Showing posts with label Daphné de Beer. Show all posts
Showing posts with label Daphné de Beer. Show all posts

Tuesday, 22 July 2025

67-noodsaaklike minute by Resthaven ouetehuis


Senior burgers of oumense soos daar dikwels in die omgangstaal na hulle verwys word - die mense wat hulle lewe gewy het om op te bou, hard te werk, uit te reik en kinders groot te maak ... hulle wat nie meer raakgesien word nie ... hulle wat uitgerangeer is uit die samelewing waar alles teen 'n vinnige tempo en nog vinniger leefstyl gekenmerk word ... hulle het ons hulp dringend nodig.

Die vergete aftree-oorde wat deur gedetermineerde en omgeepersoneel aanmekaar gehou word, skree die onbetrokkenheid van die gemeenskap uit. Daar is só baie dinge wat benodig word om net te oorleef.

Kimberley se besondere koue winter het die behoefte aan komberse en wintersklere onderstreep.

'n Uit-die-hart-dankie vir Rina Groenewald wat op die agtergrond gewoeker het om die eerste tree te gee om die winterknyp by Resthaven aan te spreek. 50 splinternuwe komberse val nie net uit die lug uit nie. Saam met haar, het Pula, Daphné en Lizzie gehelp om vir elke inwoner Mandela-dag spesiaal te maak. Saam met die snoesige komberse, is daar ook heerlike sop en broodjies uitgedeel, terwyl ds. William en sy vrou, Isabel, ook die Brood van die Lewe met die inwoners gedeel het.

Dankie vir elkeen wat hierdie uitreik spesiaal en moontlik gemaak het.

Thursday, 5 December 2024

Besoek en bid vir ons bejaardes in die ouetehuise

Baie eensame mense en bejaardes voer amper 'n kluisenaars bestaan, selfs bejaardes wat in ouetehuise is, word vergeet. Geestelike en emosionele armoede is aan die orde van die dag. Dit is die een aspek wat aangespreek kan word, sonder addisionele kostes.

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer voel en ervaar hulle dat hulle deur die samelewing uitgeskuif en vergeet word. Hierdie mense het toe hulle jonk was, hulle kant gebring waar dit nodig was. Maar ongelukkig neem die waarde van 'n bejaarde af in die oë van die wêreld. Grysheid het skielik 'n diskwalifikasie geword.

Hierdie is van die gewaarwordinge met 'n besoek aan Resthaven. Daar is 'n behoefte aan vrywillige werkers wat 'n boodskappie kan bring of sommer net tussen die inwoners kan kuier of langs 'n siek bed sit en iemand se hand vashou. 

Desember is 'n uitreikmaand - kom ons sluit Resthaven in.


Duisend dankies Rina, Daphné, ds. William, Isobel, Pula en Lizzie!

Dankie, Ds. William vir die ekstra myl

Friday, 2 August 2024

Sally Aucamp salueer 'n hartsmens

Allan was 'n man met 'n fyn waarnemingsvermoë, iemand wat gehoorsaam geluister het na die stem van God en Sy opdragte uitgevoer het. (Lees HIER die verhaal waar Allan God se afspraak met 'n kind nagekom het - die rolmodel van hoop.) 

Hy kon probleme aanvoel en raaksien en met sy omgeehart het hy opgetree. Hy is iemand wat spore in ander mense se harte gelos het. Om sy uitreikdrome te laat realiseer, het hy hande en voete nodig gehad en dit het hy gevind in die persoon van Rina Groenewald. Saam-saam het hulle twee berge versit, beplan en gewerk. Ander helpers is dikwels ingetrek en het as 'n span saamgewerk, met Allan as die kop. Rina Groenewald, Natalie Willemse, Daphné de Beer en Endry Strauss was deel van sy span.

Allan mog fisies gestremd wees, maar hy het nie gestremd gedink en uitgereik nie. En vanuit sy rolstoel was sy uitreikboodskap aan die mense wat sy pad gekruis het, kragtig.   

Allan is sedert 2016 'n inwoner van Sally Aucamp, 'n tehuis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede. Hy is 'n boorling van Upington en na sy skoolloopbaan in Kimberley is hy terug Upington toe waar hy sedert 2001 by die plaaslike radiostasie betrokke was. Sy passie vir uitreiking het daar begin en die radiostasie het uitreikingsprogramme gehad nadat die behoeftes in die gemeenskap geïdentifiseer is.

Allan se raad aan sy luisteraars was altyd om na jou hart te luister en mag daardie raad na sy dood voortleef. 

Allan: "Daar waar jy kan help, moet jy help. Ons is op aarde geplaas om die spreekwoordelike persoon langs jou se nood ligter te maak." 

