Showing posts with label Oomblik van stilte. Show all posts
Showing posts with label Oomblik van stilte. Show all posts

Sunday, 2 August 2026

Mossiestilte: Woorde - Matteus 12:36-37

Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Woorde is klanke met bepaalde betekenis, en as ons die betekenis van die klanke verstaan, kan ons met mekaar praat.

Woorde gee uitdrukking aan 'n mens se gedagtes en gesindhede, en uit iemand se woorde kan naastenby afgelei word wie of wat hy in werklikheid is.

Woorde kan tot groot SEËN aangewend word, maar hulle kan ook uiters NADELIG wees. Dit hang daarvan af hoe hulle gebruik word. Woorde wat stig en bemoedig kan wonders verrig; maar woorde wat onverskillig of ligsinnig uitgespreek word, kan tot onaangenaamheid en ergernis lei.

Ons verhouding met die Here bepaal tot 'n groot mate die gehalte van ons woorde en die inhoud van ons gesprekke; deur ons woorde kom ons geestelike toestand maklik tot openbaring. Nie uit wat iemand voorgee om te wees nie, maar uit sy woorde, wanneer hy in geselskap van sy vriende is, sal 'n mens weet of hy 'n Christen is of 'n namaaksel is.

Woorde wat eenmaal uitgespreek is, verdwyn nie sommer in die niet om vir altyd verby en vergete te wees nie. Hulle aanslag en invloed duur voort, ten goede of ten kwade, selfs lank nadat die persoon wat hulle gebesig het, reeds van die toneel verdwyn het. 

Woorde kan NOOIT herroep of uitgewis word nie. Bowendien word daar in die Hemel rekord gehou van elke woord wat op aarde uitgespreek word.

Woorde is belangrik, daarom moet ons VERSIGTIG wees hoe ons hulle gebruik. Die Here sien ons woorde nog voordat hulle ons lippe verlaat. Daardie vuil grap mag miskien die lagspiere prikkel van diegene wat na ons luister; die ydellike gebruik van die Here se Naam mag dalk ons vriende beïndruk of ons ego stut; maar wanneer die Boeke in die Oordeelsdag oopgemaak word, sal ons woorde daar wees om vir of teen ons te getuig - en niemand sal kan ontken dat dit sy eie woorde is nie.   

Dit is slegs met die hulp van die Here en in Sy krag dat die versoeking om ons tonge in boosheid los te laat, oorwin kan word. As ons aan Hom behoort, sal Hy ons nie net die oorwinning gee nie, maar ons ook in staat stel om woorde te spreek wat Hom behaag en vir ons medemens tot nut en seën kan wees.

Dan hoef ons nie beskaamd te staan in die dag wanneer daar van ons rekenskap geëis word nie.

Wednesday, 29 July 2026

Mossiestilte: Gal. 3:26-27

Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Jesus Christus se bloed aan die kruis het jou skoon gewas van jou sonde. Jou geloof in Christus het jou gered. Die doop bevestig jou verhouding met God; 'n daad vanuit jou geloof in gehoorsaamheid aan God.
Christus het jou verander die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword; jy is nou met Christus beklee; jy is nou sy kind!

Dankie, Jesus, vir u redding aan die kruis vir my. Ek is nou beklee met Christus; ek is 'n nuwe mens; skoongewas deur die bloed van die Lam. Die doop bevestig dat ek met Christus een geword het; dat Christus vir my aan die kruis gesterf het en my in 'n nuwe lewe laat opstaan het. Ek het nou die Vader se kindskap deelagtig geword, deur die genade van Christus Jesus. Amen.

Sunday, 26 July 2026

Mossiestilte: 2 Thes. 3:3

Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.

Is jou lewe omvergewerp; het jy jou rigting verloor? 
Die Here wil jou met sy krag en wysheid versterk. 
God wil aan jou bewys dat Hy steeds getrou is en sal bly en alle werk van die geloof met krag volkome sal maak. 

