Showing posts with label Psalm. Show all posts
Showing posts with label Psalm. Show all posts

Wednesday, 9 September 2026

Mossiestilte: Psalm 23:4

Hoor hoe kosbaar gee die Woord ons die bevestiging dat Hy met ons is wie anders beter as Dawid kan dit beskryf ... Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Die ergste bekommernis wat 'n mens kan vrees is die dood, maar omstandighede in ons lewe bring ook vrese nader.

Maar hoe werk dit? Hoe skuil ’n mens by die Here? Dit is ’n geloofsdaad. Dit beteken om jou moeilike omstandighede in die Here se hande te laat en volkome op Hom te vertrou. En dan bewys jy jou vertroue deur te jubel en te juig. Ja, jy is bly omdat jy weet die Here sal voorsien. Sy goedheid sal jou soos ’n skild beskerm. Want die Here beskerm dié wat sy Naam liefhet en oor Hom juig.

O Here, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid ...Want U het 'n toevlug vir my geword, 'n sterk toring teen die vyand "wat my bekommernisse is." Ek wil in u tent vertoef vir ewig, in die skuilplek van u vleuels my verberg. 

Here, laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet. Want U seën die regverdige, o Here, U omring hom met welbehae soos met 'n skild. Amen.

[Aangestuur]

Monday, 31 August 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

God sal ons seën,
en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.
Psalm 67:8

Sunday, 16 August 2026

Mossiestilte: Job 29:2

Angstigheid neem nie môre se leed weg nie, maar wel die krag vir vandag.
[Charles Haddon Spurgeon (1834-1892)]

“Ag, was ek maar soos in die vorige maande, soos in die dae toe God my bewaar het”

As jy voel dat dit nie met jou is “soos in die vorige maande nie,” is dit nou tyd om tot die daad oor te gaan; moenie tevrede wees met 'n vrome wens om die vroeëre geluksaligheid weer terug te kry nie. Gaan nou onmiddellik en soek jou Meester op en bekla jou nood by Hom. Vra Hom vir sy genade en krag om jou te help om in nouer gemeenskap met Hom te kan leef; verootmoedig jouself voor Hom. Hy sál na jou luister, jou wéér oprig en jou die lig gee wat uit jou lewe verdwyn het. Moenie gaan sit en sug en kla nie. By die lewende Geneesheer is daar hoop, ja nog veel meer, die besliste sekerheid van genesing hoe erg jou geval ook al mag wees!

Friday, 14 August 2026

God se beloftes by die kruispad

Psalm 94:19
Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.

Jesaja 51:12

"Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle. Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras?"

Psalm 34:18

"As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede."

Wednesday, 12 August 2026

Mossiestilte: Romeine 8:1

DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
ROMEINE 8:1 AFR53

Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir elkeen wat aan Christus Jesus behoort. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly ...

Dankie Jesus U kom toe die eer en aanbidding tot in ewigheid amen!!

Sunday, 9 August 2026

Mossiestilte: Psalm 2:11+12b

Dien die Here met vrees, en juig met bewing
Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.

Die Here het jou geskape vir sy genot en verheerliking. 
Dien die Here met vrees en juig met bewing.
Jy wat by Hom skuil is klaar geseënd.
God sal aan jou voorsien na die rykdom van sy heerlikheid in Jesus Christus.

Dankie, Vader, ek kom met bewing na U toe en ek weet ek sal rykdomme vanuit die hemel kry, wat ons nie eers aan kan dink nie. U bekerm my, U voorsien vir my, U gee my u guns vanuit u skathuis, U het my klaar genees, U het my vrygemaak van sonde. U is my kampioenvegter vir U saak. U Heilige Gees stuur my in u wysheid en insig, om u liefde uit te dra aan almal wat gebrek het, net soos wat U, u lewe vir my afgelê het. Baie dankie, my Heilige Vader, in Jesus Naam. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Monday, 27 July 2026

Seënbede: Mag jy vandag 'n geseënde mens wees ...