Allan, jy sal voortleef in die harte van die mense wat jy gehelp het en in die harte van hulle vir wie jy 'n mentor en 'n rolmodel was. Jou nagedagtes sal geëer word.

Lees HIER, HIER en HIER van sy berigte. 

Sunday, 14 July 2024

Madiba-dag: Allan se pad met Bophelo-kinderhuis

Allan het 'n omgeehart groter as 'n rugbybus vol Griekwa-ondersteuners. Hy is die afgelope jaar baie nou betrokke by Bophelo Kinderhuis in Herlear. Sy hande en sy voete is Rina Groenewald wat hom ondersteun in wat hy ookal vir hierdie babas en kinders beplan en doen.

Hulle het besluit om Madiba-dag met amper twee weke te vervroeg sodat hulle die gebreide warm truitjies, slaapsokkies en ander warm babagoedjies voor die koue by die ontvangertjies kon uitkry. Hierdie is nie 'n eenmansprojek nie en skenkers het na vore gekom om vlerke aan Allan se droom te gee. 'n Tannie van 96 jaar het kliphard aan hierdie truitjies gebrei. Saam met die warm klere en warm harte het hulle die kinders op warm brakke en 'n pakkie lekkergoed getrakteer. Niks is mos vir 'n kind lekkerder as daardie soetigheid wat hulle energie 'n goeie hupstoot gee nie.

Allan kon tot sy groot teleurstelling nie die uitstappie meemaak nie, omdat griep hom platgetrek het. Hy is nietemin goed verteenwoordig deur Rina Groenewald, Natalie Willemse en Daphné de Beer wat ook gereelde besoekers by Sally Aucamp is. Wian Willemse leer sommer van kleins af wat dit beteken om uit te reik as hy die plekke saam met sy ma besoek.

Allan se droom is dat elkeen 'n hand sal uitsteek om die een langs hom of haar in nood se dag op 'n manier ligter te maak. Dit is tog mos hoekom ons op aarde geplaas is.

67 minute is 'n baie klein deeltjie van jou tyd wat jy kan gebruik om uit te reik, om te doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is. 

Lees die oorspronklike berig met foto's van 5 Julie HIER!

Friday, 5 July 2024

Sally Aucamp reik na Bophelo-kinderhuis uit!


18 Julie - Mandela-dag - is vervroeg. Die koue wat nou met mening toegeslaan het en sy spreekwoordelike tande ingeslaan het, is daarvoor verantwoordelik. Allan Visagie se 67 minute uitreikaksie na Bophelo-kinderhuis was 'n groot sukses. Op hierdie stadium is daar 10 babas en 10 groterige kinders in die huis. Bydraes is ontvang van 'n 96-jarige dame wat warm truitjies gebrei het, Endry Strauss en Rina Groenewald het slaapsokkies vir die koue voetjies gebrei, en allerlei ander babagoed het hulle weg na Bophelo gevind. 

Allan is ongelukkig in die bed met griep, maar soos 'n goeie organiseerder betaam, het hy reëlings getref dat hierdie warm klere betyds by die ontvangers uitkom, saam met heerlike eetgoed, 'n pakkie lekkergoed vir elk en worsbroodjies.

Die twee huismoeders, Sanna Seekoei en René Beukes, is twee omgeemense wat nie sal skroom om die ekstra myl te loop nie. Hulle is die hart van Bophelo-kinderhuis. Mag hulle baie krag en genade ontvang om hierdie groot taak met ywer te doen.

Rina Groenewald, Daphné de Beer, Natalie Willemse en Wian Willemse het Allan se skoene gaan volstaan en saam met die inwonertjies gekuier.  

Thursday, 21 December 2023

Kersete by Sally Aucamp


Die Sally Aucamp-familie het heerlik gesmul aan die uithaler-kersete in die vorm van 'n braai.  Ds. Ensie Enslin van Dutoitspan het die Kersboodskap gebring en met al die kommersiële aktiwiteite rondom Kersfees, is dit so maklik om die ware boodskap van Kersfees te vergeet. Daarna het Marius Willemse die inwoners met pragtige liedere en spesiaal Kersliedere bekoor. 

Elkeen het baie spesiaal gevoel toe die Kersgeskenke uitgedeel is. Baie dankie aan Rina Groenewald vir net mooi ALLES! Dit is só lekker dat sy elke week saam met die inwoners kuier. 'n Groot dankie vir elkeen wat vandag spesiaal gemaak het. 'n Sally Aucamp-dankie aan Rinus Slabbert, Natalie Willemse, Marius Willemse, Hennie Groenwald, Daphné de Beer en ds. Ensie.

Daarna het almal heerlik onder die afdak gesit en gesels.




Klik HIER vir nog foto's van die Kersbraai.