2 Thes. 1:12. sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.

Here, ek het u krag nodig om U te verheerlik vandag. Ek weet ek is swak, maar my geloof is in u sterkte. U bly getrou al is ek ontrou en swak. U krag is ewig en u sterkte ken geen einde nie. Ek glo en vertrou U my Verlosser en Saligmaker. U sal my met wysheid versterk en bewaar van die Bose. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 19 July 2026

Mossiestilte: Rom 10:6a - 13

Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: 
Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig; As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Here, my God, en my Vader, ek kom na U in die Naam van Jesus Christus. Ek bely dat Jesus my geregtigheid is. Ek het die woord in my mond en in my hart. Dit is my geloof wat ek verkondig. Ek glo met my hart en ek bely met my mond tot my redding. Ek sal nie beskaam staan nie. Ek roep die Naam van Jesus Christus aan en ek sal gered word. Amen. 

Vergelyk: Joh. 16:8-11 en Op. 12:11

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 15 July 2026

Mossiestilte: Ps. 97:11

Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.

Sy lig is nie net vir jou pad en die lamp vir jou voet nie. Sy lig, verlig die aarde en die donker om jou, maar ook die donker in jou hart wat jou wil oorweldig en die donker vlug weg.
Dan vul Hy jou met vrolikheid, want Hy het jou sy geregtigheid gegee. 
Hy het jou lig voorsien sodat jy opreg van hart is en vandag met vrolikheid sy lof kan besing.

Dankie, Hemelse Vader, vir U redding, u wat die kwaad haat. U bewaar my siel want ek is u gunsgenoot. U red my uit die hand van die goddelose. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel] 

Sunday, 12 July 2026

Mossiestilte: 1 Kon. 8:57-58

Mag die HERE onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie ---

Ja, mag God met jou wees en jou altyd ondersteun en verryk, in jou daaglikse struwelinge en werk om voorspoedig te wees.
Jy het gesien hoe die vaders geseën was en hulle was suksesvol sonder vrees.
Jou hemelse Vader sal jou nooit verlaat nie, maar altyd lei en stuur met sy wysheid en genade, om jou doel te bereik en al die eer en heerlikheid aan God die Almagtige te gee.

Almagtige Vader, U het vir my 'n weg voorberei, net soos U vir my vader voorberei het, het U ook my weg voorberei. Ek weet dat U saam met my vandag sal loop en my versterk met u Heilige Gees. U is "God my Voorsiener," "God my Beskerming," "God my wysheid." U gee vir my genoeg talente en wysheid. Ek glo U barmhartigheid, genade en goedheid sal my help, om vandag suksesvol en korrek te werk, sonder vrese, tot eer en heerlikheid van u Heilige Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 8 July 2026

Mossiestilte: Ps. 34:20

Menigvuldig is die teëspoede  van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.

Die Here kom en bevestig sy goedheid aan jou vir vandag.
Hy sal altyd betyds wees vir jou.
Hy sal altyd aan jou sy wees.
Hy sien elke traan, en hoor elke gebed. 
Hy ken al jou gedagtes.

Liefdevolle Vader, ek weet dat U vandag my te hulp sal kom en my omstandighede verander om U grote Naam te verheerlik. AMEN

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 5 July 2026

Mossiestilte: Spreuke 4:23

Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Alles wat jy sê of doen of dink se oorsprong kom uit jou hart uit. Dit is die plek waar alles begin en die deel waaroor ons die meeste moet waak. Soms broei dinge in jou hart, wat dan kom nes maak in jou kop, en dan borrel woorde uit jou mond, wat jy nie weer kan terugtrek nie en daar is sóveel krag in ons woorde! 

SPREUKE 18 vers 21 waarsku ons dat: "Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet." LET OP "SAL".
 
Ons moet ons harte bewaar, sodat ons ons gedagtes in toom kan hou. Dit sal die woorde wat ons spreek, kan beheer. Ek dink nie mense besef altyd die geheim wat daar in hierdie verse lê nie en hoe dit ons lewens beïnvloed nie. 

Mag jy vandag en elke dag jou hart, jou gedagtes en jou mond bewaar.

[Dankie, Ann vir die aanstuur. Klik HIER vir die boodskap.]

Wednesday, 1 July 2026

Mossiestilte: Ps. 27:4

Een ding het ek van die Here begeer en dit sal ek soek: Dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikhede van die Here te aanskou en te deursoek in sy tempel.

