Tuesday, 10 June 2025

Vertrou op Hom

Wat is die eerste beeld wat by jou opkom as jy aan gebraaide hoender dink? Vir die meeste mense is dit 'n foto van 'n bejaarde, bebrilde heer, in 'n wit pak en swart strikdas.

Kolonel Harland Sanders, is 'n man wie se lewe so kleurryk is soos sy bekende resep van 11 kruie en speserye. Hoe het Kolonel Sanders 'n ryk gebou wat vandag nog die wêreld van kitskos regeer?

Die geboorte van KFC het sy wortels in 'n Shell-vulstasie in Corbin, Kentucky, wat Kolonel Sanders in die vroeë 1930's geopen het. Depressie en WO11 was maar van die terugslae waarmee hierdie man moes rekening hou. Sanders was vyf jaar oud toe sy pa oorlede is en hy noodgedwonge moes leer kook om vir sy broers en susters te sorg. 'n Vaardigheid wat 'n passie geword het. As 12-jarige verlaat hy die skool om voltyds as plaasarbeider te werk. 

Hierdie moeilike begin in die lewe, het Sanders se karakter gevorm en hom voorberei om die stigter van KFC te word.

Die KFC-pad het baie hobbels en slaggate gehad en op die ouderdom van 66 het 'n byna bankrot Sanders deur die land gereis op soek na restaurante wat bereid was om sy resep te franchise. Hy het nie moed opgegee nie. Nee! Hy het van dorpie na dorpie en later van land tot land gereis om sy resep vir Kentucky fried chicken te verkoop. ʼn Paar jaar later was KFC die grootste kitskoswinkel in die wêreld. Hy het God vertrou en opgestaan en sy resepte gaan verkoop! 

Sanders verskyn in talle advertensies vir KFC, wat die gesig van die handelsmerk word. Hy het tyd en hulpbronne aan liefdadigheidsorganisasies wat kerke, hospitale, Boy Scouts en die Heilsleër ondersteun, gewy. In 'n merkwaardige gebaar van vrygewigheid het hy 78 buitelandse weeskinders aangeneem.

[Gaan lees gerus van sy moeilike kinderlewe, gebrek aan skoolopvoeding, verskillende soorte werke wat hy moes doen om den brode, maar ook hoe hy geglo het aan sy resep en nie geskroom het om klein treetjies te gee om sy droom te verwesenlik nie.] 

God verkies om dinge saam met ons te doen. As ons so saam met God die pad stap, gebeur daar dinge wat ons nie gedink het moontlik is nie. Omdat Hy dáár is, kán ons. Hy gee ons die moed om op te staan en te doen wat ons nie gedink het ons kan nie. Die feit dat ons op Hom kan vertrou, inspireer ons om ons vleuels wyer te sprei as wat ons alleen sou waag om te doen.

Onthou, omdat God dáár is, kán jy! Maak net seker dat waar jy wil gaan, God sal wil saamgaan.

[Verwerk]