Wednesday, 25 June 2025

Mossiestilte: Ex. 15:2

Die Here is my krag en my psalm, Hy het my tot heil geword. Hy is my God,  Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. 

Opgeruimde woorde na die oorwinning, wat God vir die Israeliete gegee het; God se almag en uitkomste word besing deur Moses. 
Dis hoe God werk, Hy bewerkstellig die oorwinning in die geveg en gee aan jou die prys van die oorwinning. 
Die Here is 'n krygsman, Here is sy Naam. (vers 3)
 Almal het ontsag vir die Israeliete gehad en geweet dat hulle deur God beskerm word en voorgetrek word bo ander volke.
Dis wat God, vir jou vandag wil doen; jou voortrek, en met sy heerlikheid en guns belaai. 
Die geveg is God se deel en die oorwinning is jou deel; vat dit en verheerlik die grote Naam van God Almagtig met jubel en danksegging. 

O Here, ek wil sing tot u eer, want U is hoog en verhewe. U regterhand O Here, verpletter die vyand. In u grote hoogheid, werp U diegene neer wat teen U opstaan. Deur U guns het U my gelei en verlos. U het my deur U krag na u heilige woning gevoer. Here U sal regeer vir ewig en altoos. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]