Hierdie is 'n geweldige stelling.
Daar is geen mens wat die volheid van die stelling kan verstaan of probeer uitwerk nie.
In die hemel:
Daar is 'n plek met boeke en geskrifte, wat die engele daagliks aanteken van elke deel van die skepping en daad van elke mens en wese.
Daar is engele getaak, om elke mens te bewaar en te versorg.
Daar is engele wat die volle skepping, sterre, sonne en stelsels onderhou en bewaar om God te verheerlik.
Daar is 'n verruklike paradys waarheen die kinders van God gaan.
Daar is engele wat in opdrag van die Vader oorlog maak.
Daar is wesens wat vir die mens te wonderlik van gedaante is om te verstaan.
Daar is gerubs en serafs, wat God dag en nag verheerlik en om God en sy troon vlieg en beweeg.
Daar is prag en praal wat so asemrowend is, wat geen mens homself kan indink kan bestaan nie.
Die grote van elke vlak in die hemel sal jou 'n ewigheid vat om te deurkruis.
Daar is gelowiges wat God se heerlikheid dag en nag besing saam met engele.
Daar is 'n plek waar al die gebede van gelowiges en trane getel word en gehoor word en aandag aan gegee word en opgeteken word.
Daar is 'n plek waar mense herstel, versterk, genesing en barmhartigheid ontvang.
God se skatkamer is so oneindig groot en elke skat het eienskappe van die goedheid, geweldige krag en genade en barmhartigheid van God. 
Daar is skatte wat die sondige mens sal laat sterf, as dit nie vir Jesus se genade was nie.
Daar is engele wat saam met Jesus, dag en nag intree by die Vader vir die mens.

Ek het nog net die menslike idee gegee, maar God en sy koninkryk is ver bo alles wat ons ooit kan dink of oor droom.
Daar is ook 'n plek waar die gevalle wagters vir hulle lot wag ... daar is ook 'n hel.

Jy sal nie in een leeftyd deur God se koninkryk kan kom nie. Daar is 'n deur waar die ergste marteldood van Jesus se Seun gesien kan word en die ervaring is sieldodend, en die begrip daarvan kan jou in 'n skoktoestand vir dae en weke lank verlam en net die genade van Jesus kan jou teen die tragiese gebeurtenis beskerm.

Ek glo Dawid het 'n idee gehad waarna hy gehunker het, en hy wou dit sien.

Hoe voel jy daaroor? 
Wil jy dit beleef? 
Bid God dat Hy jou oë sal oopmaak dat jy sy seëninge en guns vir jou kan beleef. 

Stap saam met Jesus deur die Heilige Gees en laat Hy jou die skatte wys wat God aan jou wil gee, ja reeds hier op aarde. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 28 June 2026

Mossiestilte: Genesis en Johannes

Gen. 1:3
En God het gesê laat daar lig wees! En daar was lig.

Joh. 1:9-10
Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Joh. 8:12
En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Joh. 3:19-21
En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.
Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.

Here, en Almagtige Vader, dankie vir u lig, wat die duisternis van die aarde wegneem. U lig is in my en lei my en leer my om die duisternis te oorwin. Die duisternis vlug vir u lig, wat my vrymaak van vrees en sonde. My sonde het aan die lig gekom en U het my bevry, sodat ek my werke in God kan doen. Ek prys U grote Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 24 June 2026

Mossiestilte: Beleef God daagliks

"Beleef God"
(oorspronklik Experiencing God) deur Henry Blackaby en Claude King is 'n invloedryke Christelike hulpbron wat miljoene help om 'n intieme verhouding met God te ontwikkel. 

Dit fokus daarop om God se wil te ken en saam met Hom te werk, gebaseer op 7 kernwaarhede vir geestelike groei en gehoorsaamheid.

Dit is nie net 'n boek nie, maar 'n reis om God se liefde en krag te begryp deur 'n daaglikse, praktiese verhouding. 

SEWE KERNWAARHEDE (Realities):
* God is altyd besig om rondom jou te werk.
* God soek 'n voortdurende, liefdevolle verhouding met jou.
* God nooi jou uit om saam met Hom aan sy werk deel te neem.
* God praat deur die Heilige Gees, die Bybel, gebed, omstandighede en die kerk.
* God se uitnodiging lei tot 'n geloofskrisis wat optrede vereis.
* Jy moet jou lewe aanpas om by God aan te sluit.
* Jy leer God ken deur gehoorsaamheid.

