Sunday, 16 September 2018

Geskiedenis: Die orrel

Die eerste musiekinstrument waarvan daar melding gemaak word in die argiewe, is die harmonium wat in 1881 gebruik is met die inhuldiging van ds. en mev. Kriel. Die aanname word gemaak dat met die dienste wat onder die bokseile en in die kerktent gehou is, is daar van voorsangers gebruik gemaak. Met die verwelkoming van proponent Kuhn op 13 Mei 1877, het die Sondagskoolkinders,  o.l.v. mej. Naudé die proponent toegesing.

Met die ontvangs van ds. Kriel op 21 Julie 1881 was daar 'n kerkkoor wat die welkomslied gesing het. Onmiddellik na die inwyding van die nuwe kerkgebou in Desember 1881, tree mev. Kriel as orreliste op wat vir die volgende ses jaar, sonder betaling, die sang van die gemeente op die harmonium lei.

Nadat haar opvolger, mnr. Vos, byna twee jaar die musiekinstrument gratis bespeel het en sy versoek om 'n vergoeding van 5 pond (R10,00) per maand deur die kerkraad geweier is, moes daar vir 'n geruime tyd staatgemaak word op die dienste van vrywilligers.

Intussen het die harmonium se toestand so versleg, dat ds. Perold die kerkraad beweeg het om 'n musiekinstrument aan te koop vir 45 pond (R90,00) en word die bestelling in Januarie 1895 êrens in een van die lande in Europa geplaas. Aan koorsang is toe alreeds baie tyd gewy, sodat met die afskeid van ds. Perold 'n hele aantal koorstukke gelewer is.

In ds. Marais se tyd lees ons van baie aangename en opwindende programme van koorsang onder die bekwame leiding van mev. HO Stiglingh wat vir baie jare die orrel gratis bespeel het. Haar vertrek na Stellenbosch in 1899 was 'n geweldige verlies vir die gemeente. Tydens 'n groot jaarlikse kinderfees op 10 Desember 1911 word daar melding gemaak van die besondere pragtige koorsang. Hiervoor was mnr. Burnett, 'n onderwyser van die plaaslike laerskool, verantwoordelik.

Terwyl daar hierna eers 'n mnr, Anderson die orreltjie bespeel het en daarna 'n mnr. A Ellis wat as 'n baie bekwame man beskrywe is, besluit die kerkraad op aanbeveling van ds. Rabie om 'n nuwe en 'n groter traporreltjie aan te koop. Hy stort dan ook die eerste bydrae van 10 pond (R20,00), wat hy as geskenk van die kerkraad ontvang het, op 'n waarborglys vir die nuwe orrel. 'n Hele aantal van die kerkraadslede doen toe dieselfde. (Ds. Rabie is nie die enigste predikant wat dit gedoen het nie - later meer hiervan.)

Om staanplek vir die nuwe orreltjie en genoeg ruimte vir die koorlede te voorsien, moes die galery bokant die ingang van die sinkkerkie vergroot word. Die onkoste hiervan het meer as 75 pond (R150,00) beloop. Hierdie onkoste is deur die koorlede by wyse van lyste ingesamel.

In 1916, in ds. Kotzé se tyd, is die nuwe orreltjie in gebruik geneem.

Mej. Annie Maritz (Slabbert) was destyds die orreliste en onder die koorlede vind ons die name van Hennie en Lettie Venter, asook mejj. Ricca van Reenen en Maggie Shingler (Du Toit). Laasgenoemde is die moeder van Nellie du Toit, die sangeres van Pretoria wat vanjaar op 29 Julie oorlede is.

Nadat die gemeente byna 45 jaar lank gebruik gemaak het van verskillende traporrels, besluit die kerkraad op 1 September 1917 om 'n pyporrel teen ongeveer 450 pond (R900,00) van die firma Price en Zonen van Kaapstad te bestel. Na 'n gesloer van 'n paar jaar, het die goeie nuus uiteindelik op 10 April 1920 gekom dat die firma hoop om die orrel spoedig af te lewer. 

Dit het dan ook so gebeur en die nuwe orrel is op 'n platform voor in die kerk agter 'n veranderde preekstoel ingebou. Aan die regterkant van die orrel is sitplekke vir die kerkraad en aan die linkerkant vir die koorlede aangebring. Die instrument moes met die hand gepomp word.

