Showing posts with label Verhaal. Show all posts
Showing posts with label Verhaal. Show all posts

Tuesday, 14 July 2026

Die verhaal van die flukse klein miertjie

Elke oggend het klein Miertjie vroeg by die werk opgedaag en dadelik begin werk. Sy was produktief, georganiseerd en werklik gelukkig met haar werk. Haar werk was haar passie.

Haar baas, Leeu, het iets ongewoons opgemerk: Die mier het uitstekende werk gedoen sonder dat iemand toesig gehou het. Getrou, vlytig en hardwerkend - dis alles kenmerke wat hy aan die miertjie kon toeskryf.

“As sy soveel op haar eie kan produseer,” het Leeu gedink, “stel jou voor hoeveel meer sy met behoorlike bestuur kan produseer.”

Toe besluit Leeu om vir Kakkerlak te huur, wat jare se ondervinding in toesig gehad het en bekend was vir die skep van uitstekende verslae.

Kakkerlak se eerste besluit was om 'n tydopsporingstelsel vir Mier in te stel. Toe besef Kakkerlak dat hy 'n assistent sal benodig om te help met die voorbereiding van al die verslae. Hy huur toe vir Spinnekop om die lêers te bestuur, oproepe te monitor en die dokumentasie te organiseer.

Leeu was verheug oor al Kakkerlak se verslae. Hy het gevra dat Kakkerlak weekliks produksiekaarte, tendensanalises, die prestasiebord en weeklikse opsommings sal aanbied by die leierskapvergaderings wat spesifiek geskep is om Mier se produktiwiteit te bespreek.

Om dit alles te ondersteun, het Kakkerlak 'n nuwe rekenaar, 'n laserdrukker en projekbestuursagteware gekry om die nuwe IT-ondersteuningslessenaar te bestuur.

Intussen het Mier, wat eens vrolik en produktief was, uitgeput geraak deur al die papierwerk, vergaderings, inskrywings, vorms en verslae wat nou die meeste van haar dag in beslag geneem het. Administrasie het nou die hoofaktiwiteit van haar werkdag geword.

Gou het Leeu besluit dat dit tyd was om 'n nuwe leiersposisie te skep vir die departement waar Mier gewerk het. Hy het 'n kriek as departementsbestuurder aangestel.

Kriek se eerste besluit was om 'n nuwe kantoormat en 'n ergonomiese stoel te bestel. Toe het hy 'n skootrekenaar, 'n groter lessenaar en 'n uitvoerende assistent versoek saam met wie hy by sy vorige maatskappy gewerk het. Saam het hulle begin om 'n strategiese plan op te stel om werkvloei te optimaliseer, doeltreffendheid te verbeter, doelwitte te belyn, die begroting te bestuur en om aanspreeklikheid in Mier se departement te verhoog.

Teen hierdie punt het Mier nie meer haar werk geniet nie. Sy was gefrustreerd, moeg en het elke dag meer mismoedig geword. Sy het nie meer tyd gehad om haar werk tot die beste van haar vermoë te doen nie, want admin en liassering het die grootste deel van haar dag in beslag geneem. 

Kriek het toe vir Leeu oortuig dat die maatskappy 'n volledige werksplekklimaatassessering nodig het. Nadat die departement se prestasie hersien is, het Leeu opgemerk dat Mier se area nie meer soveel produseer as voorheen nie.

So het hy vir Uil, 'n bekende konsultant, aangestel om 'n oudit uit te voer en oplossings aan te beveel.

Uil het drie maande in die kantoor deurgebring, almal ondervra, die prosesse ontleed, die data hersien en uiteindelik 'n massiewe verslag in verskeie volumes gelewer. Sy gevolgtrekking was eenvoudig:
“Daar is te veel werknemers in hierdie departement.”

Raai vir wie het Leeu eerste afgedank?

Vir Mier, natuurlik. Want volgens die finale verslag het sy “’n gebrek aan motivering” en “’n patroon van negatiewe werkplekgedrag” getoon.

[Dankie, Ann, vir die aanstuur]

Tuesday, 23 June 2026

'n Verhaal wat 'n mens aan die dink sit

Op 'n dag kom 'n vrou uit haar huis en kry 3 ou mans wat reg voor haar erf sit. 

Sy dink toe by haarself hulle moes seker ver gereis het en is seker doodhonger en moeg. Sy vra toe of hulle nie dalk wil inkom vir ete nie. Die eerste ou man vra toe: "Mevrou, is jou gesin tuis?"
Sy sê toe hulle sal nou enige tyd hier wees, waarop hy antwoord. Dan sal ons later inkom. 

