Showing posts with label Terugblik. Show all posts
Showing posts with label Terugblik. Show all posts

Friday, 2 October 2026

Terugblik: Ons stel voor ...

Baie welkom aan die persone wat met bewys van lidmaatskap oorgekom het na hierdie gemeente. Die kerkraad nooi u hartlik uit om dadelik in te skakel by die werksaamhede van hierdie gemeente - word 'n aktiewe lidmaat wat groei in u Geestelike Lewe. Ons het so baie name ingeskryf in die lidmaatregister, en tog is die bywoning van die eredienste en bidure nie altyd 'n getroue weerspieëling van ons lidmaattal nie. Skakel asseblief in en word so deel van die kern van hierdie gemeente. 'n Groeiende gemeente het aktiewe lidmate.

Na die verwelkoming volg die name van 12 lidmate wat van ander gemeentes en dorpe gekom het.
 

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 26 June 2026

Terugblik: Ds. Christiaan Rudolph Kotze

Ds. Christiaan Rudolph Kotze is in Januarie 1881 op Piketberg gebore. 

As sewentienjarige seun het hy aan die Anglo-Boere-oorlog deelgeneem en in 1900 gewond, gevange geneem en na St. Helena. gestuur alwaar hy besluit het om predikant te word. 

Hy is in 1910 gelegitimeer as leraar van Salisbury. 

In 1916 het hy ‘n beroep na Dutoitspan aanvaar en na twee jaar een na Tarkastad. Ds. Kotzé het van  21 April 1916 - 16 November 1918 in die gemeente gearbei.

In 1921 is hy na Heidelberg (Kaap) waar hy werksaam was totdat hy in 1929 ‘n beroep na Rietfontein aangeneem het. Eindelik is hy in 1934 na die gemeente Bloemfontein waar hy werksaam was tot 1947, toe hy sy emeritaat aanvaar het. 

As lid van talle kerklike kommissies en as Vrystaatse medewerker van Die Kerkbode het hy ‘n belangrike rol in die kerklike lewe van Suid-Afrika gespeel. Tereg is hy beskrywe as “die man met die profetiese blik, die helder stem en die suiwer stempel, die man van koers en vaste rigting, die man van staal met die teer gemoed en ware priesterhart.” 

Hierdie stoere kerkleier is op Kersmôre 1950 oorlede.

[Bron: HIER]

Friday, 24 April 2026

Terugblik: Ds. Jacob Rabie

Ds. Jacob Rabie, gebore 25 Mei 1885 en op 25 April 1958 oorlede, is in 1912 gelegitimeer en die volgende jaar in Dutoitspan georden. 

Agtereenvolgens het hy die gemeentes Memel, Bothaville. Trompsburg, Zastron en Excelsior bedien, tot sy emeritaat in 1951. 

As jong seun het hy aan die Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem, en tydens die rebellie het hy vir die gevangenes dienste gehou. Onverskrokke in sy optrede, met ‘n sterk humorsin, het hy hom gelief gemaak waar hy ook gegaan het. 

Hy was getroud met Martha Maria Elizabeth Coetzee en die egpaar het twee kinders, Catharina Johanna Rabie en Petrus Stephanus Rabie gehad. Hy is kort voor sy 74ste verjaardag op Boshof oorlede.

[Bron: HIER]

Friday, 20 March 2026

Terugflits: Leer ander om te dien

Sy naam is Surprise. Hy is 'n polisieman. Getrou in sy werk en ywerig in alles wat hy doen.

Ek het hom nooit spontaan ontmoet nie, maar sy naam het hom vooruit geloop. Juis daarom het ek moeite gedoen om hom te gaan leer ken.

Aan die Suidkus van ons land waar baie mense gereeld by die see gaan uitrus en in die branders en sand kop skoonmaak, het Surprise nie gerus nie.

Waar ander rus, daar is sy werksplek. By die klein, tog besige ou seeplekkie is Surprise gestasioneer.

Hy sou seker ook net die nodige kon doen soos baie van ons, maar nee, hy glo jy doen die ekstra moeite, jy dra daardie ekstra vrag, jy help onvoorwaardelik. As jy hom leer ken, dan kom jy dit onmiddellik agter. Dit was nie moeilik om hom op te spoor nie - ja, almal ken vir Surprise.

