Wednesday, 4 June 2025

Mossiestilte: Mal. 3:1

Kyk ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle almal 'n begeerte het. Kyk Hy kom, sê die Here van die leërskare. 

'n Voorspelling van die koms van Johannes, die boodskapper wat die weg voor God uit sal baan, en van Jesus, die Here na wie julle soek. 
God het 'n verbond met jou opgestel, 'n bloedverbond wat Hy nie kan verag nie.
Hy alleen het dit opgestel soos God dit met Abraham gedoen het terwyl hy geslaap het. 
Die ewige God het die verbond opgestel en jy het niks gedoen nie.
Hy is geslag vir jou sondes, om jou skuld af te was en jou te reinig.
God alleen, het met sy vuur tussen die geslagte diere deur beweeg en sy verbond met Abraham gesluit en bevestig; Abraham het niks gedoen, behalwe om te slaap. 

Here, so werk U met my. Ek is gereinig deur u bloed. U het geen deel van my bloed geëis nie. Jesus doop my met sy vuur, sy Heilige Gees. U herinner my daagliks aan u verbond met my, wat U aan die kruishout betaal het met u bloed. U verryk my in my slaap sê die Psalmis. Ek loof U, Here, die God van my heil. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]