** Die dominee was so vreeslik bang vir vlieg dat hy net kans gesien het daarvoor as hy 'n stywe dop agter die blad het.
Toe hy weer moes vlieg, vra hy op 5 000 m 'n dubbele brandewyn. Op 6 000 m was dit 'n driedubbele en op 7 000 'n vierdubbele.
Toe hy agterkom die vlieënier klim nog hoër, roep hy die lugwaardin nader. "Juffrou," vra hy, "hoe hoog is ons nou?"
"Hemelhoog, Dominee," skerts sy.
"Nou bring dan asseblief dadelik vir my 'n pepermentjie!"
** 'n Dominee is pas terug van 'n sinodesitting. Hy vertel diep beswaard vir die hoofouderling dat daar tydens die sitting beweer is dat hul gemeente op drie na die meeste alkohol van alle gemeentes verbruik. "Iets sal daaraan gedoen moet word," sê die dominee.
"Dominee, u is volkome reg," sê die ouderling. "Op drie na die beste is eenvoudig nie goed genoeg nie."
"Koos," vra die voorman aan die messelaar, "het jy nie 'n broer wat 'n predikant is nie?"
"Ja, Meneer," antwoord hy.
"En jy lê stene. Dinge is darem nie gelykop verdeel nie," sê die voorman.
"Nee, dit is nie," antwoord Koos. "My arme broer kan nie twee stene op mekaar lê om sy lewe te red nie."