Showing posts with label Eerlikheid. Show all posts
Showing posts with label Eerlikheid. Show all posts

Tuesday, 6 October 2026

Mandjie Hoop: As jy ...

As jy eerlikheid plant, sal jy vertroue oes.
As jy integriteit plant, sal jy karakter oes.
As jy opregtheid plant, sal jy goeie dinge oes.
As jy respek plant, sal jy vriende oes.
As jy goedheid plant, sal jy tevredenheid oes.
As jy vriendelikheid plant, sal jy glimlagte oes.
As jy geduld plant, sal jy kalmte oes.
As jy goeie dade plant, sal jy hoop oes.
As jy dankbaarheid plant, sal jy innerlike geluk oes.
As jy nederigheid plant, sal jy grootheid oes
As jy volharding plant, sal jy bevrediging oes.
As jy oordenking plant, sal jy perspektief oes.
As jy sweet plant, sal jy sukses oes.
As jy vergifnis plant, sal jy versoening oes.
As jy jou hart plant, sal jy liefde oes.
As jy geloof, hoop en liefde plant, sal jy die mooi van die lewe oes. 

Thursday, 12 June 2025

Dink hieroor: Waarom boer sommige Afrikaanse kerke agteruit?

Hierdie vraag word dikwels gevra as mense om die koffiekan na 'n erediens staan en koffie drink en die kerk was weereens ontstellend leeg. 

'n Wyse bejaarde lidmaat se antwoord som dalk die probleem op: "Dominee, ons mense het die vrees vir die Here verloor. Daarom is al die Afrikaanse kerke besig om agteruit te boer."

Hoe sal 'n mens hierdie antwoord kan meet as dit moontlik sou wees? Een moontlike manier om dit waar te neem is om te kyk na die gebrek aan eerbied en fatsoenlikheid wat onder die kerkgangers toegeneem het. So ook die algemene sedelike norme wat so kenmerkend van ons voorgeslagte was.

Respek en integriteit is deesdae skaars kommoditeite, selfs onder Christene. Dit is só jammer en strek die Here nie tot eer nie.

Psalm 95 

Hy is ons God en ons is sy volk
1 Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind,
2 laat ons na Hom toe gaan met lof,

laat ons Hom toejuig met lofsange,

3 want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4 Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5 Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6 Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
7 Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.
As julle vandag maar na Hom wou luister:
8 “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa in die woestyn nie,
9 waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.
10 Veertig jaar lank het Ek 'n weersin in daardie geslag gehad,
Ek het gesê: ‘Hulle is 'n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11 Daarom het Ek in my toorn 'n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”

[© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.]

Friday, 8 October 2021

Ek het amper u Seun vir 50c verkoop!

'n Paar jaar gelede het 'n predikant van die platteland 'n beroep na die stad aanvaar.

Een spesifieke dag moes hy per bus na die middestad gaan. Nadat hy vir sy kaartjie betaal het, en 'n sitplek gekry het, het hy gesien dat die busbestuurder hom 50c te veel kleingeld gegee het.

Hy het gewik en geweeg. Sal hy dit nou terug gee of nie? Dis net 50c! Hy het 'n bietjie daaroor nagedink en besluit om die 50c terug te gee.
 
Toe die bus stop, het hy vorentoe geloop en voordat hy uitklim die 50c vir die bestuurder teruggegee. Die bestuurder het opgekyk en gevra: "Is u nie die nuwe dominee van die platteland nie?"
"Ja" antwoord die dominee verbaas dat iemand hom hier sou ken.
Die busbestuurder sê toe: "Ek het die laaste ruk baie gewonder oor waar ek kerk toe moet gaan om te aanbid. Ek wou net sien wat u sou doen, as ek u te veel geld gee. Ek sien u Sondag"
 
Van die bus af, moes die predikant vir 'n oomblik aan die lamppaal vashou.
"O Here!" het hy uitgeroep.
"Ek het amper u Seun vir 50c verkoop!"
 
Ons lewens is dikwels die enigste Bybel wat mense ooit sal lees. Dis skrikwekkend om te weet hoe baie mense ons as Christene dophou en sonder dat ons weet, ons toets.
 
Wees dus altyd versigtig oor wat jy sê en wat jy doen. Onthou: jy dra die Naam van Jesus Christus op jou skouers as jy jouself 'n Christen noem!

[Dankie, ds. Ensie!]