Sunday, 21 June 2026

Mossiestilte: 2 Kon. 32:20&21

Maar toe Koning Jehiskia en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid het en na die hemel geroep het, 
stuur die Here 'n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van die Assiriërs verdelg, sodat hy met 'n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het;

By tye vind jy jouself in posisies, waar mense jou dreig, of agteraf jou probeer indoen. 
God sal 'n engel stuur en vir jou 'n weg berei en alles vernietig wat jou wou vernietig.
Met skaamte sal jou vyand vlug wat jou wou vernietig.
God sal weer jou status herstel soos voorheen, en almal sal jou vereer omdat jy in God gehandel het.

Here, ek erken ek het groot foute in my lewe gemaak en verdien nie altyd die oorwinning wat U aan my gee nie. Ek sal U egter altyd bly dien, al is dit die laaste ding wat ek sal doen. U is my God en my Saligmaker. U is my Groot Geneesheer en Voorsiener, U is my Vertrooster en is barmhartig en genadig teenoor my, al verdien ek dit nie, U bly by my en sal my nooit verlaat nie, my Verlosser. Amen. 

Wednesday, 17 June 2026

Mossiestilte: Lukas 6:45 - Wat kookpunt uitbring

“Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”

• Ons almal ken die gesegde: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
• Wanneer iemand onder druk is en kookpunt bereik, is daar geen voorgee nie, maar die ware mens kom na vore.
• Geliefde, die vraag wat net jyself kan antwoord, is wie woon in jou as jy kookpunt bereik, die slegte of die goeie mens?
• Kies vandag dat God se Gees in jou woon en wanneer jy onder druk is, kom God se woord van geloof en hoop uit.

Gebed: Here, vergewe my vir die tye wat ek die slegte mens toegelaat het in my lewe. Here, ek kies vandag om te lewe deur U Gees wat in my woon sodat die goeie mens na vore sal kom. In Jesus naam. Amen 

Sunday, 14 June 2026

Mossiestilte: Kol. 1:26-27

naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,
aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van sy heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

God se wil is onweerstaanbaar. Hy kon nie wag om by jou in te trek nie. Nog 'n betekenis is; dit is so aantreklik gewees vir God, om by sy mense in te trek en onder hulle te kom woon.
Die NKJV noem dit "Christ in us the hope of glory."
Dit was weggesteek vir die heidene dat Christus se grootste onweerstaanbare begeerte was, om onder ons te wil kom woon.
Nou is dit aan almal geopenbaar wat God se wil was en is, om onder/in sy heiliges te kan woon en met sy nuwe hoop te kom vul.

Dankie Vader, vir hierdie openbaarmaking wat die rykdom van die heerlikheid in my is. Dit is die volmaaktheid in Christus Jesus waarmee U ons vul. Ek is gevul met die Heilige Gees. Ek is ten volle genees; My hart loop oor van blydskap en u liefde, vrede en oorwinning besit nou my hart. Amen!

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 10 June 2026

Mossiestilte: Ps. 147:3

Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.


Die Here is ons groot Geneesheer en Vertrooster.
Hy staan nie eenkant nie. Hy kom in jou lewe in deur sy Heilige Gees en verander verdriet in aanvaarding en vrede.
Hy sal nie 'n geknakte riet breek nie, maar bring kalmte en herstel die gebrokene van gees.
Net Jesus herstel wonde, hoe diep ook al.

O Vader, net U weet wat ek in my hart ronddra. U blaas weer u asem in my in, wanneer paniek my wil oorval. Jesus, U wonde het vir my genesing gebring en maak my weer heel. Ek prys en loof u Naam. U goedheid lig my op en gee my krag vir hierdie dag. Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 7 June 2026

Mossiestilte: Kol. 3:1-14

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Gesterwe? Ja, teenoor die wêreld en begeertes van die wêreld; teenoor die vleeslike begeertes wat ons verlei van die liefde van die ewige God en Vader.
Soek nou die dinge wat daar bo is, waar Jesus aan die regterhand van God is. God hou jou nou in sy beskermde hand en niemand kan jou uit sy hand neem nie; Hy verberg jou teen die vyand van dood en verwoesting.

Dankie, Jesus, vir U vrede wat U in my hart gesit het. Die Heilige Gees in my, bring vrug; ek is gevul met u vrede. Ek sal nou saam met Jesus in heerlikheid openbaar word (vers 4). Ek beklee my as uitverkorene met God om myself los te maak van sondes, deur Jesus Christus en bo alles, myself met u liefde te beklee wat die band van volmaaktheid is (vers 14). Ek is dankbaar vir U Eoord in my, die swaard, om genesing en verlossing te bring in die kragtige Naam van Jesus. Amen.

