Showing posts with label Armes. Show all posts
Showing posts with label Armes. Show all posts

Friday, 19 June 2026

Goeie Nuus Nuusbrief: Hier is die moeilike antwoord

Swaarkry is aan die orde van die dag in ons land. Dit wemel van armoede. Brandstofpryse het die hoogte ingeskiet. Kospryse raak buitensporig. Dag na dag hoor jy van mense wat hulle werk verloor, en van ander wat nie genoeg geld het om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien nie. Hoe gemaak wanneer sulke mense aan jou deur kom klop? Jy kan tog nie almal help nie, maar jy weet ook jy moet sommiges help.

So, wie help jy? 

Ek wens daar was ‘n maklike antwoord op hierdie vraag. Daar is nie, maar daar is wel ’n moeilike antwoord. 

Hier is dit: help wanneer jy kan en help waar jy kan!

Jy kan nie almal se laste dra nie, maar jy kan wel een of twee mense s’n op jou skouers tel. 

Nee wag, jy moet. 

Galasiërs 6:2 sê: “Laai mekaar se swaarkry en seerkry op julle skouers. So leef julle volgens die wet, wat Christus vir julle gegee het.” (NNT) 

Jy kan nie die wêreld verander nie, maar jy kan een of twee persone s’n deur ‘n gebed, ‘n bord kos, ‘n besoek, of ’n ander daad van ontferming verskuif. Jy kan nie vir almal in die wêreld bid nie, maar jy kan volhardend vir ‘n paar persone bid wat die Here op jou radarskerm geplaas het. Jy kan nie alle armes versorg nie, maar jy kan seker maak dat een of twee mense nie met leë hande van jou af wegstap nie. 

* Doen dit getrou. 
* Leef mededeelsaam. 
* Leef vrygewig, soos wat die Here van jou vra.

[Stephan Joubert]

Dankie, Brahm, wat hierdie gedeelte aangestuur het. Hierdie stuk sluit Sondag aan by die Gelykenis van Petrus.

Tuesday, 9 December 2025

Mandjie Hoop: Ons verlosser

Tussen die armes
nederig en gewoon.
Het ons Verlosser
die aarde bewoon.
[Cecil Frances Alexander] 

Wednesday, 31 July 2024

Gedagtes uit die plakkerskamp ...

Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit dié slag Sarie se beurt was om haar kindjie te begrawe, sommer hier in die kamp, op 10 Julie 2010. Sal iemand ooit weet of onthou klein Jana was ook vir ‘n rukkie, ‘n volle 16 maande, hier op aarde, of beteken dit as jy arm is en jy gaan sommer dood van koue, dat dit nie saak maak nie en dat die lewe maar net moet aangaan sonder jou, sonder om jou te mis of om ‘n gat te los? In Sarie se hart het haar kind se dood ‘n gat gelos - vir ewig. 

Die winter het ons gevang hierdie jaar. Ag, Here, hoekom is ek hier? Hoekom is my lewe en my kinders en my hele bestaan opgesom in ‘n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed? Ek leef en oorleef met ander mense se weggooigoed op hierdie godverlate vlaktes waar nie eers ‘n boom of gras se wortels wil vat nie. Niks wil hier wees nie, niemand moet hier wees nie ...

Die kamp en sy mense en die moedeloosheid is besig om my siel lagie vir lagie af te skil tot daar niks van my gaan oorbly nie. Dit maak my dood, maar op ander maniere as wat honger of siekwees jou dood maak. Dit maak die rede dood en die rede vir opstaan en die rede vir weer probeer. Dit maak dit net dood.

Daar was vandag niks om te eet nie. My maag het al so gekrimp dat ek net een keer ‘n dag hoef te eet. Ja, om te dink daar was ‘n tyd wat ek maer wou wees. Ek wonder of dit my maag of my hart is wat pyn, want sien, Here, ék kan nog honger gaan lê, maar ek kan nie my kinders so sien nie! Dis ‘n pyn wat jou lyf nie kan vat nie! Ek het vanaand net water op die gel-stofie gekook tot Magrietjie en boetie, Jan, op die ou end aan die slaap geraak het. Hulle het bly wag en mamma vertrou en nie eers gevra of getwyfel nie. Ek kon nie sê hier’s niks om te eet nie.

Die kerk se mense het oor die naweek die afvalkos gebring wat Checkers uitgooi, maar wat jy nog kan eet - en jy sal dit eet, selfs al stink dit soos iets wat die varke moet eet. Jy grawe die beste uit vir jou kinders en jy eet dit. Dit het gehou tot gister, maar vandag was daar niks.