By die laaste huis waar hy 'n inbraaksaak hanteer het, het hy uit omgee vir hulle kos laat aflewer.

By die voertuig wat langs die pad gaan staan het, het hy nie net iemand gebel nie, maar haar later gebel en gevra of sy veilig tuis gekom het. 'n Ander se klein seuntjie se trane het hy afgedroog.

Nou ja, so kan ons seker baie dinge oor baie mense vertel - wat Surprise anders maak, is dat die dinge nie 'n nou en dan verskynsel in sy lewe is nie, dit is hoe hy elke dag leef.

Dit is wie hy is. Onvoorwaardelik altyd dienend. Sy lewe gevul met diensbaarheid.

In my gesprek met hom vra ek hom: "Hoe kry jy dit reg dat almal so mooi van jou praat, wat maak jou so anders?"

"Anders, Meneer? Ek is nie anders nie, ons is mos maar almal dieselfde. As ons oë kyk, sien hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons ore luister, hoor hulle 'n plek waar hulle kan help, as ons mond praat, dan bring dit sagtheid.

In 'n nuwe jaar, met nuwe dinge, kan ons by Surprise iets leer: DIEN.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - gaan lees gerus die Twyfelhoekierubrieke op die internet -daar is soveel pitkos om aan te herkou.]

Saturday, 1 November 2025

Terugblik: 1986-gemeenteprogram vir Novembermaand

1-3: Finalejaar-kategesekamp 
2-6: Kommissievergaderings
13: Groepleiersvergadering
15: Kerkraad ontmoet die voornemende lidmate
16: Aflegging van belydenis
17: Kerkraadsvergadering
23: Nagmaal
24: Skoolverlaterskamp begin
29: Gesamentlike gemeente-afsluiting
30: Prysuitdeling: Kategeseskool

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986)

Friday, 24 October 2025

Terugblik: Inhoudsopgawe van "Die Dorstfontein" Oktober 1986

Die maandblad het uit 13 bladsye bestaan:

Inhoudsopgawe:

1. So sê die Woord (bl. 1)
2. Vrouediens (bl. 2)
3. Jeug (bl. 2)
4. So sê die gemeente ... (bl. 5)
5. Troosdae (bl. 8)
6. Van alles en nog wat (bl. 8)
7. Senior Burgers (bl. 9)
8. Ons stel voor ... (bl. 10)
9. Om die draai - Novembermaandaktiwiteite (bl. 11)
10. Mooi gedagte: Tyd (bl. 12)
11. Inkleurprent vir die kleuters (bl. 13)

Elke vereniging of aktiwiteit het maandeliks verslag gedoen oor hul doen en late die betrokke maand en het net so geraak aan wat die volgende maand op die lede wag. Op hierdie manier is daar deeglik rekord gehou van wat in die gemeente gebeur. Hierdie tipe inligting is van onskatbare waarde as daar in die geskiedenis van die gemeente gedelf word. 

Daar gaan die volgende paar Vrydae uittreksels uit "Die Dorstfontein" van Oktober 1986 gegee word.

[Letsie Joubert het o.a. "Die Dorstfontein" getik.]

Friday, 10 October 2025

Terugflits: Gedig - Tyd

Ek kniel en bid, maar nie te lank
Want daar is soveel te doen
Ek moet my jaas want pligte wag
te veel om op te noem.

Ek prewel 'n paar woorde gou,
Spring van my knieë op
My plig as Christen het ek gedoen,
My hart kan rustig klop.

Dwarsdeur die dag was daar geen tyd
'n Trooswoord uit te spreek;
En om van Christus te getuig
Het my gans ontbreek.

"GEEN TYD, GEEN TYD, te veel te doen
Dit laat ek steeds versteen.
Geen tyd oor armes te ontferm
Toe breek my sterfdag aan.

En toe ek voor Gods troon verskyn
En skuldig staan en bewe
Sien ek die Groot Boek in sy hand
Die Boek van Eewge Lewe.

