Ons bid vir die pa’s, wat ten spyte van hulle eie tekort aan ‘n rolmodel, gedurig daaraan werk om ‘n waardige pa te wees vir hul kinders.
Ons bid vir die pa’s wat nie altyd daar kon wees vir hulle kinders nie, maar wat nou ekstra moeite doen om hulle kinders lief te hê en te ondersteun, selfs as volwassenes. Hiermee saam bid ons spesiaal vir pa’s wat deur die woorde en dade van hulle kinders gewond is en dit dikwels diep in hulle binneste wegsteek.
Ons bid vir elke pa wat ten spyte van onenigheid in sy huwelik, in sy kinders se lewens betrokke bly.
Ons bid vir die pa’s van kinders wat aangeneem is, wie se liefde en ondersteuning lei na ‘n vol lewe wat getuig van aanvaarding en behoort.
Ons bid vir dié wat as stiefpa’s die rol van pa moet vervul, en hierdie verantwoordelikheid vrylik kies. Ons is dankbaar vir die wat die titel van “vader” verdien het in hulle stiefkinders se lewens deur liefde en respek. Ons bid ook vir die stiefpa’s wat nog daaraan werk en soms daarmee sukkel.
Ons huil saam met elke pa wat ‘n kind aan die dood afgestaan het en aanhou om oor die kind te rou en die kind in hulle harte saam te dra.
Ons bid ook vir elke man wat geen kinders het nie, maar die volgende generasie koester as hulle eie.
Ons dra elke man in die gemeenskap aan God op wat ons as vader-figuur gelei het as mentor, onderwyser of reisgenoot.
Ons bid vir die mans wat op die drumpel van ouerskap staan, mag hulle vry en met vrymoedigheid hulleself oor hulle kinders verheug.
Ons bid vir die pa’s wat reeds gesterf het, wat in ons herinnering en verlange voortleef, wat aanhou om ‘n invloed op ons lewens te hê.
Ons is diep dankbaar dat U vir ons kom wys het hoe lyk ‘n perfekte Vader wat omhels, troos en liefhet sonder voorwaardes.
Seën elke pa en pa-figuur in ons gemeenskap Heer, waar vaders dikwels afwesig is.
[Gebed deur Kirk Loadman, vertaal deur Tilana Meyer-Morkell]