37. 

[Eerw. Jan Muller]

Friday, 15 April 2022

150 genadejare: Kerkraadslede - Toe en nou

Kerkraad 1912

Kerkraad 1972 - tydens eeufeesvieringe
Kerkraad 2022  - 150-jarige feesvieringe
Bron: 1872-1972 Eeufeesalbum (foto's) en kerkkantoor

Sunday, 17 February 2019

17 Februarie 1953 - vandag 66 jaar terug

Vandag 66 jaar terug het die kerkraad van Dutoitspan-gemeente 'n ooreenkoms met proponent C Theron aangegaan. Die kassier op daardie stadium was mnr. HG Gouws en die skriba was mnr. AJ Combrink.

Hier is die ongetekende voorbeeld van die ooreenkoms.

Saturday, 22 September 2018

Lê dit voor die kerkraad ...

In die nuutste LIG word daar o.a. genoem dat as jy wil hê 'n projek moet misluk, lê dit dan voor die kerkraad. Skokkende woorde ... beslis iets om aan te herkou ... gelukkig darem nie orals van toepassing nie.