Bietjie later toe die pa en sy dogter opdaag, gaan sy weer uit en nooi sy weer die ou mans in vir ete, maar dié keer sê die een ou man vir haar: "My naam is Rykdom, my ander 2 vriende is Geluk en Liefde, maar net een van ons kan inkom en by julle kom kuier. So die keuse lê by julle. Wie verkies julle moet saam julle kom maaltyd hou?"

Die vrou is toe weer in die huis in en vertel haar man van die snaakse gebeure buite. Die man sê toe vinnig, nooi vir Rykdom in, ons kan nogal doen met 'n miljoen, kyk net hoe lyk ons huis." Die vrou sê: "Ek weet, maar ek verkies steeds Geluk, dit is hoog tyd dat ons ook 'n bietjie geluk in ons lewe moet hê." 

Die dogtertjie wat ook aan tafel sit, skree toe: "Ek kies Liefde, Mamma, asb. laat Liefde inkom. Die ma en pa wat nou altwee na haar kyk, terwyl haar ogies helder blink van opgewondenheid, stem toe in. "Goed, my kind, laat dit dan Liefde wees."

Die vrou hardloop toe weer na buite en vra wie van die mans is nou weer Liefde en kan Liefde asb. inkom. Toe staan al drie mans glimlaggend op en begin na die deur toe loop. Die vrou sê: "Ek verstaan nie; U het gesê net een kan inkom." Toe antwoord Rykdom: "Mevrou, waneer jy Liefde kies, dan volg Rykdom en Geluk ook, want waar Liefde gaan, gaan ons!!"

Hierdie storie is net om julle te herinner hoe belangrik Liefde is. God is Liefde en wie Hom innooi, ervaar al die seëninge wat Hy aan jou wil skenk, want sonder Sy Liefde, is daar geen GELUK en beteken RYKDOM net mooi niks.

[Dankie, Rosetta]

Thursday, 2 April 2026

Dink hieroor: Hoe weet jy iemand het vir God gekies?

Daar is die welbekende verhaal van 'n baie berugte rower wat niks en niemand ontsien het nie. Sy landgenote se grootste vrees was dat hulle paaie met syne sou kruis. 
  
Eendag het die berugte rower sleg tweede in 'n skermutseling gekom en is vir dood langs die pad gelos. Iemand het dié man met ernstige beserings na 'n nabygeleë sendinghospitaal geneem. Na weke van uitstekende behandeling en liefdevolle sorg, het die rower van sy beserings herstel en is hy ontslaan.  

Die rower het besef dat Christene sy lewe gered het en hom met liefde versorg het, ten spyte van sy lewenswyse. Hy onderneem om nooit weer ’n Christen te beroof nie. Dit is sy manier om sy dankbaarheid teenoor hulle te bewys. Die woord het egter vinnig versprei en elke keer as hy iemand wou beroof, het die persoon dadelik gesê: “Ek is ’n Christen!” 

Sy dankbaarheidsgebaar word baie vinnig 'n hindernis in sy beroep en hy besef dat hy 'n manier moet kry om Christene en nie-Christene van mekaar te onderskei. 

Die rower gaan toe terug na die sendinghospitaal en vra vir een van die verpleegsters hoe 'n mens vinnig kan toets of iemand ’n Christen is.

Die verpleegster se raad: "Christene behoort die 10 gebooie en die Onse Vader te ken."  

Hierdie toets het soos musiek in sy ore geklink. Uiteindelik 'n manier om die skape van die bokke te skei. Van toe af het hy sy potensiële slagoffers gevra om die 10 gebooie en die Onse Vader-gebed op te sê! As hulle dit nie kon regkry nie, het hy hulle beroof. Sy probleem voorlopig opgelos.

Die rowertoets: As die rower jou vandag iewers sou raakloop, sou hy jou laat gaan het of sou hy jou beroof het? 

Onthou: Die rowertoets is nie 'n toets of iemand vir God gekies het nie. 'n Gelowige herken jy aan sy leefwyse! Hy leef dankbaar, al gaan dit nie goed nie.

[1 Tessalonisense 5:18, Job 2:10]

Tuesday, 10 June 2025

Vertrou op Hom

Wat is die eerste beeld wat by jou opkom as jy aan gebraaide hoender dink? Vir die meeste mense is dit 'n foto van 'n bejaarde, bebrilde heer, in 'n wit pak en swart strikdas.

Kolonel Harland Sanders, is 'n man wie se lewe so kleurryk is soos sy bekende resep van 11 kruie en speserye. Hoe het Kolonel Sanders 'n ryk gebou wat vandag nog die wêreld van kitskos regeer?

