Friday, 6 June 2025

Post-basaaraankope = werk

Terugskouend was Saterdag 'n heerlike kuierdag. Dit was ’n fees van vreugde, samesyn en dankbaarheid! Ons harte is propvol van waardering teenoor elkeen wat die dag 'n sukses gemaak het en vir dit wat tot op hede geïn is. 

So 'n terloopse gedagte ... Die basaargoed wat NA Saterdag verkoop is, spel en voorspel eintlik WERK vir die koper - dis natuurlik die siening van mense wat nie van die kombuis hou nie - hierdie mense koop alles klaar gaar, klaar verpak en klaar gereed vir eet by 'n basaar!

Foto's is ter stawing van die opskrif.

Die foto van die bottel met pannekoekdeeg (saam met Ben en Carina Badenhorst) beteken dat die deeg na pannekoek getransformeer moet word = werk. Carina sien dit egter nie so nie. Sy het lankal die terapeutiese waarde in 'n kombuis besef en dat die skeppingproses energie afgee. (Onthou om volgende keer vir ons foto's van die eindresultaat te neem en te stuur.)

Nog 'n foto van 'n post-basaaraankope is die foto van 'n yslike makataan en 4-liter pannekoekdeeg wat die koper dwing om 'n hele paar uur in die kombuis deur te bring.

Kitty Nathanson het egter opgewonde vir Coen en Annatjie vertel dat sy heel makataanstukke gaan kook, terwyl die ander hulle makataan in konfyt gaan omskep. (Klik HIER vir 'n resep of twee.)

Die omstanders wat geluister het, kon in die gesprekke hoor dat om bestanddele in produkte te omskep, 'n passie is wat ontspannend inwerk op die persoon agter die pan en pot. Die proses om met jou hande te skep, word skielik in ons moderne era van tegnologie herontdek. En die passie van skep, kon in hulle almal wat op die stoep by die koffiekan gestaan en gesels het, se oë gesien word.

En dit is hier waar die sukses van 'n basaar lê ... in die skeppers en die bakkers, maar ook in die kopers.

Dankie vir elkeen se bydrae!