Wednesday, 3 June 2026

Mossiestilte: Heb. 1:9 en 10

U het u geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God, U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; 
en: 
U, o Here het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande.

In die begin het God die aarde met sy woord geskep, die Skepper, Elohim, en Elohim, onderhou ook die skepping en herstel dit.
Hy word deur God gesalf met vars vreugde-olie bo sy metgeselle, want God het die geregtigheid lief.
God het jou geskep na sy beeld en sy gelykenis en sy Gees in jou ingeblaas.
Sy Seun se troon is tot in ewigheid en so ook joune, omdat Christus jou gereinig en geheilig het deur sy bloed.

O Here, in die begin het U die aarde gegrondves en die hemele is die werke van u hande en u woord. Omdat ek vlees en bloed deelagtig geword het, het U dit ook deelagtig geword en deur die dood het U hom tot niet gemaak, wat mag oor die dood het (vers 14). U het my kom bevry wat vrees vir die dood gehad het (vers 15). U het self versoeking gelei, sodat U my kon help wat versoek word (vers18). Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 27 May 2026

Mossiestilte: Joh 14 :1

Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in my.

Jesus se wysheid is verhewe bo alle denke en redenasies.
God het 'n plan om jou te versorg en vir jou in alles te voorsien.
As jou hart jou dus ontstel, sal God die middelaar stuur om jou vry te spreek, want Hy, is die wet en die profete.
God, het 'n baie beter lewe vir jou in die vooruitsig, waaraan jy selfs nog nie eers aan gedink het nie.

Dankie, Vader en Jesus, vir die feit dat ek nou met u instruksies, die pad suksesvol kan loop. Jesus, U, het klaar vir U genade en barmhartigheid vir my gegee. Ek gee U vanoggend al die eer en heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.

Sunday, 24 May 2026

Mossiestilte: Efesiërs 4:6-7

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Die Heilige Gees wil vandag vir jou rustigheid en vrede gee.
Die Here ken jou omstandighede en weet wat vir jou wag deur die dag.
Hy is klaar gerat vir al jou probleme en sal jou die wysheid gee om jou situasie op te som en op te los.
Bid en smeek jou begeertes af by God en die vrede, wat alle verstand te bowe gaan, sal jou gedagtes en verstand gevange neem in sy almagtige en liefdevolle hand en jou hart sal van dankbaarheid getuig.
Hy sal jou hart bewaar en alle vrees met sy vrede vervang en bewaar.
Al jou woorde en sinne, is verbloem vir die regte tyd om gespreek te word en vir jou oorwinning te bring.

Dankie Here, vir die rus deur die donker nag wat U vir my gegee het. Dankie dat ek verfris en versterk kan opstaan en weet, U het reeds my pad vir die dag vooruit geloop en u engele beveel om die klippe uit my pad te rol. Ek bely dat U die begin en voleinder van my geloof is en my hart bewaar van die bose. Ek het die vrede van God in my. Ek het sy krag, sy mag en sy geregtigheid; ek is voorbereid vir vandag, met 'n hart wat van dankbaarheid oorloop. Amen.

Wednesday, 20 May 2026

Mossiestilte: Dan. 12:10

Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.

Daar sal verstandiges wees wat die Woord sal glo en gered word en die Verlosser sal aanvaar as die Seun van God.
Daar gaan egter ook die onverstandiges wees, wat die Woord sal bespot, of ateïste wat die leuen sal glo en die Verlosser sal verwerp.
Johannes sê dat Jesus het na sy eiendom (die mens wat Jesus geskape het) gekom en sy eiendom het hom nie aangeneem nie.
Hulle het die donker liewer gehad as die lig.
Jesus is die Lig van die wêreld.
Wees verstandig en gaan na die Lig, sodat jou werke aan die lig kan kom en duisternis kan vlug.

Here, in u Koninkryk is geen donkerte nie, net u lig. Die son en die maan en sterre sal nie nodig wees om die nuwe Jerusalem te belig nie. Jesus is die ewige lig. Ek wil met my verstand en geloof bely, U is die Seun van God Almagtig, die Vredevors en Raadsman, Ewige Vader. U het my kom red en bevry van Sonde. Amen.