Die geboorte van KFC het sy wortels in 'n Shell-vulstasie in Corbin, Kentucky, wat Kolonel Sanders in die vroeë 1930's geopen het. Depressie en WO11 was maar van die terugslae waarmee hierdie man moes rekening hou. Sanders was vyf jaar oud toe sy pa oorlede is en hy noodgedwonge moes leer kook om vir sy broers en susters te sorg. 'n Vaardigheid wat 'n passie geword het. As 12-jarige verlaat hy die skool om voltyds as plaasarbeider te werk. 

Hierdie moeilike begin in die lewe, het Sanders se karakter gevorm en hom voorberei om die stigter van KFC te word.

Die KFC-pad het baie hobbels en slaggate gehad en op die ouderdom van 66 het 'n byna bankrot Sanders deur die land gereis op soek na restaurante wat bereid was om sy resep te franchise. Hy het nie moed opgegee nie. Nee! Hy het van dorpie na dorpie en later van land tot land gereis om sy resep vir Kentucky fried chicken te verkoop. ʼn Paar jaar later was KFC die grootste kitskoswinkel in die wêreld. Hy het God vertrou en opgestaan en sy resepte gaan verkoop! 

Sanders verskyn in talle advertensies vir KFC, wat die gesig van die handelsmerk word. Hy het tyd en hulpbronne aan liefdadigheidsorganisasies wat kerke, hospitale, Boy Scouts en die Heilsleër ondersteun, gewy. In 'n merkwaardige gebaar van vrygewigheid het hy 78 buitelandse weeskinders aangeneem.

[Gaan lees gerus van sy moeilike kinderlewe, gebrek aan skoolopvoeding, verskillende soorte werke wat hy moes doen om den brode, maar ook hoe hy geglo het aan sy resep en nie geskroom het om klein treetjies te gee om sy droom te verwesenlik nie.] 

God verkies om dinge saam met ons te doen. As ons so saam met God die pad stap, gebeur daar dinge wat ons nie gedink het moontlik is nie. Omdat Hy dáár is, kán ons. Hy gee ons die moed om op te staan en te doen wat ons nie gedink het ons kan nie. Die feit dat ons op Hom kan vertrou, inspireer ons om ons vleuels wyer te sprei as wat ons alleen sou waag om te doen.

Onthou, omdat God dáár is, kán jy! Maak net seker dat waar jy wil gaan, God sal wil saamgaan.

[Verwerk]

Thursday, 22 August 2024

Verhaal: Goeie buurmanskap

‘n Suksesvolle graanboer in Amerika het jaar na jaar met die trofee by die landbouskou weggeloop. Kom ons noem hom Boer Jan. Sy medeboere het geglo dat dit sy bankbalans was wat hom so suksesvol gemaak het. Hulle was te bang om hom vir sy geheime plantresep uit te vra, want daar was maar, soos in enige bedryf, ‘n bietjie jaloesie onder die manne.

Maar die TV-joernalis het hom prontuit gevra waaraan hy sy sukses van die afgelope drie jaar toeskryf. Sonder om te aarsel het die boer geantwoord: “Natuurlik belê ek in die heel beste saad, want dis die begin van ‘n goeie oes. Maar dis nie waar my geheim lê nie.”

Die spanning het opgebou. Die meeste boere het ook goeie saad aangeplant, maar nie een het Boer Jan se kwaliteit graan geoes nie.

“My geheim lê in my bure,” het Boer Jan geantwoord, “Ek maak jaar vir jaar seker dat al my bure presies dieselfde saad gebruik as ek. Dit doen ek deur vir hulle die saad te gee.”

“Maar dit moet jou ‘n fortuin kos!” het die joernalis uitgeroep. En wou weet waarom hy die onekonomiese strategie volg.

“Dis doodeenvoudig” was Boer Jan se rustige antwoord. “Die wind waai die stuifmeel na ons almal toe, en as my bure met swak saad boer, sal dit my oes beslis ook raak. Vandat ek my saad met hulle almal begin deel het, het dit die gehalte van die graan in ons omgewing op standaard gekry en ons pluk almal saam die vrugte daarvan. Dit was ook sommer goed vir goeie buurmanskap. Daar is geen kompetisie tussen ons nie, ons vat hande en ons maak almal saam seker dat daar geen minderwaardige graan in en om ons plase verbou word nie.”

Dis 'n mondvol en 'n hartvol om te verteer.

[Dankie, Estelle, vir die aanstuur van hierdie verhaal. Besoek gerus Lynette se webwerf HIER, lees meer omtrent die kursusse, kry inspirasie of koop sommer 'n boek aanlyn.]  

