Sunday, 8 February 2026

Mossiestilte: Ps 119:105 - 'n Lamp vir die pad

"U Woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad." 

Die Here se Woord is 'n lamp vir ons voete en 'n lig vir ons pad. Die lig is sekerlik nie bedoel om kilometers ver vorentoe te skyn nie, maar in die donkerste nag gee die lamp lig vir die volgende stap. 

Die Woord is 'n lamp wat so ontwerp is dat dit net stap vir stap ons pad verlig. Ons moet nooit haastig wees nie en die lig vooruit wil loop nie. Ons sal die kosbare les van geduld en afwagting moet leer, indien ons in die lig wil wandel.

Die Here is nooit haastig nie; en as ons die lig verontagsaam omdat ons nie op Hom wil wag nie, dan loop ons die gevaar om ons teen die klippe op die lewenspad te stamp en oor die struikelblokke te val.

Die lamp skyn slegs vir diegene wat die Lewende Woord in die geloof aanvaar het en volgens Sy eise wandel. Dit is wanneer die Heilige Gees ons oë vir die waarhede in die Woord oopmaak, dat die lamp se lig oor ons pad val en ons voetstappe beveilig.