Ek probeer, Here, regtig, ek probeer. Ek versamel “scrap metal” en ek pas die mense se karre op by die Spar en soms kry ek ‘n “tip” of ‘n brood, maar ek vra nie ander mense om agter my te kyk nie, regtig! Ek sál nie vra nie! Ek kán nie, Here, ek voel ek mág nie! Ek sal eerder iets by iemand vat en u my laat straf - al is armwees genoeg van ‘n straf. Ek sal eerder nóg straf vat, maar ek kán nie ‘n ander mens vir
iets vra nie. 

Asseblief, Here, moet my nooit so arm maak, dat ek moet vra nie. Ek vra net vir u, Here, want u weet. U móét weet, want u het dan alles gemaak.

Of het ék hierdie omstandighede gemaak? Is dit my skuld dat ek hier is? Is dit iets wat ek gedoen het en nou verdien ek om arm te wees? Miskien nog ek, Here, maar nie my kinders nie! Hulle het mos nie gevra om hier te wees nie. Hulle het mos nie gekies nie ...

Hoe maak u kinders en laat hulle doodgaan van koue ... doodgaan omdat hulle nie medisyne kan kry wat die siekte stop nie? Hoe laat u kinders vanaand honger gaan slaap omdat hulle ma net water het om te kook?

Hoekom laat u toe dat wrede, ryk kinders hulle spot uitspoeg na dit wat ons huis noem? Hulle weet nie wat hulle doen nie! Hulle weet nie hoe hulle woorde, wrokke en wrakke van ons harte maak nie. Vergewe hulle, Here, want hoe móét hulle weet? En hoe kán jy, as jy alles het, jou in mense se nood indink of inleef of invoel?

Maak my kinders sterk, Here, want hulle maak my sterk. Ek wil ook opstaan as ek sien hoe hulle elke dag sonder kla of moeg raak of inkrimp op hulle voete bly en selfs trots bly. Ja, hulle lag nog, hulle hoop nog. Ek wil selfs sê hulle vertrou nog op my as ma wat maar sal sorg en sal voorsien soos wat u vir my gee om te kan voorsien.

Hulle leef met ‘n verwagting. Hoe kan ek dan opgee? Ek kan mos nie. Nee, solank as wat u my genadig is en ek vandag oorleef, sal ek maar weer opstaan môre en sal ek veg vir die môre daarna vir my kinders. Ek sal more weer my kinders vertel daar kom iets goed hierna, al kan ons dit nog nie sien nie en al kan ons dit nie eers dink nie, want op ‘n manier glo hulle dit. Al leef ons hier eenkant waar die lewe ons weggegooi het. Al reën dit weer en muf dit verder en al koop niemand meer my “scrap metal” of “tip” my vir die karre wat ek oppas nie. Ek kies lewe! Ek kies dit, want dis in my bloed en dit loop deur my are en deur die eeue. En dit loop deur ons geskiedenis en deur elke uithoek van hierdie land. Dit loop deur my en dit loop ook deur Oom Bertus wat die kos bring, Sarie wat treur, Liena wat te veel drink, Pieta wat ‘n brandweerman wil word en selfs Magda wat wag om dood te gaan.

Lewe. En hoop. En geloof. Wees ons genadig, Heer, terwyl ons bewerig en bang die lewe kies.

[Skrywer onbekend - dankie vir die aanstuur]

Sunday, 22 January 2023

Ons verantwoordelikheid ...

Dit is sonde om jou buurman te verag. Geseënd is hulle wat die behoeftiges help – Spreuke 14:21

Om die armes en diegene wat minder bevoorreg is as ons te help, is nie net ’n mooi ding om te doen nie, maar is, volgens die Bybel, ons verantwoordelikheid. God gee opreg om vir die armes en die behoeftiges, en dit wil voorkom asof Hy ’n spesiale plek in sy hart het vir die weduwees en weeskinders. Hulle is immers alleen en nie in staat om hulself te help nie. God gee ons ’n hart van medelye, maar ons moet meer as ’n barmhartige hart hê – ons moet ons oë oopmaak om te sien wie behoeftig is en ons hande oopmaak om die armes te help.

Die Bybel sê wanneer ons aan die armes gee, leen ons iets vir die Here. God sal enigiets wat ons gee om mense te help, oor en oor vir ons teruggee. Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, maar ons vreugde sal toeneem omdat ons met liefde gegee het. Ek spoor jou aan om wat jy het te deel met diegene wat minder bevoorreg is as jy.

Kraggedagte vir vandag: Ek is altyd genadig en vrygewig teenoor die armes.

[Hierdie is ’n uittreksel uit Kragtige denke vir elke dag deur Joyce Meyer.]