Geseënd is die mens wat ...

in die Woord van die Here sy vreugde vind (Psalm 1:1-2).
in die Woord van die Here onderrig word (Psalm 94:12).
wandel volgens God se Woord (Psalm 119:1).

Wednesday, 15 July 2026

Mossiestilte: Ps. 97:11

Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.

Sy lig is nie net vir jou pad en die lamp vir jou voet nie. Sy lig, verlig die aarde en die donker om jou, maar ook die donker in jou hart wat jou wil oorweldig en die donker vlug weg.
Dan vul Hy jou met vrolikheid, want Hy het jou sy geregtigheid gegee. 
Hy het jou lig voorsien sodat jy opreg van hart is en vandag met vrolikheid sy lof kan besing.

Dankie, Hemelse Vader, vir U redding, u wat die kwaad haat. U bewaar my siel want ek is u gunsgenoot. U red my uit die hand van die goddelose. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel] 

Wednesday, 8 July 2026

Mossiestilte: Ps. 34:20

Menigvuldig is die teëspoede  van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.

Die Here kom en bevestig sy goedheid aan jou vir vandag.
Hy sal altyd betyds wees vir jou.
Hy sal altyd aan jou sy wees.
Hy sien elke traan, en hoor elke gebed. 
Hy ken al jou gedagtes.

Liefdevolle Vader, ek weet dat U vandag my te hulp sal kom en my omstandighede verander om U grote Naam te verheerlik. AMEN

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Monday, 29 June 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Ag, Here, gee tog heil;
ag, Here, gee tog voorspoed!
Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
Psalm 118:25-26

Tuesday, 16 June 2026

Mandjie Hoop: ‘n Oproep om God te prys

'n PSALM.
By die lofoffer.
Juig voor die Here, o ganse aarde!
Dien die Here met blydskap;
kom voor sy aangesig met gejubel.
Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak, en ons is syne,
sy volk en die skape van sy weide.
Gaan sy poorte in met lof,
sy voorhowe met lofgesang;
loof Hom, prys sy Naam.
Want die Here is goed;
sy goedertierenheid is tot in ewigheid,
en sy trou van geslag tot geslag.

Wednesday, 10 June 2026

Mossiestilte: Ps. 147:3

Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.


Die Here is ons groot Geneesheer en Vertrooster.
Hy staan nie eenkant nie. Hy kom in jou lewe in deur sy Heilige Gees en verander verdriet in aanvaarding en vrede.
Hy sal nie 'n geknakte riet breek nie, maar bring kalmte en herstel die gebrokene van gees.
Net Jesus herstel wonde, hoe diep ook al.

O Vader, net U weet wat ek in my hart ronddra. U blaas weer u asem in my in, wanneer paniek my wil oorval. Jesus, U wonde het vir my genesing gebring en maak my weer heel. Ek prys en loof u Naam. U goedheid lig my op en gee my krag vir hierdie dag. Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Monday, 25 May 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Die Here is my herder;
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Psalm 23:1-2

Friday, 22 May 2026

Wat sê ons vir God?

Gabs Malan het die  volgende stukkie geskryf wat vandag nog net soveel waarde het en veral hier rondom Pinkstertyd.

"My laatlam meisiekind het 'n manier gehad om klein-klein briefies vir my te laat rondlê. Ek het al hierdie briefies in 'n album gebêre. Ek het onlangs weer deur die album geblaai en my daaraan verkneukel. Ek deel graag so drie van die briefies:

* 'Ek hou baie van mamma, want ma is so goet vir ons almal,'

* 'Liewe Muis, ek is so jammer ek het nie my tand nie. My ma het hom weggegooi, maar ek het my brief in my beste skoene gesit vir jou. Muis, sal jy asb vir my 'n bietjie geld gee vir my tand. Liefde Lindi .'

* 'Mamma is die beste mamma wat ek nog ooit gehad het. Ek het mamma baie lief.'

Hoe baie beteken hierdie soort briefies nie vir ons as ouers nie? Dis daar om te lees as die dae koud word en die nagte lank - in die dae van eensaamheid en vertwyfeling - dan gee dit my weer mooi herinnerings en moed - hierdie uitdrukkings van liefde van my dogter ...