Die inwyding van die eerste pyporrel is in Julie 1920 deur ds. De Villiers waargeneem. By die geleentheid was die baie bekende ds. ML de Villiers, die leraar se broer, ook teenwoordig. Mev. A Slabbert, die orreliste, het met haar kore vir gepaste en pragtige koorsang gesorg. Onder die koorlede vind ons die name van M Slabber, Hennie en Lettie Venter, Frans en Vic Joubert, Ampie du Toit, Okkie Immelman, Apie Raats (later dominee - meer staaltjies oor hom later), Mossie Carstens (De Kock0, Ricca en Joey van Reenen, Ralie Potgieter en Ellie Pretorius.

Kort hierna, met die vertrek van mev. A Slabbert na Newton, Kimberley, is mej. Ricca van Reenen in haar plek aangestel en sou sy nog baie jare die goeie werk van haar voorganger voortsit. Haar dienste is aan die einde van Junie 1929 beëindig nadat sy met mnr. Vercueil in die huwelik getree en van Dutoitspan afskeid geneem het.

Gedurende die volgende vyf jaar het daar heelwat persone vir kort periodes as orreliste opgetree. Behalwe mejj. A Holloway en Lombaard asook mevv. K Reddie en Joubert, het mnr. Ras die orrel drie jaar lank bespeel voordat mej. L Collard in Junie 1934 aangestel is.

In 1940 is die orreltjie geëlektrifiseer en na die nuwe kerk verskuif. Die ou draad-aksie is egter behou sodat die aanslag steeds baie swaar was. mej. Collard het daarna nog tot Mei 1945 die gemeente op pragtige spel en mooi koorsang getrakteer.

Vir die daaropvolgende jaar het mejj. Lorna Bothma en Lena Anema, asook mevv. Van der Merwe en Van Rensburg, tydelik die orrel bespeel, totdat mev. Remerta (AR) van der Westhuizen weens siekte, eers die betrekking aan die einde van April 1947 kon aanvaar.

Dat die kerkraad baie gelukkig was om mev. Van der Westhuizen se dienste te bekom, het duidelik die volgende maand met die viering van die 75-jarige bestaan van die gemeenste geblyk.

Met die gemeente se eeufeesvieringe in 1972, het sy vir meer as 25 jaar lank getoon dat sy nie alleen een van die knapste orrelistes in die land is nie, maar dat sy ook die gawe besit om kore af te rig soos min haar dit kan nadoen. Geen wonder dus dat haar kerkkoor waar dit ook al optree, altyd in die oog val nie. Op die talle kunswedstryde waaraan die koor in die verlede meegeding het, het dit, sonder uitsondering, altyd met die louere weggeloop.

Gedurende die tyd het sy o.a. die kantate "Van Krip na Kruis, Rut, 'n jubelende Danksegging en Vors van Glorie," met groot sukses opgevoer.

In Maart 1956 is die herboude en vergrote orrel waarvan die koste 3000 pond (R6000) beloop het, ingewy. Die 457 pype van die ou orrel is tot 'n totaal van 1 209 pype aangevul. By dié geleentheid het die orreliste, mev. Van der Westhuizen, met haar koor vir 'n pragtige kantate-uitvoering en musiekprogram gesorg.

Baie van die ou staatmakers wat by daardie geleentheid, asook by die aanbieding van die kantate, "Die Vors van Glorie" in November 1957 in die vergrote kerkkoor opgetree het, lewe nie meer om in die kerk se eeufeeskoor te sing nie.

Veral word daar gedink aan mejj. S van Heerden (Diskobolos), Kitty van Niekerk, mevv. Elize Kruger, Lettie Venter, A Nothnagel, LA Powell, asook oom Pieter Oberholzer wat nie die eeufees in 1972 saam met ons kon vier nie.

Andere soos Danie en Lorna Brink, Hannie Albertyn, J Wagner, F Booysen, F Rousseau, T Muller, Mattie Jacobs, Minnie Greeff. Hennie Venter, T van der Nest, H Labuschagne, F Scheepers en G Pretorius het sederdien van Kimberley weggetrek of is nie meer in die gemeente woonagtig nie.

Onder die 1972-koorlede is daar 'n hele aantal wat na baie jare van gereelde en getroue diens nog steeds hul dienste tot beskikking en ter verheerliking van die Koning van die Kerk stel.
[Uit: Die eeufeesalbum 1872 - 1972]

Gaan lees die res van die orrelgeskiedenis hier Die gebeure vanaf 1954 word hier vertel.