Sunday 9 September 2018

Die kerksaal (1) ...

Die gemeente Dutoitspan se sinkkerkie is op
1 Desember 1881 ingewy. Dit het 81 jaar diens in die
gemeente gedoen: van 1 Desember 1881 tot Julie 1940
as kerk en van 1940 as kerksaal, waarna dit in 1962 
gesloop is. (Foto)
'n Interessante brokkie inligting wat beslis verlore sal gaan, is die bou van die kerksaal. Soos reeds gemeld is die kerksaal in ds. Willem Steenkamp se tyd gebou. Die "nuwe" kerksaal is gebou op die plek waar die sink kerksaal gestaan het. Die toename in getalle van die gemeente en die gebrek aan ruimte, het die behoefte aan 'n nuwe kerksaal onderstreep. Die ou geskiedkundige kerksaaltjie was voorheen die sinkkerk. Die gebou het dus op daardie stadium reeds 58 jaar diens gedoen (vanaf 1881) en het nie meer aan al die behoeftes voldoen nie.  Die boukontrakteur was mnr. SJ Burger wat die saal gebou het. Hy het die sink kerksaal afgebreek en op sy plaas gaan herbou.

Om fondse in te samel, was daar wykbasare in die ou stadsaal van Beaconsfield gehou. (Dié ongelooflike mooi en geskiedkundige gebou is ook afgebreek ter wille van vooruitgang en vandag pryk die Caltex-garge in die plek daarvan. Ek plaas 'n foto van die ou stadsaal hier, wat ek op die internet gaan "leen" het.)

25 Julie 1960 is daar besluit om die wyke in die gemeente in groepe van vyf in te deel om basare en funksies te reël vir die Saalboufonds, wat tot op daardie stadium nie na wense gegroei het nie. Hierdie pogings deur die hardwerkende wykslidmate het die fonds so pragtig laat groei, dat die bedrag van R5 578,00 reeds in Februarie 1962 geïn is.

Toe is daar besluit om aan vrywillige susters elkeen R2,00 beskikbaar te stel met die uitsluitlike doel om vir die Saalboufonds te woeker. Ek kan goed onthou hoe ywerig Jane en mev. Anna Maritz van Thaliastraat gewerk het. Geen moeite is deur die dames ontsien nie en aan die einde van 1962 (10 maande later) het die bedrag reeds die R10 000-kerf bereik. Ingesluit by hierdie bedrag was ook R200,00 van mnr. H Oppenheimer, R250,00 vir die ou sink kerksaal wat gesloop is en R20,00 wat vir die ou munte gekry is, wat in die ou saal se hoeksteen gevind is. 

Tussen die kerk en die ou kerksaal was daar 'n sementdam waaruit die tuine van die kerk natgelei is. Dit moes, saam met die hoë bome en bestaande motorhuise, gesloop word om die terrein gereed te kry vir die bouery wat in Augustus in aanvang sou neem.