Wat sê ons vir God?

Sê ons vir Hom hoe lief ons Hom het??

Sê ons ook vir Hom dat hy die beste God en Vader is?

Of is die meeste gesprekke met Hom slegs versoeke?
* Here, help my asseblief ...
* Maak tog my kind gesond ...
* Help tog my man ...
* Bring ons dogter veilig terug ...
* Seën ons gesin ...

Hoeveel DANKBAARHEID is daar in ons gebede? 

Watter wonderlike oomblikke is daar vir ons aardse moeders as ons kinders hul arms om ons kom sit en vir ons sê dat hulle ons so liefhet?

En ek en God?

Is ek nie ook die ontvanger van sy liefde nie? Sorg Hy nie ook al die jare vir my nie?
* Sy bewaring
* Sy liefde
* Sy vergifnis
* Sy hulp
* Sy troue sorg
* Sy bedagsaamheid
* Sy groot sondaarsliefde wat, ja, ook vir my insluit.
* Hy wat selfs bereid was om sy kosbaarste, SY SEUN te stuur om my te kom losmaak van die sondebande wat my vasgevang gehou het.

WAT SÊ EK VIR SOVEEL LIEFDE? 

Hemelse Vader
Ek het U baie lief!
Dankie vir alles wat U vir my is en doen.
Dankie dat U U is, en dat U U elke dag oor my ontferm.
Dankie vir Jesus -
Ek het U baie lief!
Jesus, ek het U baie lief - dankie dat U gekom het om my weer in ere by God te herstel sodat ek nou by God kan uitkom en met Hom kan praat soos 'n kind met sy vader.
Dankie dat U die Heilige Gees gestuur het om in my te kom woonb, om vir my elke dag te lei op die pad van die lewe - my te help om reg te kies, my lief te hê en te vertroos.
Dankie, Heilige Gees van God.
Ek het U baie lief! ...

Dankie, klein-klein Lindi, vir jou briefies en die GROOT les van dankbaarheid - dankbaarheid wat 'n mens in woorde kan sê om 'n ander se hart bly te maak.

Ek wil die Here loof,
Ek wil die Here loof
Met my hele hart
wil ek U loof!

Dawid het gesê: 'Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.' (Ps. 18)

Loflied op die almag en genade van God.
Ps. 33:1 'o REGVERDIGES, jubel in die Here! 'n Loflied betaam die opregtes.'

Ps 37:4 'en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.'"

[Spore - Mei/Junie 1984 - bl.13-14]

Monday, 4 May 2026

Die Meesterplan: Leesrooster-reis (Week 1 - Maandag)

Die volgende 6 weke se leesrooster bied vir ons 'n verdere Bybelse fundering vir hoofstuk 1 van Die Meesterplan-boek, bl. 26-73.

 Klik HIER en kyk na die video.

[https://youtu.be/4Z5oNO1YrlQ]

Video toeligting tot: 
DIE MEESTERPLAN-LEESROOSTER 1.1.1 
Hoofstuk 1: Die Groot Toneel 
Week 1: God as Skepper en Opperheer 
Dag 1: God skep met orde en doel - elke deel van die skepping dra sy stempel van goedheid 

Lees: Psalm 8:1-10 

Oordink: Hoe beïnvloed die feit dat God se aanvanklike skepping "baie goed" was my siening van die wêreld, myself en my rol en plek in die wêreld? 

Die Meesterplan - Dr. Frans Hancke 
Kopiereg: 2026 DiePLAN - Alle regte voorbehou. https://dieplan.org

Klik HIER vir die oorspronklike toeligting.

Wednesday, 11 February 2026

Mossiestilte: Ps. 113:7&8

wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef;
om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk.

