Showing posts with label Hospitaalbesoek. Show all posts
Showing posts with label Hospitaalbesoek. Show all posts

Monday, 4 May 2026

Nooit alleen nie: Ek sal rustig wees, want ...

* Ek aanvaar die MIDDELE waardeur God my wil help. Daarom sal ek die dokter, verpleegsters en behandeling sien as instrumente in die hand van die Here. Ek sal SAAMWERK so ver as moontlik.

* Ek aanvaar die TYD waarop God my wil genees. Hy is my alwyse en liefdevolle Vader wat weet wat die beste vir my is, en wat die beste vir my wil doen.

* Ek aanvaar die WEG waarlangs die Here my lei. As Hy my genees, sal dit vir my 'n wonderwerk wees - of Hy middele gebruik of nie; of dit gou is of nie.   

Ek aanvaar dat God nooit sy kind in die steek laat nie. Ek sal seker maak dat ek sy kind is, sodat ek ook kan weet: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie." Hebr. 13:5.

"Wees nie bevrees nie, want Ek is by jou." Jes. 43:5.

Die kerk staan by jou ...

Siekte raak nie net ons liggaam nie - dit het ook 'n invloed op ons gees. Ons gees het egter ook 'n invloed op ons liggaam.

Daarom wil die kerk met jou saamleef in tye van siekwees. Ons sal saamwerk en bid vir die versterking van jou gees en die genesing van jou liggaam. 

Mag jy ondervind dat hierdie tyd nie verlore tyd is nie, maar dat dit blywende resultate lewer.

INDIEN JY 'N BEHOEFTE HET AAN HUIS-, HOSPITAAL- 
OF SIEKEBESOEK, SKAKEL ASB DIREK VIR 
DS. ENSLIN BY 079 522 9680.

Monday, 2 February 2026

Nooit alleen nie: Ek sal sterk wees, want ...

* Ek het 'n bron van krag wat altyd genoegsaam is: "Die Here is my lig en my heil, vir wie sal ek vrees?" Ps. 27:1
* Ek is hier op Gods bestelling en in sy bewaring: "Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom en Hy sal dit uitvoer." Ps. 37:5

* Ek is hier in die Skool van Christus en sal met 'n gewillige hart luister en leer: "Neem my juk op julle en LEER van my, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal RUS vind vir julle siele."  
Mat. 11:29 

* Ook my liggaam behoort aan die Here en is vir Hom van groot waarde: "Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort." 1 Kor. 6:20

Die kerk staan by jou ...

Siekte raak nie net ons liggaam nie - dit het ook 'n invloed op ons gees. Ons gees het egter ook 'n invloed op ons liggaam.

Daarom wil die kerk met jou saamleef in tye van siekwees. Ons sal saamwerk en bid vir die versterking van jou gees en die genesing van jou liggaam. 

Mag jy ondervind dat hierdie tyd nie verlore tyd is nie, maar dat dit blywende resultate lewer.

INDIEN JY 'N BEHOEFTE HET AAN HUIS-, HOSPITAAL- 
OF SIEKEBESOEK, SKAKEL ASB DIREK VIR 
DS. ENSLIN BY 079 522 9680.

Friday, 11 April 2025

Hallo, Jesus, dit is Jim

Elke dag om 12 uur het 'n man by die kerk se voordeure ingestap, stadig tot voor die kansel, 'n paar minute daar vertoef en dan weer uitgestap.
 
Die predikant het hierdie daaglikse ritueel gade geslaan en besluit op 'n dag om meer van die man te wete te kom. Hy stap na hom toe en sê: "Goeiedag, Meneer, ek sien jou elke dag by die kerk instap en dan weer na 'n paar minute uitstap, is daar dalk iets waarmee ek kan help?"

Die man kyk na die predikant en glimlag: "U sien, dominee, ek kan nie baie goed en lank bid nie, nou stap ek maar elke dag gedurende my etensuur om 12 uur hier by die kerkgebou in en dan stap ek tot daar voor die preekstoel en dan sê ek: 'Hallo, Jesus, dis Jim hier,' en dan stap ek maar weer uit."

En so het die tyd verbygegaan, en eendag het een van die gemeentelede vir die predikant kom sê dat Jim in die hospitaal opgeneem is, en dat dit nie goed gaan met hom nie. Die predikant gaan toe hospitaal toe en vra die saalsuster hoe dit met Jim gaan. Sy sê toe dat sy die man so jammer kry - hy is so siek, en kry geen besoekers nie.

Die predikant gaan toe na Jim se bed, en vra: "Jim, hoe gaan dit met jou?"
 
Jim se hele gesig kry 'n uitdrukking van blydskap toe hy antwoord: "Dit gaan baie goed met my, ek het nou net besoek ontvang."
 
Die predikant was baie verbaas, want die saalsuster het nou net gesê dat Jim geen besoekers kry nie. Hy vra toe: "Wie was jou besoeker, Jim?"
 
Jim vertel opgewonde dat elke dag om 12 uur dan stap Hy hier in en dan sê Hy vir my: "Hallo, Jim, dis Jesus," en dan stap Hy weer uit.

Soms dink ons dat ons geleerde woorde moet besig om met die Vader te praat. Maar Hy is ons Vader, en Hy hoor nog voordat ons gevra het. Ons kan met ons Hemelse Vader praat oor enige iets net soos ons met ons aardse vaders kan praat. 

En Hy is altyd daar om te luister, en te antwoord. Al sê ons net Hallo, Jesus, dis maar net alweer ek - ek het nie baie woorde nie, maar lees asseblief vandag my hart.

[Skrywer - Onbekend]