Tuesday, 22 July 2025

67-noodsaaklike minute by Resthaven ouetehuis


Senior burgers of oumense soos daar dikwels in die omgangstaal na hulle verwys word - die mense wat hulle lewe gewy het om op te bou, hard te werk, uit te reik en kinders groot te maak ... hulle wat nie meer raakgesien word nie ... hulle wat uitgerangeer is uit die samelewing waar alles teen 'n vinnige tempo en nog vinniger leefstyl gekenmerk word ... hulle het ons hulp dringend nodig.

Die vergete aftree-oorde wat deur gedetermineerde en omgeepersoneel aanmekaar gehou word, skree die onbetrokkenheid van die gemeenskap uit. Daar is só baie dinge wat benodig word om net te oorleef.

Kimberley se besondere koue winter het die behoefte aan komberse en wintersklere onderstreep.

'n Uit-die-hart-dankie vir Rina Groenewald wat op die agtergrond gewoeker het om die eerste tree te gee om die winterknyp by Resthaven aan te spreek. 50 splinternuwe komberse val nie net uit die lug uit nie. Saam met haar, het Pula, Daphné en Lizzie gehelp om vir elke inwoner Mandela-dag spesiaal te maak. Saam met die snoesige komberse, is daar ook heerlike sop en broodjies uitgedeel, terwyl ds. William en sy vrou, Isabel, ook die Brood van die Lewe met die inwoners gedeel het.

Dankie vir elkeen wat hierdie uitreik spesiaal en moontlik gemaak het.