Showing posts with label Wenke. Show all posts
Showing posts with label Wenke. Show all posts

Tuesday, 30 December 2025

Mandjie Hoop: Praktiese wenke om positief te bly

* Begin jou dag met ‘n positiewe gedagte.
* Omring jouself met positiewe mense.
* Oefen gereeld om jou gemoedstoestand te verbeter.
* Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal.
* Vermy negatiewe selfpraat.


Thursday, 13 June 2024

Wat om in geskenksakkies vir Vadersdag te sit

Geskenksakkies vir Vadersdag is 'n goeie manier om ons liefde te bewys. 

Wanneer dit by geskenksakkies vir senior burgers (die ouer pa) kom, is dit belangrik om hul unieke behoeftes en belangstellings in ag te neem. Of jy nou 'n geskenksakkie saamstel vir 'n spesiale geleentheid of net om hul dag op te helder, hier is 'n paar idees wat sekerlik 'n glimlag op hul gesigte sal sit.

1. Draadlose oorfone:
Gradeer sy klank-ervaring op met 'n paar draadlose oorfone.

2. Gesellige pantoffels:
Bederf sy voete met 'n paar nuwe sagte en knus pantoffels. Kies dié met glyvaste sole vir ekstra veiligheid. Die koue vra op hierdie stadium vir heerlike warm pantoffels. 

3. Persoonlike fotoboek:
Skep 'n fotoboek vol herinneringe, gesinsprente en stories uit sy lewe. Dit is 'n geskenk wat sy reis en die liefde wat hy gekweek het, vier.

4. Warm kombers met moue:
Hou hom knus en warm gedurende kouer maande met 'n kombers wat moue het. Op hierdie manier kan hy gemaklik warm bly terwyl hy lees, TV kyk of bloot ontspan.

5. Lekkernye (soet en sout):
Sagte koekies of beskuit, lekkergoed, neute of gedroogde vrugte. Verskillende teegeure of kitssop is ook treffers. 

6. Praktiese doendinge: 
En as hierdie geskenke nie in jou omgewing beskikbaar is nie, of jy weet dat jou pa nie een is wat van tierlantyntjies hou nie of hy is nog nie 'n senior pa nie, onthou, daar is niks so lekker soos 'n heerlike bord gekookte kos met aangename geselskap nie. Was sy kar of sny die gras, snoei die bome se oorhangende takke en pak die garage of buitekamer reg. Doen iets waarvoor hy nie tyd of miskien nie meer die krag het nie. 
En onthou om vir hom DANKIE te sê vir al die jare se opofferinge. En gee daardie dankie-drukkie wat 'n mens so dikwels agterweë laat.

Friday, 5 May 2023

Van ‘n ouer aan 'n kind

Ek het jou die lewe gegee, maar ek kan dit nie vir jou lewe nie.Ek kan jou dinge leer, maar ek kan jou dit nie maak leer nie.
Ek kan jou rigting probeer gee, maar ek is nie daar om jou te lei nie.
Ek kan jou vryheid toelaat, maar ek kan nie daarvoor verantwoording doen nie.
Ek kan jou kerk toe neem, maar ek kan jou nie maak glo nie.
Ek kan jou leer onderskei tussen reg en verkeerd, maar ek kan nie vir jou besluit nie.
Ek kan vir jou mooi klere koop, maar ek kan jou nie van binne mooi maak nie.
Ek kan jou raad gee, maar ek kan dit nie namens jou aanvaar nie.
Ek kan jou liefde gee, maar ek kan dit nie op jou afdwing nie.
Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees, maar ek kan jou nie onselfsugtig maak nie.
Ek kan jou leer om respek te hê, maar ek kan jou nie dwing om eer te bewys nie.
Ek kan jou raad gee oor vriende, maar ek kan hulle nie vir jou kies nie.
Ek kan jou leer omtrent seks, maar ek kan jou nie rein hou nie.
Ek kan vir jou die feite van die lewe vertel, maar ek kan nie jou reputasie behou nie.
Ek kan jou vertel van drank, maar ek kan nie namens jou NEE sê nie.
Ek kan jou waarsku teen dwelms, maar ek kan nie verhoed dat jy hulle gebruik nie.
Ek kan jou vertel van hoë prestasies, maar ek kan hulle nie vir jou bereik nie.
Ek kan jou vertel van goedheid, maar ek kan jou nie forseer om genadig te wees nie.
Ek kan jou waarsku omtrent sonde, maar ek kan nie jou standaarde stel nie.
Ek het jou lief as my kind, maar ek kan jou nie God se kind maak nie.
Ek kan vir jou bid, maar ek kan nie maak dat jy met God wandel nie.
Ek kan jou leer van Jesus, maar ek kan nie Jesus jou Koning maak nie.
Ek kan jou leer van die lewe, maar ek kan jou nie die Ewige Lewe gee nie.
- Onbekend

Saturday, 23 May 2020

Wenke vir vryers!

VAN ‘N KWAAI PA AAN DIE JONG MANNE WAT BY SY DOGTER KOM KUIER
RSG – MEI 2005

Moenie toet voor die deur nie.  Jy sal nie my dogter kom oplaai nie.
Kyk my dogter in die oë – op geen ander plek nie!
As jou broek lyk of hy los hang, sal ek hom met ‘n paar spykers vir jou vassit.
Ek lyk nie gemeen nie – ek ís gemeen.
Ek is nie lus vir praatjies maak oor die weer of rugby nie.  Ek wil net een ding weet, en dis wanneer jy my dogter terugbring.  En ek ken net een woord – VROEG.
Moenie tyd mors met rondry nie. Maak jou handig – was die kar.
As jy my dogter laat huil, sal ék jóú laat huil.
Jy vat nie my dogter na enige fliek met ‘n ouderdomsbeperking nie. Walt Disney is ‘n goeie keuse, maar ‘n besoek aan haar ouma is nog beter.
Moenie vir my lieg nie – ek gaan vir jou uitvang!
Moenie jou laat flous deur die feit dat ek ouderling is nie – ek doen dit net om my vrou tevrede te hou.
Toemaar, onder al die dreigemente het ek eintlik ‘n goeie hart!

[Hierdie is een van drie stukkies juwele wat ek anoniem gekry het - en ek deel dit graag - Meimaand 15 jaar terug, was sosiale kuiers 'n gegewe!]

Klik HIER as jy van hierdie stukkie Saterdagwysheid gehou het.