Die Here wil jou vandag oprig vanuit jou moeilikste tye en probleme, daar waar jy nie meer 'n uitkomste sien nie. Al is jy nou die slegste van die slegstes, wil die Here, jou weer in ere herstel met Homself.
In hemelse plekke wil God, jou laat sit, saam met die edeles.
Nie sodat dit in jou hart opkom om meerwaardig as ander te probeer lyk of te wees nie.
Onthou van waar jy kom en gee al die eer aan God, wat jou raakgesien en weer opgerig het.

Here, U, is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. Wie is soos die Here onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op aarde? (Vers 4-6). HALLELUJA! Loof, o knegte van die Here, loof die Naam van die Here! Laat die Naam van die Here geprys word, van nou af tot in ewigheid! Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die Here geloof word! (vers 1-3). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 8 February 2026

Mossiestilte: Ps 119:105 - 'n Lamp vir die pad

"U Woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad." 

Die Here se Woord is 'n lamp vir ons voete en 'n lig vir ons pad. Die lig is sekerlik nie bedoel om kilometers ver vorentoe te skyn nie, maar in die donkerste nag gee die lamp lig vir die volgende stap. 

Die Woord is 'n lamp wat so ontwerp is dat dit net stap vir stap ons pad verlig. Ons moet nooit haastig wees nie en die lig vooruit wil loop nie. Ons sal die kosbare les van geduld en afwagting moet leer, indien ons in die lig wil wandel.

Die Here is nooit haastig nie; en as ons die lig verontagsaam omdat ons nie op Hom wil wag nie, dan loop ons die gevaar om ons teen die klippe op die lewenspad te stamp en oor die struikelblokke te val.

Die lamp skyn slegs vir diegene wat die Lewende Woord in die geloof aanvaar het en volgens Sy eise wandel. Dit is wanneer die Heilige Gees ons oë vir die waarhede in die Woord oopmaak, dat die lamp se lig oor ons pad val en ons voetstappe beveilig.

Monday, 26 January 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

"En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees,
en bevestig die werk van ons hande oor ons, 
ja, die werk van ons hande, bevestig dit!"
Ps 90:17

Wednesday, 17 December 2025

Mossiestilte: Ps. 36:10

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.


Is jou gemoed swaar gedurende hierdie tyd wat ons die Koning van alle konings verheerlik?
Is die tyd so swaar dat jy ligsinnig oor hierdie tyd praat en jouself verswelg aan alkohol; sien jy nie die ster van Dawid nie, sien jy nie die Seun van die mens nie?
Leef jy nie tot eer van jou koning Jesus nie en aanbid jy Hom nie en verheerlik Hom nie oral in jou lewe nie?

Die Here wil vandag vir jou sý lig gee, om jou pad te verlig dat jy die lig vir jou voete te kan sien.
Kom drink by Hom vanuit die fontein van die lewende water sodat jy nooit weer dors kry nie.
God wil jou laat drink uit die stroom van sy genietinge; Hy wil jou verkwik aan die vettigheid van sy huis (vers 9).

My Vader wat in die hemele is, ek wil jubel en juig, want ek het 'n behae in u geregtigheid en wil altyd deur sê: Groot is die Here, wat 'n welbehae in my, sy kneg het. En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur. (Ps. 35:27-28). U is die lig vir my voete, sodat ek die lig kan sien. Vanoggend kom drink ek van die lewe en vruegde by U fontein. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Wednesday, 10 December 2025

Mossiestilte: Ps. 105:4-5

Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond.


In jou swakhede vra na die Here en Hy sal jou sy krag gee
In jou armoede sal Hy jou rykdomme gee, selfs as jy slaap.
In jou dwaasheid sal Hy jou wysheid gee as jy Hom vrees en van Hom bid.
Wanneer jy siekte of kwale het, sal Hy jou genesing wees.

Here, my God, ek dink aan al u wonders. My lippe verheerlik U grootheid en aansien. U is hoog en verhewe en u soom vul die tempel. U het wonders aan my gedoen. Groot en ontsagwekkend is U aangesig. U is my Voorsiener en die Vredevors in my lewe. My oë bly op U gevestig my God en my Heer. U spreek en dit gebeur, u oordele hou my veilig. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]