Showing posts with label Nelson Mandela. Show all posts
Showing posts with label Nelson Mandela. Show all posts

Tuesday, 22 July 2025

67-noodsaaklike minute by Resthaven ouetehuis


Senior burgers of oumense soos daar dikwels in die omgangstaal na hulle verwys word - die mense wat hulle lewe gewy het om op te bou, hard te werk, uit te reik en kinders groot te maak ... hulle wat nie meer raakgesien word nie ... hulle wat uitgerangeer is uit die samelewing waar alles teen 'n vinnige tempo en nog vinniger leefstyl gekenmerk word ... hulle het ons hulp dringend nodig.

Die vergete aftree-oorde wat deur gedetermineerde en omgeepersoneel aanmekaar gehou word, skree die onbetrokkenheid van die gemeenskap uit. Daar is só baie dinge wat benodig word om net te oorleef.

Kimberley se besondere koue winter het die behoefte aan komberse en wintersklere onderstreep.

'n Uit-die-hart-dankie vir Rina Groenewald wat op die agtergrond gewoeker het om die eerste tree te gee om die winterknyp by Resthaven aan te spreek. 50 splinternuwe komberse val nie net uit die lug uit nie. Saam met haar, het Pula, Daphné en Lizzie gehelp om vir elke inwoner Mandela-dag spesiaal te maak. Saam met die snoesige komberse, is daar ook heerlike sop en broodjies uitgedeel, terwyl ds. William en sy vrou, Isabel, ook die Brood van die Lewe met die inwoners gedeel het.

Dankie vir elkeen wat hierdie uitreik spesiaal en moontlik gemaak het.

Thursday, 18 July 2024

Hoe gaan jy vandag jou 67 minute spandeer?

Elke jaar word daar op 18 Julie 67 minute van individue gevra om uit te reik, om 'n verskil te maak en om hulp te verleen daar waar dit die nodigste is. Hierdie voorbeeld is deur Nelson Mandela gestel en wêreldwyd word sy geboortedag nou internasionaal gevier om mense bewus te maak van gemeenskappe en mense in nood. 

Internasionale Mandela Dag het in 2009 begin om mense te inspireer. Maak nie saak hoe klein of groot jou bydrae is nie, die belangrikste is die eerste tree. 

'n Paar uitreik-idees om hierdie dag anders as ander dae te maak: 
* Skenk plantjies vir die kerktuin of plant sommer self 'n paar plantjies of 'n boom in die tuin.
* Doen inkopies vir senior burgers of vir die inwoners van Sally Aucamp.
* Kuier by die inwoners van Ons Huis of Sally Aucamp tydens teetyd - gesels, gee om en vat 'n baksel skons of muffins saam. 
* Lees vir hulle wat in die 24-uur versorgingseenheid lê.  
* Help met huiswerk by 'n kinderhuis of gaan kuier net, gesels en deel broodnodige drukkies uit.
* Samel klere en/of komberse in en gee dit vir organisasies wat by werklose mense betrokke is.
* Besoek iemand in die hospitaal.
* Vat wol vir diegene in Ons Huis wat ywerig vir die straatkinders brei. 
* Bel iemand wat eensaam is en gesels vir 67 minute (dis mos net een maal 'n jaar).
* Kook 'n ete vir iemand wat dit nodig het.
* Gee 'n etegeskenkbewys vir 'n boemelaar.

Daar is nog honderde idees wat julle met ons kan deel. Stuur gerus foto's en vertel die storie agter die storie - dis dikwels die inspirasievonk wat iemand nodig het om die uitreikstokkie aan te vat in die lewenswedloop. 

Klik HIER om meer van Allan se 67-minute in 2023 te lees.

Tuesday, 18 July 2023

Sally Aucamp se 67-minute


Ds. Ensie en Allan
Sally Aucamp se 67-minute vir Madibadag-projek is geskoei op Nelson Mandela se woorde: “Wanneer ons ons lig laat skyn, laat ons ander onbewustelik toe om dieselfde te doen.“

Allan Visagie, een van die inwoners, het hierdie projek gereël. Die doel van vandag se uitreik was om die omstandighede gemakliker te maak vir hulle wat vandag by Beaconsfield se kliniek gestaan en wag het om gehelp te word. Die koue vaal wintersdag het dadelik van kleur verander toe heerlike warm sop en toebroodjies aan die wagtendes uitgedeel is. Daar was baie honger magies wat reeds van vroeg af in die ry gestaan het. Almal het genoeg gehad en daar was nog oor. Dit laat 'n mens onwillekeurig dink aan die Bybelse vissies en broodjies
Endry Strauss en Pula
Leburu saam met
Allan.
wat aan die skare uitgedeel is en toe almal genoeg geëet het, het die dissipels nog twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het.

Ons roeping as rentmeesters is om te dien en om 'n verskil in mense se lewens te maak. Mense wat 'n entoesiastiese en energieke Allan gehelp het om vandag die lig in ander se lewens te wees, was Rina, ds. Ensie, Endry, Pula en Daphne. Ds. Ensie het 'n relevante boodskap van bemoediging gebring. 

Sally Aucamp se hartsprojek en omgeeprojek was geseënd. Die hand van ons Hemelse Vader was so duidelik sigbaar met hierdie uitreik en daarom weet ons dat die saad wat vandag by Beaconsfield Kliniek gesaai is, vrugte sal dra.

'n Groot dankie aan elkeen wat vandag tyd en bereidwilligheid vir hierdie saak gegee het.

Foto's: Rina Groenewald
'n Vrywillige werker by Sally Aucamp.



Allan is 'n uitreiker en 'n rolmodel. Lees die artikel HIER.

Wednesday, 18 July 2018