Sunday, 22 February 2026

Wat doen jy op Sondae?

Niemand kan kerkbesoek verwaarloos en geestelik vorder nie.

Hoe meer jy wegbly, hoe minder sal jy lus kry om te gaan, en hoe makliker sal jy die dag van die Here ontheilig.

Iemand wat van die kerk af los raak, verloor sy sin vir waardes met betrekking tot God en die ewige dinge. Hy vind iets anders om hom mee besig te hou en word maklik opgeneem in die maalkolk van dolle plesierversugting.

Hierdie dinge verskaf egter nie die versadiging en satisfaksie waarna sy siel smag nie. Daardie leemte in sy binneste word al groter, totdat die lewe eindelik, ontbloot van alle sin en betekenis, 'n vermoeienis en 'n oorlas word, met die moontlikheid van selfdood nie uitgesluit nie.

Dit klink miskien vergesog en onwaarskynlik, maar dit is die verhaal van menige persoon wat van God af weggedwaal het - en die eerste stap op daardie weg was verontagsaming van Gods Woord, van Sy Huis en van Sy Dag.

* Maak 'n gewoonte daarvan om Sondae die kerk te besoek. 
* Ontmoet God daar. 
* Hy daag altyd op vir die afspraak ... 
* En jy? 
* Wat doen jy Sondae?