God blaai daar in sy Boek en sê:
"Jou naam staan hier nie in nie.
Ek wou dit eenmaal hierin skryf,
Maar kon die TYD nie vind nie.

[Uit: Dorstfontein NG Gemeente Dutoitspan Maandblad Oktober 1986]

Friday, 6 June 2025

Terugblik: Agter die opruimingsgordyn

Vandag se terugflits gaan nie jare terug in die geskiedenis nie, maar slegs 'n week terug. Alles wat met soveel sorg en beplanning vir die basaar uitgepak is, moet natuurlik opgeruim en weggepak word en dit gebeur gewoonlik so stil-stil met slegs 'n handjievol mense wat help.

Aan hierdie stille werkers agter die opruimingsgordyn,
'n opregte hartsdankie!! 

Sunday, 29 December 2024

Woorde van die bekende Izak de Villiers:

“Van tyd kan 'n mens baie dinge sê. Tyd heel wonde en laat 'n mens vergeet. Tyd vlieg verby en namate jy ouer word, lyk dit of dié al hoe vinniger gaan. Jy kan tyd nie terugkry nie, want wat verby is, is verby. En jy kan jou tyd verspeel, of só geïnteresseerd raak in iets dat jy nie agterkom dat die tyd verbygaan nie. Verliefdes kom tyd selde agter.

“Die Prediker het 'n halwe hoofstuk geskryf oor die feit dat alles 'n bepaalde tyd het: om te huil en te lag, om te plant en uit te roei, om te lewe en te sterwe, om lief te hê en te verlaat (vgl Pred 3). Ja, en die Prediker was nie 'n baie vrolike man nie. 'n Mens verkies die optimisme van Longfellow:

“Lives of great men all remind us
we can make our lives sublime
and, departing, leave behind us
footprints in the sands of time
(uit: A Psalm of Life).

“Ons hoop ons kan 'n voetspoor in die sand van die tyd agterlaat, dalk vir iemand om te volg. Totius het gesê dat wanneer hy die grens van die ewigheid oorsteek, hy die voetspoortjies van sy heengegane kinders voor hom sal sien om hom huis toe te lei. Dis alles mooi beelde, maar Dawid s'n is die mooiste: 'My tye is in u hand ...' (Ps 31:16; 53-vertaling).

“Dis of 'n mens in jou verbeelding 'n groot hand sien, of liewer twee hande saam gehou sodat dit 'n bakkie vorm, met alles, ook my hele aardse program daarin. Daardie hande is beskermend, onderhoudend, koesterend, ewig, sterk en veilig. Wat ook al met my gebeur, gebeur binne die beskermende sfeer van daardie Goddelike hande. Dis natuurlik 'n baie menslike beeld wat Dawid vir God gebruik, maar dit druk die gevoel van God en sy totale heerskappy en liefde uit. Dis tog Dawid wat gesê het: Selfs vir my straf wil ek liewer in die hande van die Here as dié van mense val ...

“Daarmee kan ek, mens, my vereenselwig - met oorgawe en berusting.”

Uit: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers

[Kuier HIER vir interessante stukkies, brokkies en dagstukkies.]

Tuesday, 24 December 2024

Terugblik: Knagende muis het glo aandeel in Stille Nag se skepping gehad


Beroemde Kerslied verskaf vreugde in 230 tale

Feitlik geen beskaafde taal bestaan ter wêreld waarin die ou bekende Kerslied Stille Nag, Heilige Nag nie in een of ander vorm opgeneem is nie. 'n Roomse priester, pater Josef Keller, in die suide van Duitsland het weergawes van die lied in 230 tale gevind.

Die eenvoud van die lied se woorde, die diepte van die boodskap daarin opgesluit, het dit deur die jare waarskynlik dié Kerslied gemaak. Dié eenvoud kan ook deurgetrek word tot by die ontstaan van die lied.

Volgens oorlewering het selfs 'n muis 'n aandeel daaraan gehad.

Stille Nag, Heilige Nag is op 24 Desember 1818 deur 'n Oostenrykse onderwyser, Franz Xavier Gruber, gekomponeer. Die woorde is binne twee uur deur die dorpie Oberndorf se predikant Josef Mohr geskryf.