Tuesday, 30 July 2024

Een storie - twee perspektiewe

Vanoggend ontvang ek die storie van hoe 'n mens se gesindheid jou oordeel kan beïnvloed en ook jou houding teenoor storms en probleme in die lewe.

Dankie aan 'n ene Hannes wat die verhaal ingestuur het - dit het op 17 Februarie 2022 op hierdie blog verskyn, maar ons plaas dit weer vir diegene wat nie bekend is met die verhaal nie.

TEKS: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy.” Spr 23: 7.

‘n Bekende skrywer het by sy lessenaar gaan sit, sy pen opgetel en begin skrywe:

“Verlede jaar ... Ek het ‘n galblaasoperasie gehad om galstene te verwyder. Ek was lank in die bed ...
Dieselfde jaar het ek aftree-ouderdom bereik en ek moes die maatskappy waarvoor ek so lief was, en 35 jaar lank voor gewerk het, verlaat ...
Daardie selfde jaar is my moeder deur die dood van my af weggeskeur ...
En toe ... steeds dieselfde jaar, druip my seun sy finale mediese eksamen as gevolg van ‘n motor-ongeluk. Die herstelkkoste aan die motor was net die hoogtepunt van ‘n baie slegte jaar ...”
En toe aan die einde van sy klaagtoon, skryf hy: “Wat ‘n slegte jaar!”

Sy vrou stap die studeerkamer binne waar haar man bedroef en teneergedruk sit. Oor sy skouer lees sy stadig haar man se skrywe. Dan draai sy saggies om en verlaat die kamer. Vyftien minute later kom sy terug en plaas ‘n stukkie papier voor haar man neer met die volgende daarop geskrywe:

“Verlede jaar ... het my man uiteindelik dit reggekry om van sy galstene, wat hom vir jare soveel maagpyn veroorsaak het, ontslae te raak ...
Dieselfde jaar ... Ek is dankbaar dat my man in goeie gesondheid en gelukkig kon aftree. 
Ek dank die Here dat die Here hom die geleentheid gebied het om vir 35 jaar te kon werk en verdien om sy gesin te onderhou. Nou kan my man meer tyd aan sy skryfwerk, wat altyd sy stokperdjie was, spandeer.
In dieselfde jaar het my 95-jarige ou skoonmoeder sonder pyn stil heengegaan.
En steeds dieselfde jaar ... God het my seun gespaar na ‘n ernstige motorongeluk ... Ons kar was sleg deur die ongeluk beskadig, maar my seun het sonder enige nagevolge oorleef.”
In haar laaste sin skryf sy: “ Verlede jaar ... was ‘n jaar vol buitegewone seëninge van God ... en ons het dit vol verwondering en dankbaarheid beleef...”

Uit watter perspektief sien jy die lewe? Uit selfbejammering of uit dankbaarheid?

Abraham Lincoln het gesê: “ Ons kan kla omdat roosbosse dorings het, of ons verheug dat doringbosse rose het.”

‘n Gospel-liedjie lui: “Count your blessings, name them one by one ... and it will surprise you what the Lord has done.”

Dankbaarheid is ‘n ingesteldheid, ‘n lewenstyl. Sien die klein dingetjies raak en moenie dit as vanselfsprekend aanneem nie.

Amore Bekker, die bekende radio-omroepster skryf:
“Klein, alledaagse vreugdetjies soos die son op jou gesig, die wind deur jou hare, ’n teksvers wat direk met jou praat, ’n vinkie se borrelliedjie in die tuin, jou man se goeiemôre-soen, jou kleinkinders se arms om jou nek, die reuk van jasmyn, ’n louwarm brood, die eerste koppie koffie soggens ... Ek sal sommer op die oomblik my hele boek kan vol skryf!

Selfs wanneer dit vir jou voel asof jy nie ’n enkele rede kan opnoem waarom jy vandag dankbaar behoort te wees nie, kan jy dankbaar wees vir Jesus. Dit is immers die boodskap van God se liefde vir jou wat Hy op aarde kom aflewer het, wat inhoud gee aan ons dankies. Ons het so baie - en elkeen van daardie dinge wat ons het, het ons van God ontvang. Kom ons onthou elke oomblik om vir Hom dankie te sê, want dankbare mense vind dit baie moeilik om moedeloos te bly.”

Kom bid saam: Hemelse Vader, help ons om ons oë van onsself af weg te draai en in dankbaarheid te kyk na al die mooi en goeie dinge waarmee U ons elke dag seën. Amen.    

