Showing posts with label Bedelaar. Show all posts
Showing posts with label Bedelaar. Show all posts

Friday, 7 August 2026

Van verlossing na oorwinning

Baie jare gelede het ʼn ou verwaarloosde honger man in ʼn musiekwinkel in London ingestap. Hy het die eienaar van die musiekwinkel gevra of hy hom ʼn paar pond vir sy viool sou aanbied sodat hy iets te ete kan koop.

Die eienaar het die man vyf pond vir die viool aangebied. ʼn Ruk nadat die man weg was, het die eienaar ʼn kers aangesteek en die viool van naderby ondersoek. Op die viool was die woord uitgekerf: “Antonio Stradivari, 1704.” Hy het onmiddellik besef dat hy in besit was van ʼn viool wat vir meer as 100 jaar vermis was. Die viool is jare later vir miljoene pond verkoop. 

Hierdie kosbare viool was vir ʼn rukkie in die hande van ʼn arm en behoeftige man, maar hy het nie die waarde daarvan besef nie. Hierdie man het nie opgeëis wat hy alreeds besit het nie ...

God se kinders loop dikwels die kerk binne met ʼn Bybel in die hand, sonder dat hulle die onskatbare waarde van die beloftes wat God daarin aan hulle maak, opeis. 

Hulle leef in die grootste ellende, maar gebruik nie God se almag wat tot hul beskikking is nie. God het nie bedoel dat ons van verlossing na stagnering moet beweeg nie, maar van verlossing na oorwinning!

Sien jou Sondag in die erediens - kom met verwagting!

Saturday, 28 February 2026

Kerkgenotjies: Die bedelaar

Jare lank het 'n bedelaar voor die koöperasie gesit en die jammerhartige boer het elke maand as hy sy goedjies kom koop vir die stomme man R50 gegee.

Een maand begin die boer egter om net R40 te gee. Die bedelaar is 'n bietjie dikbek, maar aanvaar dit maar.

‘n Jaar later gee die boer net R20 en die bedelaar vererg hom: "Haai ou," sê hy, "toe jy van R50 na R40 afgekom het, was ek geduldig, maar nou gee jy net R20. Hoekom so min? Alles raak duurder."

"Ag, ek is regtig jammer, Meneer," antwoord die boer verleë.

"Jy sien, my seun is verlede jaar technikon toe en dit kos my 'n klomp geld. Dis die rede hoekom ek nie genoeg geld het om vir jou elke keer R50 te gee nie. En nou is my dogter universiteit toe en dit kos nog meer geld ..."

"Hoor hier, hoeveel kinders het jy?" vra die bedelaar.

"Daar is nog twee in die hoërskool," antwoord die boer.

"Wel, ek hoop nie jy is van plan om hulle almal op my koste te laat leer nie!" 

Friday, 2 May 2025

Gedig: Die blinde sien

Hy sien die starre oë dof,
Met deernis spu Hy in die stof
En meng ’n salf van modderslyk
Om aan onsienend oog te stryk.
En aan die blinde man gelas
In bad van Siloam te was.

Die bad was seker nie te ver,
Want bedelaar die haas hom her
Hy struikel aan met haastig tree
Om aan profeet gehoor te gee.
Die skille van sy oë was
Die rede waarom hy nou ras.

Die was, was nie primêr beleid
Maar sy geloofsgehoorsaamheid.
Want dit was op die Sabbatdag
Wanneer geen mens geen werk vermag.
Maar hy’t gewas en kon toe sien
En keer terug om God te dien.

En op die skedelberg omhoog,
Drup Godlik bloed in stof en droog
In gees aan siele oog gewend.
Gewas in Heilig Sakrament,
Volmaking van Gods’s heilsverbond –
Die offer aan die kruis verwond.

Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 25 Augustus 1984