Gruber was destyds ook die plaaslike kerk se orrelis. Die dag voor Kersfees het hy en Mohr in die kerkie gestaan en gesels oor hoe hulle die Kersdiens daardie jaar sonder orrelmusiek kan hou, want daar was fout met die orrel en dit sou eers ná die feesdae herstel kon word.

Volgens oorlewering is vasgestel dat 'n muis 'n gat in die orreltjie se blaasbalk geknaag het, gevolglik kon dit nie behoorlik bespeel word nie. 

Gruber stel toe voor dat 'n Kerslied gevind word wat meerstemmig en met kitaarbegeleiding gesing kan word.

Mohr, 'n knap sanger, het saamgestem en gesê die orrelis kan die woorde oor so twee uur by hom kom haal. 

Twee uur later het Gruber die woorde gehad, dadelik huis toe gestap deur die sneeu wat kniediep gelê het en begin werk aan 'n melodie vir Stille Nag, Heilige Nag.

Om middernag het die mense van Oberndorf en die boere in die omgewing die kerkie volg gepak. Gruber en eerw Mohr het langs die orrel stelling ingeneem, eersgenoemde met sy kitaar.

Hy het begin speel en hulle het gesing. Die gemeente was gou betower deur die lied.

Toe hulle die lied die tweede keer sing, het die gemeentelede begin inval. Daarna het dit nie lank geduur voordat almal saamgesing het nie.

Die lied het algaande deur die valleie van Oostenryk versprei. Volgens musiek-geskiedskrywers is dit in 1831 deur twee susters by 'n Kersdiens in Leipzig gesing. Dit is toe genoem Volkslied uit die Zillertal of dan Volkslied uit die Zillervallei. 'n Jaar later is dit op 'n Kersprogram aangedui as 'n Tiroolse volkslied. In 1834 is dit die eerste keer gedruk en is die note formeel opgeteken.

Meester Gruber het nie geweet hoe wyd sy lied bekend sou word nie. Hy is op 7 Januarie 1863 oorlede sonder dat hy geweet het hoe sy lied die wêreld aangryp.

[Bron: Die Volksblad, Vrydag 24 Desember 1999, bl.3]

Friday, 22 November 2024

Terugblik: 2002 - Lentedagkaartjies


Lentedagboodskappies wat vir die senior burgers uitgedeel is, tydens die lentetee wat die gemeente vir hulle in die saal aangebied het.

Friday, 27 September 2024

Terugblik: Kosterspaar 1940-1966


Mnr. en mev. Wagner was 'n aktiewe en geliefde kosterspaar, wat bekend was vir hulle hulpvaardigheid, nie net in die gemeente nie, maar ook in Kimberley. Geen versoek was vir hulle moeite nie. Mev. Wagner was veral bekend vir haar groot rangskikkings vir verhoë, troues, kongresse en konferensies,
Mev. Wagner tydens gemeente
se eeufeesvieringe in 1972
asook die vlyt waarmee sy skynbaar moeiteloos onthaalfunksies kon aanbied. Met Dutoitspan se 100-jarige feesvieringe het sy met liefde die blommerangskikkings gemaak, al was sy nie meer in die gemeente nie en so gehelp om die feesuitgawes in hierdie aspek baie laag te hou. 'n Ander talent wat ver buite die grense van Kimberley bekend was, was dat sy trourokke ontwerp en gemaak het en daarmee saam sommer ook die strooimeisie en die bruid van die ma se uitrustings. Voorwaar 'n bekende, geliefde en hardwerkende paar.   

Met die afsterwe van hul enigste dogter, Poppie, en die verswakking van mnr. Johnny Wagner se gesondheid, het hulle besluit om hulle liewer op 'n rustiger Boshof te vestig. Dit het meegebring dat hulle na 'n dienstydperk van 26 jaar se getroue en uitstekende diens as diaken, ouderling, Sondagskoolonderwyser en koster die amp moes neerlê.  