Wednesday, 3 January 2024

'n Groep gewapende mans

Daar is 'n verhaal wat die rondte doen dat êrens in Amerika het 'n groep gewapende mans een aand met hulle masjiengewere in ‘n propvol kerk ingebars. Hulle het aangedring het dat al die ware Christene wat nie bang is om te sterf nie, voor die preekstoel moet vergader. Die res kan maar huis toe gaan.

Toe die wat huis toe is, weg is, sit die manne hulle gewere neer en haal hulle maskers af.

Nou kan daar kerk gehou word, want net die ware Christene is oor!

Thursday, 17 February 2022

Een Storie ... Twee Perspektiewe

TEKS: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy.” Spr 23: 7.

‘n Bekende skrywer het by sy lessenaar gaan sit, sy pen opgetel en begin skrywe:

“Verlede jaar ... Ek het ‘n galblaasoperasie gehad om galstene te verwyder. Ek was lank in die bed ...
Dieselfde jaar het ek aftree-ouderdom bereik en ek moes die maatskappy waarvoor ek so lief was, en 35 jaar lank voor gewerk het, verlaat ...
Daardie selfde jaar is my moeder deur die dood van my af weggeskeur ...
En toe ... steeds dieselfde jaar, druip my seun sy finale mediese eksamen as gevolg van ‘n motor-ongeluk. Die herstelkkoste aan die motor was net die hoogtepunt van ‘n baie slegte jaar ...”
En toe aan die einde van sy klaagtoon, skryf hy: “Wat ‘n slegte jaar!”

Sy vrou stap die studeerkamer binne waar haar man bedroef en teneergedruk sit. Oor sy skouer lees sy stadig haar man se skrywe. Dan draai sy saggies om en verlaat die kamer. Vyftien minute later kom sy terug en plaas ‘n stukkie papier voor haar man neer met die volgende daarop geskrywe:

“Verlede jaar ... het my man uiteindelik dit reggekry om van sy galstene, wat hom vir jare soveel maagpyn veroorsaak het, ontslae te raak ...
Dieselfde jaar ... Ek is dankbaar dat my man in goeie gesondheid en gelukkig kon aftree. 
Ek dank die Here dat die Here hom die geleentheid gebied het om vir 35 jaar te kon werk en verdien om sy gesin te onderhou. Nou kan my man meer tyd aan sy skryfwerk, wat altyd sy stokperdjie was, spandeer.
In dieselfde jaar het my 95-jarige ou skoonmoeder sonder pyn stil heengegaan.
En steeds dieselfde jaar ... God het my seun gespaar na ‘n ernstige motorongeluk ... Ons kar is sleg in die ongeluk beskadig, maar my seun het sonder enige nagevolge oorleef.”
In haar laaste sin skryf sy: “ Verlede jaar ... was ‘n jaar vol buitegewone seëninge van God ... en ons het dit vol verwondering en dankbaarheid beleef...”

Uit watter perspektief sien jy die lewe? Uit selfbejammering of uit dankbaarheid?

Abraham Lincoln het gesê: “ Ons kan kla omdat roosbosse dorings het, of ons verheug dat doringbosse rose het.”

‘n Gospel-liedjie lui: “Count your blessings, name them one by one ... and it will surprise you what the Lord has done.”

Dankbaarheid is ‘n ingesteldheid, ‘n lewenstyl. Sien die klein dingetjies raak en moenie dit as vanselfsprekend aanneem nie.

Amore Bekker, die bekende radio-omroepster skryf:
“Klein, alledaagse vreugdetjies soos die son op jou gesig, die wind deur jou hare, ’n teksvers wat direk met jou praat, ’n vinkie se borrelliedjie in die tuin, jou man se goeiemôre-soen, jou kleinkinders se arms om jou nek, die reuk van jasmyn, ’n louwarm brood, die eerste koppie koffie soggens ... Ek sal sommer op die oomblik my hele boek kan vol skryf!

Selfs wanneer dit vir jou voel asof jy nie ’n enkele rede kan opnoem waarom jy vandag dankbaar behoort te wees nie, kan jy dankbaar wees vir Jesus. Dit is immers die boodskap van God se liefde vir jou wat Hy op aarde kom aflewer het, wat inhoud gee aan ons dankies. Ons het so baie - en elkeen van daardie dinge wat ons het, het ons van God ontvang. Kom ons onthou elke oomblik om vir Hom dankie te sê, want dankbare mense vind dit baie moeilik om moedeloos te bly.”

Kom bid saam: Hemelse Vader, help ons om ons oë van onsself af weg te draai en in dankbaarheid te kyk na al die mooi en goeie dinge waarmee U ons elke dag seën. Amen. 

[Dankie, ds. Ensie, dat jy hierdie met ons deel.]