Sunday, 15 February 2026

Mossiestilte: Die Woord van God

Die Bybel is die Lewende Woord van die Lewende God en geen ander boek kan daarmee vergelyk word nie. Dit is 'n direkte openbaring van God aan die mens om die weg na die ewige lewe aan te dui; en ofskoon dit deur mense geskrywe is, was God self die Outeur daarvan. Sy oorsprong is Bonatuurlik en sy gesag Onbetwisbaar. Dit is Persoonlik van toepassing, besit Herskeppingskrag en is Geïnspireer in totaliteit.

Ongeveer 40 verskillende persone het die Bybel onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf. Hulle het 66 boeke oor 'n tydperk van byna 2000 jaar voortgebring. Hulle was in verskillende lande woonagtig en het in verskillende omstandighede grootgeword. Hulle het verskillende tydvakke belewe en was uit verskillende lae van die samelewing. Een was 'n groot wetgewer; 'n ander een was 'n banneling in Babilonië; nog een was 'n skaapboer van Tekóa; en 'n ander een was 'n skaapwagtertjie wat later 'n koning geword het. Sommige was heersers, ander weer onderdane; party was ryk en ander arm; onder hulle was geleerdes sowel as ongeletterdes; een was 'n dokter, 'n ander een 'n tollenaar en party was ongeletterde vissermanne.

Hulle het in verskillende tale oor elke denkbare onderwerp geskryf. Sommige het nooit die ander gesien of met hulle in aanraking gekom nie. Tog was daar verbasende harmonie in alles wat hulle geskrywe het. Hulle het EEN Boek geskryf. Soiets is ongeëwenaard in die letterkunde en is op sigself bewys van die Bomenslike en Bonatuurlike oorsprong van die Skrif.

Gebore in die Ooste, en geklee in Oosterse vorm en beeldspraak, betree die Bybel die weë van die wêreld met bekende voetstappe.

Die Bybel se boodskap is van toepassing op mense van alle tye en op alle vlakke van die samelewing. Dit spreek in honderde tale tot die harte van manne en vroue. Kinders luister met verwondering en genot na sy verhale, en wyse manne bepeins dit met diepe ontsag.

Dit is 'n woord van advies in tye van nood;
'n Woord van troos wanneer die onheil tref;
Dit verskaf lig in tye van donkerheid;
En dit adem mirre en wierook by die wieg en die graf.
Die kwaaddoeners en hooghartiges word deur sy uitsprake bedreig;
Maar tot die gewondes en boetvaardiges spreek dit met die stem van 'n moeder.

Die hooftema van die Bybel is Christus en Sy versoeningsdood aan die Kruis om 'n verlore mensdom te red. 

Sy boodskap word volmaak opgesom in die woorde van Johannes 3:16: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." 

[AJ Steyn]