Die susters van die gemeente het vir hulle 'n spoggerige afskeidsfunksie aangebied (hierdie keer het mev. Wagner aan die ontvangkant van die onthaal gestaan.) 'n Adres en 'n geskenk van 'n R100 is deur die kerkraad as blyke van waardering vir die waardevolle en getroue dienste oor só 'n lang tydperk aan hulle oorhandig.

Rokke wat deur
mev. Wagner gemaak is.
Die groot vraag op almal se lippe was wie hierdie twee besondere mense gaan opvolg.

Bron: Eeufeesalbum 1972, mondelinge oorleweringe.

Friday, 13 September 2024

Friday, 16 August 2024

Terugblik: Orreliste

Voor 1881 is daar geen bewyse van 'n musiekinstrument wat tydens die eredienste in die bokseilkerk en die kerktent gebruik is nie. Daar is wel melding gemaak van kore wat opgetree het. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat daar van voorsangers gebruik gemaak is.   
Mev. Kriel: 1881-1887 (sonder betaling die harmonium bespeel)
Mnr. Vos: 1887-1889 (bespeel die musiekinstrument vir 2 jaar gratis)
Mev. HO Stiglingh: 1889-1899 (bespeel die orrel gratis)
Mnr. Burnett
Mnr. Anderson 
Mnr. A Ellis (Hy skenk die eerste bedrag van R20 op die waarborglys vir 'n nuwe orrel en hierdie gebaar spoor heelwat van die kerkraadslede aan om ook dieselfde te doen.    
Mej. Annie Maritz (Slabbert): 1916-1922
Mev. Ricca Vercueil (Van Reenen): 1922- Junie 1929
Mejj. A Holloway en Lombaard, mevv. K Reddie en Joubert: Julie 1929-1931 (tydelik) 
Mnr. Ras: 1931-1934 
Mej. L Collard: Junie 1934-Mei 1945 
Mev. Remerta van der Westhuizen kon die orrelispos eers aan die einde van April 1947 aanvaar weens siekte. Gedurende 1946 het die volgende 4 dames tydelik ingestaan:
Mejj. Lorna Bothma en Lena Anema en mevv. Van der Merwe en Van Rensburg 
Mev. AR van der Westhuizen: April 1947-Februarie 1979
Mev. R Brand: 1979
Mnr. GA de Ronde: 1979-1982
Mnr. D du Toit: 1983-1984 en 1986-1989
Mnr. TL Holmgreen: 1984-1985
Mev. B Cohen: 1985-1986
Mev. MP Coreejes: 1990-1996
Mnr. T Blignault: 1996-2020
Mev. B le Roux: 2020-huidig 

[Klik HIER vir nog inligting, en HIER vir die geskiedenis van Dutoitspan se orrel]

Friday, 9 August 2024

Terugblik: 1975 - Dutoitspan se maandkaarte


GOD IS WERKSAAM
In die begin was God - so het u in verlede maand se maandkaart gelees. God was in die begin werksaam. Daaroor sou ons meer sê, so het ons belowe.

God het 'n plan met hierdie wêreld. 'n Heilsplan. Hy gaan volgens 'n plan te werk en bring elke klein besonderheid van sy plan ten uitvoer.

As ons 'n huis wil bou, teken ons 'n plan daarvan en laat die besonderhede skriftelik opstel sodat die bou-aannemer haarfyn kan weet hoe om die werk uit te voer.

So is dit nie met God nie. Niks hoef  Hom aan sy voorneme te herinner nie. God het van alle ewigheid af 'n bepaalde doelwit met alles wat Hy onderneem. Alles het 'n bestemming. Omdat God ewig is, was daar nie 'n bepaalde oomblik dat Hy met sy werk begin het nie. Sy groot gedagtes het nooit 'n begin gehad nie. Hulle was eenvoudig daar, volmaak soos Hy (Ps. 33:11).

God was werksaam gedurende ses skeppingsdae. Op die sewende dag het Hy gerus. Op hierdie dag was God egter nie ledig nie. Hy waak deur sy voorsieningheid ten alle tye oor sy handewerk, besonder oor die mooiste wat Hy gemaak het, die mens. Ons werk op die Sondag is om met toegespitste toewyding vir ons onsterflike siele te sorg.

God is deur sy Gees steeds werksaam in ons lewens om ons te vorm na sy beeld. Om ons gereed te maak vir die wederkoms van sy Seun. Wat 'n voorreg om soos Hy in toewyding aan God werksaam te wees.
MAART 1975 

[Skrywer: Ds. HC de Wet, predikant in Dutoitspan vanaf 1974-1985]

Friday, 19 July 2024

Terugblik: Die Dorstfontein - Maandblad van die NG Gemeente Dutoitspan


Die Dorstfontein was Dutoitspan se maandblad wat elke maand deur die diakens by hul onderskeie wyke uitgedeel is, as hulle die gemeentelede besoek het om hul maandelikse bydrae in te samel. Die A5-boekie se buiteblad was gewoonlik gekleurd (baie keer pienk) met wit blaaie in die middel wat deur van die kerkraadslede en oom Ross-hulle gevou is en dan vasgekram is, voordat dit afgetel en in die onderskeie poshokkies gesit is. Deel van die inhoud van die boekie was o.a. 'n boodskap, verslae van die voorsitters van die verenigings en al die aktiwiteite wat daardie maand plaasgevind het, asook wat voorlê. Hierdie maandblaadjie het gedurende die laat 1960's en vroeë 1970's verskyn.  

(Letsie Joubert het die inhoud op wasvelle getik, wat Schalk Pienaar op 'n Vrydagmiddag afgerol het en wat die kerkraad op 'n Sondagaand gevou het. Oom Ross het dit Maandagoggend afgetel en in die diakens se poshokkies gesit.)  

Waar kom die naam Die Dorstfontein vandaan? 

In die ou geskiedenisboeke verwys hulle o.a. na Dutoitspan en Dorstfontein. (History of South Africa since 1795 deur GM Theal).

In kort: Nadat daar besondere ryk vondste op die plaas Dorstfontein van 'n ene Van Wyk ontdek is en wel op die gedeelte bekend as Dutoitspan, het 'n groep delwers hulle na Dutoitspan gehaas. Daar aangekom, het hulle etlike boere, vriende van die plaaseienaar, Van Wyk, reeds aan die delf gevind. Eers wou Van Wyk hulle nie toelaat nie, maar toe hul nie die plek wil ontruim nie, was hy later genoodsaak om tot 'n vergelyk met hulle te kom, en so is die dry diggings by Dorstfontein geopen.   

Die geskiedenis van die plaas Dorstfontein kan teruggevoer word tot 1860. Op 22 November van daardie jaar is dit deur die owerheid van die Oranje-Vrystaat toegeken aan  AP du Toit - die man aan wie Dutoitspan waarskynlik sy naam te danke het. 'n Jaar of wat daarna het Du Toit dit verkoop aan CDC Geyer, wat op 12 Mei 1862 die geregistreerde eienaar geword het. Oplaas het Geyer dit weer aan AJ van Wyk verkoop, in wie se naam Dorstfontein op 6 Januarie 1869  geregistreer is. Van Wyk self het hierdie historiese diamantplaas op 24 April 1871 aan London Exploration Company verkoop. (Griqualand West Land Court p.134)

Dorstfontein het natuurlik binne die Oranje-Vrystaat geval en wel in die distrik Jacobsdal. Streng genome het Dutoitspan onder die gemeente Boshof en die aangrensende Bultfontein onder die van Jacobsdal geval. (Acta Synodi OVS. p.120) 

Ten einde die snel-groeiende delwersbevolking van Pniel, Dorstfontein en omstreke onder behoorlike burgerlike bestuur te plaas, het die owerheid van die OVS op 22 Februarie 1871 die sendingstasie Pniel afgesny van die distrik Jacobsdal en tot 'n afsonderlike distrik geproklameer, waartoe ook die delwerye van Dutoitspan, Bultfontein en die latere Vooruitsigt (Kimberley) behoort het. Gevolglik het die landdros Truter van Pniel verskuif na Dutoitspan, waar nou ook 'n poskantoor en polisiestasie geopen is.

So is Dutoitspan, tot sover haas onbekend, ineens op die kaart van Suid-Afrika, ja van die beskaafde wêreld, geplaas.

Mej. Liz van Wyk (of tannie Lizzie, soos sy algemeen bekend gestaan het) was die broerskind van AJ van Wyk - die eienaar van Dorstfontein. 'n Baie aktiewe en geliefde gemeentelid wat orals betrokke was. Sy was 'n Sondagskoolonderwyseres van 1919-1969. 

Tydens die eeufeesviering 1972 van die gemeente was sy nog gesond en aan die gang. Die vroegste foto's van haar in die eeufeesboek is in ds. WFP Marais (1896-1912) se tyd geneem waar die Sondagskool 'n piekniek op Alexanderfontein gaan hou het. 

[Bron: Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente Beaconsfield - Kimberley 1872-1972: HG Gouws, redakteur]
                   
Heerlike en interessante inligting beskikbaar by Kimberley City Info HIER en ook Today in Kimberley's History HIER.

Friday, 5 July 2024

Terugblik: Die beginjare van Ons Huis - die tehuis vir bejaardes

Die eerste gebou wat as ouetehuis
(Ons Huis) gebruik is. Hierdie gebou was
regoor die kerk waar die meenthuise tans is.
Voor dit as ouetehuis gebruik is, was dit
'n losieshuis. 
Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

Nieteenstaande groot probleme waarvan finansies die vernaamste was, kon daar in 1943 oorgegaan word tot die ingebruikneming van 'n gebou wat sou dien as 'n tehuis vir bejaardes. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Rosestraat en Dyerplek en het die mooi naam van "Ons Huis" gekry.

'n Bestuur van Beheer waarin die NG Gemeente Dutoitspan al die jare verteenwoordiging het, is in die lewe geroep met die doel om "Ons Huis" se sake te behartig en alle verantwoordelikheid in verband met die tehuis te dra.

Ons bring hulde aan die vroue wie se name hieronder verskyn. Hulle was die presidentes van die tak, van stigting tot en met 1972. Hulle is: mevv. M Powell, H van Reenen, LA Hough, F Rousseau, D de Waal, E Hugo en J Badenhorst.

In 1957 kon die bejaardes vanuit die ou gebou geneem word na 'n nuwe een, nl. die bestaande "Ons Huis" in Ariadnelaan. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene. Daar was tóé 30 inwoners, maar die waglys het steeds gegroei, sodat daar vroeg in die sestigerjare alweer vertoë gerig moes word om verdere uitbreidings. Só dringend was die behoefte dat dit selfs deur die betrokke staatsdepartemente onderskryf is en in 1966 is die uitbreidings voltooi, sodat daar 48 inwoners gehuisves kon word.

Uitbreidings vir 'n aparte vleuel vir verswakte bejaardes, is goedgekeur. Hier word inwoners op 'n doeltreffende wyse versorg.

Langs hierdie weg bring die bestuur van "Ons Huis" innige dank en waardering aan die verskillende NG Gemeentes in Kimberley en ander donateurs in die stad deur wie se finansiële steun die tehuis se laste ligter gemaak word.

(Inligting uit Eeufees-album van die NG Gemeente Dutoitspan 1972: geskryf deur mev. MJE Abel)

Klik HIER om die storie oor matrone Joey Serfontein se resepteboek te lees. Resepte wat in die kombuis van die ouetehuis gemaak is in haar eie handskrif. Klik HIER om die koeksisterresep in haar eie handskrif te lees. Die kunsbotter waarna daar in die resep verwys word, is margarine. 

Die ouetehuis het ook op daardie stadium 'n hond gehad met die naam van Robbie. Robbie is tot in die afgrond bederf deur die inwoners en het homself nie as 'n hond beskou nie. ('n Foto van Robbie op Ons Huis se blog.)
 
Klik HIER vir foto's van matrone Johanna (Joey) Serfontein, een van die eerste matrones van Ons Huis! Daar is 'n foto waar sy met ruikers blomme in die eerste tehuis vir bejaardes staan, dié een op die hoek van Rosestraat en Dyerplek. Die datum agterop die foto is 18 Desember 1947.